Die Eerste Week

Na die eerste week in die Weermag het my lewe heeltemal verander.

Die lekker beskermde lewe wat ek geniet het in my ouerhuis het nie meer bestaan nie. Die eerste plek wat ek agtergekom het my lewe het verander is in my naam. Ek kon nie onthou wat my naam was nie, want almal het my bleddie roof, of rofie genoem. Naderhand het ek gedink dat my naam seker deur die regering verander is sonder om my in kennis te stel.

Dit is nogal ʼn groot kulturele skok om in die middel van die kookpot ingegooi te word. Daardie eerste paar dae leer jy baie dinge. Die eerste ding wat ek geleer het is dat dit nie normaal was om te loop nie. Ons het gehardloop van ons bungalows na die eetsaal, van die
eetsaal parade grond toe. So het ons van die een punt na die ander punt gehardloop.

Nou word ons ook geleer deur ons hoog agtige korporaal dat die weermag so goed is vir ons dat hulle sommer gesorg het dat ons ʼn vrou kry en trou. Ons vrouens was natuurlik van staal en net ʼn paar pond weeg. Jy slaap saam met jou staal vrou, dra haar saam toilet toe, gaan eet saam met haar en maak haar so nou en dan skoon. Jy moes ook haar naam (nommer) uit jou kop ken.

Dag en nag het hulle jou gevra wat is jou geweer se nommer en dan moes jy die nommer vir die korporaal gee en hy het natuurlik jou geweer gevat en gekyk of jy die waarheid praat. Behoede jou siel as jy die verkeerde nommer gegee het. Dan was dit sommer push-ups of hardloop na die naaste boom of een of ander vorm van fisiese sinnelose straf.

Een van die oefeninge wat ons moes doen om te kyk of ons, ons gewere se nommers geken het, het die korporaal ʼn seksie (10troepe) gesê om hulle gewere op ʼn hoop te gooi. Dan op sy bevel moes ons dan die gewere stormloop. Dan moes jy ʼn geweer gryp, na die nommer kyk en kyk of dit jou geweer is. As almal nie hulle eie gewere gehad het nie, of as die ons dalk te lank gevat het om ons gewere te kry, het madam korporaal besluit dat ons na die vêrste boom toe moes hardloop.

Nou moet ek sê dat ʼn troep iemand is wat baie innoverend is. Na so paar keer se hardloop het ons seksie besluit dit is nie meer vir ons nie. So in die hardloop besluit ons dat ons net ʼn geweer gaan gryp, daardie geweer se nommer in die paar sekondes memoriseer. So gesê so gemaak. Die korporaal het ons weer die oefening laat doen. Elkeen gryp ʼn geweer en memoriseer daardie nommer. Die korporaal kom en vra so paar mense wat hulle gewere se nommer is. Elkeen rammel die regte nommer af. Die korporaal was so trots op ons. As die arme siel maar net geweet het dat ons hom so lekker verneuk het. Ek hoop eindelik hy lees
die stuk en dan kan hy sien dit is nie hy wat so slim was nie, maar dat ons eindelik die septer geswaai het.

Die eerste keer toe ons, ons vrouens skietbaan toe geneem het was ʼn ramp. Al die oumanne, dit is nou manne wat al amper klaar is met hulle opleiding en wag om uit te klaar, het die aand voor die tyd na ons bungalows toe gekom om raad te gee. Hulle raad aan
ons was om die gas van ons gewere amper toe te maak. As ek reg onthou was dit om die gas op nommer een te draai. Hulle raad vêrder aan ons was dat ons moet die gewere se kolwe nie styf teen ons skouers moet trek nie.


Op die skietbaan doen ons alles wat die korporaal vir ons sê behalwe om die gas te stel en om die kolwe teen ons skouers vas te trek. Die vriendelike oumanne het mos vir ons gesê wat ons moet doen. Dooie hel, toe die eerste skote klap hoor jy net bleddie hel so op die ry af. Gewere val omtrent uit jou hande uit. Net daar kom ons agter die oumanne het liederlik vir ons gelieg. As die gas afgedraai is en die geweer nie styf teen jou skouers is nie, skop die geweer die dinges uit jou uit.

So is die oumanne nie meer so vriendelik nie en daar word planne beraam en gesmee om hulle terug te kry. Die oumanne het geweet wat ons dink en ons het weer tweede daarvan afgekom. Daarna het ons besluit om hulle maar te ignoreer.

Die mees beoefende sport in die weermag na elk inname was “Kom ons bevark ʼn rower”. ʼn Sport wat ons ook baie goed bemeester het toe ons rowers ingekom het.

(Visited 74 times, 1 visits today)
Advertisements

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui