Romeine 6:1-14

Austin Higgs

Ek deel vanoggend ‘n gedagte van Dr. Caroline Leaf met jou. Sy is die skrywer van boeke soos ‘Switch on Your Brain’. Sy skryf: “The greatest gift God has given us is His Son. The other greatest gift is the ability to think and choose. When you are thinking, you are evaluating, you are intellectualizing, you are choosing.” Hoeveel van ons dink daaraan om God te dank vir ons vermoë om te dink of dat ons keuses kan maak? Dit is dinge wat ons as vanselfsprekend aanvaar, maar kom ons raak vandag vir ‘n paar oomblikke stil voor die Here en dank Hom vir hierdie wonderlike geskenke wat Hy ons gegee het.

EERS JAAG SY – NOU VLUG SY.

Romeine 6:1-14: “Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus” (vs. 11).

‘n Jong meisie het by haar plaaslike kerk aansoek gedoen om lidmaat van die kerk te word. Die kerkraad moes haar toets om vas te stel of sy voldoen aan die geloofsoortuiging wat hulle van lidmate verwag. Die ouderling wat haar ondervra begin met die belangrike basiese vraag: “Het Christus ‘n verskil in jou lewe gemaak?” Sy antwoord positief; dit is sekerlik so. Die volgende vraag is ‘n moeiliker een: “Doen jy nog sonde?” Die jongmeisie erken dat sy wel nog sonde doen. Nou vra die ouderling: “As jy sonde gedoen het voor Christus in jou lewe gekom het, en jy doen steeds sondes na Hy in jou lewe gekom het, watter verandering het Hy dan in jou lewe gemaak.” Sy oordink die vraag ‘n rukkie, dan antwoord sy: “Meneer ek dink dit is so: voor Christus in my lewe gekom het, het ek agter sondes aangejaag. Dit was vir my lekker. Na Christus in my lewe ingekom het, vlug ek vir die sondes. Soms haal hulle my nog in, maar ek is skaam en hartseer as dit gebeur.”

Dit is die bemoediging wat God se Woord ons gee: “Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, Sy Seun, ons van elke sonde. As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid…as een van ons sondig – ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader. Hy is ‘n versoening vir ons sondes…” (1 Johannes 1:7 – 2:2).

Here, vandag bely ek my sondes aan U.

(Visited 109 times, 1 visits today)
Advertisements

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui