Kobus
Net toe ek ons vleisies op die kole geplaas het, lui my selfoon. Dit is tant Odie, ons tante van amper 82 van George. “Jong, ek het vanmiddag so aan jou gedink,” sê sy. “Daardie frikkadelle wat Amore op RSG gegee het, is lekker, maar ek het nou ‘n resep wat vir niks skrik nie.” Sy vra of ek pen en papier het want sy weet dat ek nie alles sal kan onthou nie.
Die eerste wat ek moet doen, is om by ‘n goeie slagter 500 gram maer beesvleis te gaan koop. “Maak tog seker dat dit ordentlik gemaal is en dat dit maer is”, skryf sy my voor. Neem dan twee snye wit brood en sit dit op ‘n gewone bord. “Maar met ek nie eerder bruin brood neem nie”, val ek haar in die rede. Nee, dit moet lekker wit brood wees. En gaan sy voort, ek moet nou een groterige wit ui fyn rasper oor die brood sodat die stukkies en die sap lekker kanintrek in daardie twee snye wit brood. Laat dit so vir’n paar minute staan sodat dit lekker nat kanword van die uiesap. “En dan, Kobus, dan meng jy die brood met die maalvleis. Jy moet dit goed meng”, gaan sy voort. As ek so halfpad daarmee is, moet ek twee teelepels Chutney en twee teelepels gemengde spesery bygooi. Verder moet ek pietersielie fyn kerf. “Vra vir Cecile om dit intussen vir jou te doen. Gooi nou so ‘n hand vol daarvan ook in die mensel. Sout en peper kan jy maar na smaak byvoeg. En dan werk jy alles deurmekaar totdat jy sien die tekstuur lyk nou lekker lig en los van mekaar.”
Die volgende is nou om frikkadelle te vorm. “Maar moenie die goed harde gholfbolle maak nie. Die geheim is dat hulle liggies gevorm moet word,” gaan sy voort. Intussen skryf ek maar op die ou koerant wat hier by die braaiplek lê.
“En dan?”,vra ek. “Jy pak dit netjies in ‘n bak, gooi net ‘n titseljie water in die bak. Sit dit in die voorafverhitte oond – 180 grade. En dan bak jy dit so vir ‘n driekwartuur of langer. Maar jy sal mos sien as dit gaar is. Haal uit en dien dit op met daardie heerlike kapokaartappels wat jy so goed mee is.”

Hierdie week sal ek die resep beslis moet uittoets. As ek nie al reeds die skaaptjops op die rooster gehad het nie, sou ek beslis hierdie frikkadelle dadelik gemaak het.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 18,057 times, 14 visits today)
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Post Navigation