Dear Johny

Kommunikasie van watter aard ook al is baie belangrik vir die troepe. Dit hou hulle so op ʼn manier gebind aan die werklikheid van die siviele lewe. In die basisse kon mens radio luister, so nou en
dan ʼn paar weke se ou koerante in die hande kry. Alles is verslind. Baie kere is die kommunikasie middele soos koerante, boeke, tydskrifte en radio’s van een groep na ʼn ander groep oorgeplaas.

As ek so dink aan paar van die tydskrifte wat in omloop was, was dit geen wonder dat ons oggend koffie so ʼn blouerige skynsel ingehad het nie. So met ander woorde enige nuus was belangrik gewees.

Nog so iets oor kommunikasie is dat ons nie daardie tyd selfone en e-pos gehad het nie. Ons as troepe kon nie huis toe bel nie. Al ons briewe wat geskryf is, is deur offisiere gelees en enige negatiewe
kommentaar of gevoelens is doodgetrek met dik swart penne. Enige verwysings na waar ons is, is ook heeltemal doodgekrap.

As bewys dat die briewe gelees is, is daar so ʼn stempel agter op die briewe geplaas, nl. CENSORED. So in ʼn mate is ons kommunikasie en vryheid ingeperk.

Ons was besig met ons opleiding, net so noord van die Etosha wildtuin gewees. Ons kon op daardie stadium ook daar gestasioneer gewees het. Ek kan nie meer mooi onthou nie. Dit was posdag en almal was baie opgewonde gewees. As jy jou pos gekry het, het jy na ʼn stil plekkie gegaan, waar jy alleen met jou
briewe en so ook alleen met jou geliefdes kon wees. Die volgorde van die lees van die briewe was, liefie se brief, daarna Ma en Pa se brief en dan alle ander briewe.

Daar hang so stilte na die pos uitgedeel was. Elkeen in sy eie hoekie met sy eie gedagtes en verlange. Niemand sal dit erken nie, maar daar is meer as een traan van verlange gestort tydens so brief lees
sessie. Mens het ook partykeer gevoel en vat die pad terug huis toe, want die verlange is erg.

Die een man kry mos die dag ʼn Dear Johny. (Vir die mense wat nie weet wat ʼn Dear Johny is nie wil ek net noem, dit is ʼn brief waarin ʼn vrou haar geliefde afsê. Ons was maar almal half bang om ʼn Dear Johny te kry.) Sy vrou vertel hom dat sy wil skei. Ek kan my indink hoe moes daardie man gevoel het.

Hier sit hy, verlang na sy vrou en hier kry hy ʼn Dear Johny. Hy was baie down gewees, maar niemand het iets agtergekom nie, want na die briewe gelees is, was almal down gewees.

Met enige probleme wat ʼn soldaat gehad het, kon hy na die kapelaan gegaan het en dit met die kapelaan bespreek het, of hy kon met sy offisier gepraat het. Maar die man het verkies om stil te bly en nie daardie roete te volg nie. Die volgende oggend toe ons wakker word kom ons agter dat die man weg is. Ons soek orals in die kamp en kry niks. Naderhand kom ons agter dat daar van die mense wat saam met hom in die tent geslaap het, se waterbottels is weg.

Een offisier het agtergekom sy vêrkyker is weg en nog iemand het agtergekom sy kompas is weg. Ons sammajoor het toe twee en twee bymekaar gesit en agtergekom die man het die pad gevat en het weggeloop. ʼn Spoorsnyer is gekry en het die man se spoor gevat. ʼn Paar kilos van ons Basis af is die arme siel opgespoor.

Ons bevelvoerder het met die man gepraat en hy het uitgekom met die hele sak patats. Die bevelvoerder het toe besluit om die man op die volgende vliegtuig Pretoria toe te sit sodat hy sy probleme kan
gaan uitsorteer. Hulle het hom nie aangekla nie.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 203 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *