Handelinge 13:44-52

“Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word” (Hebreërs 4:16). In ‘n gemeenskap waar elkeen vir sy eie sukses verantwoordelik is, is mense trots daarop dat hulle weet hoe om persoonlike teenstand tot hulle voordeel te benut. Ons is trots op ons individualisme, ons ruwe dryfkrag. En ons vergeet die belangrikste gesindheid: ons moet op ons knieë voor die Here staan. Iemand wat die Here só ontmoet, besef hy is hulpeloos. So iemand laat die Here toe om hom te help.   (Max Lucado)
.
Austin Higgs

Evangelie aan die Heidene – Handelinge 13:44-52

Dikwels gebeur dit in ‘n gemeente, dat nét wanneer dit vir jou lyk asof dinge mooi in plek val, en alles mooi begin loop in die gemeente, dan kom daar ‘n paar dwarstrekkers en versuur alles. Soms is so ‘n “terugslag” baie nodig om die gemeentelede bymekaar te bring en te laat besef hoe nodig dit is om as gemeente goed te funksioneer.

Na Paulus se eerste preek in die sinagoge in Antiogië, is die mense baie opgewonde. Wat hulle daardie oggend gehoor het, het hulle baie diep geraak, en die woord het versprei. Die volgende Sabbat kom Paulus en Barnabas by die sinagoge aan om weer met die mense te praat. Hulle kan hulle oë nie glo nie as hulle feitlik die ganse stad bymekaar sien by die sinagoge. Almal het verneem van die twee manne se wonderlike boodskap, en almal wil vir hulleself kom hoor waaroor dit gaan.

As ons praat van die hele stad, dan beteken dit natuurlik dat daar ‘n groot aantal heidene bymekaar was. En hiervan het die Jode glad nie gehou nie. Hulle is baie jaloers op hulle Godsdiens, want húlle is immers die uitverkore volk! Hulle verdra nou wel die enkele “Godvresendes”, mense wat hulle van die heidendom bekeer het en die Joodse geloof aangeneem het. Maar hulle wil darem nou nie oorstroom word deur ‘n spul heidene nie! Lukas skryf hier dat die Jode “met afguns vervul is” (v. 45). En wat doen jy as jy met afguns vervul is? Jy slinger beskuldigings en jy beledig! En dit is presies wat hierdie Jode begin doen.

Paulus preek dat die biesies bewe en die heidene is baie opgewonde oor wat hulle hoor. Hierdie nuwe Godsdiens wat hy verkondig is so verfrissend anders as die afgodsdiens waarin hulle vasgevang is. Om afgode te aanbid vra van jou om allerhande dinge te moet doen om die gode tevrede te stel, sodat hulle iets vir jou terug sal doen. Jy moet duur offerandes bring sodat die gode vir jou reën of oeste of kinders sal gee, as iemand hulle nie per ongeluk kwaad gemaak het nie.

Paulus verkondig verlossing en bevryding van al hierdie verskriklike kettings wat jou bind. Daar is nou nie meer ‘n klomp reëls wat eers nagekom moet word voordat die gode met jou gelukkig is nie. Al wat God vra is dat jy in ‘n persoonlike verhouding met Jesus sal staan.

Die heidene is in die wolke! Die Jode is briesend!

Terwyl Paulus nog preek, begin van die Jode te skree dat hy lieg! Hulle begin links en regs beledigings te slinger, en probeer so om sy preek te verongeluk. Klink dit nie baie bekend nie? Wat gebeur deesdae in ons parlement?

Later kan Paulus dit nie meer vat nie, en hy vertel vir hierdie Jode waar Dawid die wortels gegrawe het. Inderdaad het hy héél eerste begin preek in die sinagoge, waar hy geweet het hy hulle, die Jode sou kry. Hy het nie by die heidene begin nie, maar by die Jode, want die Woord móés eerste aan hulle verkondig word. Hulle is immers die uitverkore volk van God!

Maar wat doen hulle daarmee? Hulle vertrap dit! Hulle verwerp die Evangelie! Hulle verwerp Jesus, die Verlosser, die Seun van God! En dit beteken uiteraard dat hulle baie beslis nie die ewige lewe beskore is nie. Saligheid kan jy alleen kry deur in Jesus te glo. Baie jare later sou Johannes in ‘n brief skryf dat as jy die Seun het, jy die ewige lewe het, maar as jy Hom nie het nie, dan het jy beslis ook nie die ewige lewe nie (1 Joh. 5:13).

Dan verduidelik Paulus en Barnabas vir hierdie mense dat hulle van nou af na die heidene sal gaan met die Evangelieboodskap, want Jesaja het immers in Jes. 49:6 geprofeteer: “Ek het U gegee as ‘n lig vir die nasies sodat U verlossing kan bring tot in die uithoeke van die aarde.” Hiermee het God honderde jare gelede al gesê dat die Evangelie nie net vir Jode is nie, maar vir alle mense.

Die heidene is in die wolke, want nou kan hulle ook deel hê aan hierdie, tot nou toe eksklusiewe Godsdiens. Daar gaan ‘n groot gejuig op. Maar nie almal is ewe opgewonde nie. Die Jode het ‘n nederlaag gely, en dáárby sal hulle dit baie beslis nie laat nie. Hulle gaan gesels met al die vooraanstaande manne van die stad en hulle maak die pap baie dik aan oor hoe gevaarlik hierdie twee manne nou eintlik is, en dat hulle besig is om ‘n vals Godsdiens te verkondig. En so sweep hulle almal op wat iewers Joodse bande het, selfs die vrouens!

Die uiteinde van die saak is dat ‘n woedende skare Jode vir Paulus en Barnabas soos sleg honde uit die stad uitjaag. Wat sou jy doen as jy so weggejaag word? Ek sou beslis baie seergemaak voel! Hierdie twee skud bloot die stof van hulle voete af as ‘n gebaar teen die stad, en dan stap hulle opgewonde na die volgende stad, want dáár wag splinternuwe uitdagings op hulle.

En die mense van Antiogië? Die Jode het nors Jode gebly! Maar die heidene het die Evangelie met blydskap aangeneem en die Woord versprei dwarsdeur die hele streek! Die vraag is: wat doen ek en jy met die Evangelie? Hou ons dit jaloers vir onsself of deel ons dit met almal wat ons teëkom?

Dankie Hemelvader dat U die ewige lewe aanbied vir alle mense en nie slegs ‘n paar eksklusiewe mense nie.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 149 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *