INDIESE KERRIE AARTAPPEL IN EIERVRUGSKILLE MET JOGURT

Die aartappel of “aloo”, soos dit in baie Indiese tale bekend staan, is ‘n belangrike bestanddeel vir die groot vegetariese Hindoe bevolking. Die gereg lyk nie net aantreklik nie, maar smaak ook heerlik.

Bestanddele
2 groot eiervrugte
sout om bo-oor te sprinkel
500g blusaartappels, geskil en in blokkies gesny
120ml sonneblomolie
15ml komynsade
5ml sesamsade
1 ui, fyngekap
1-2 knoffelhuisies, gekneus
1,5ml fyn gemmer
1 vars groen brandrissie, ontpit en fyngekap
2,5ml borrie
5ml koljander
5ml aangemaakte mosterd
2,5ml sout
30ml suurlemoensap

OM VOOR TE SIT
60ml natuurlike jogurt
garam masala, om bo-oor te sprinkel
30ml vars koljanderblare, gekap

Metode
Sny die eiervrug middeldeur in die lengte. Skep die eiervrugvleis uit met ‘n lepel sodat ‘n lagie vleis teen die skil behoue bly ongeveer 5mm dik (wees versigtig om nie die skil te beskadig nie). Sny die eiervrugvleis in 1,5cm blokkies. Sprinkel sout aan die binnekant van die eiervrugskil en plaas skil in vergiettes met gesnyde kant na onder. Versprei die eiervrugblokkies eweredig op ‘n bordjie, sprinkel nog sout bo-oor. Laat staan vir 30 minute, spoel goed af en druk liggies droog met kombuispapier. Verhit soutwater tot kookpunt, voeg aartappelblokkies by en laat 5 minute kook. Dreineer en laat afkoel.

Plaas die eiervrugskille op ‘n bakplaat, gesnyde kant na bo, bestryk met 30ml van die olie en bak in ‘n voorverhitte oond teen 190C vir 10-15 minute of tot sag. Verwyder uit oond en plaas eiervrugskille, gesnyde kant na onder, op ‘n bordjie sodat oortollige olie kan dreineer. Verhit nog 30ml van die olie in ‘n groot braaipan, voeg die komyn- en sesamsade by en sodra dit begin skiet, voeg die ui, knoffel, gemmer en brandrissie by. Roerbraai vir 2-3 minute en voeg die eiervrugblokkies by. Braai vir 4-5 minute of tot net gaar, roer af en toe en voeg nog olie by indien nodig. Voeg die borrie, koljander, mosterd, sout en aartappels by en roerbraai 5-6 minute of totdat die aartappels goudbruin is. Verwyder van die hitte en roer die suurlemoensap by. Geur na smaak. Plaas eiervrugskille op bakplaat, gesnyde kant na bo. Verdeel aartappelmengsel in vier eweredige gedeeltes en skep in eiervrugskille. Bak ‘n verdere 10 minute of tot deurwarm. Sit dadelik voor met die jogurt, sprinkel ‘n bietjie garam masala en gekapte vars koljander bo-oor. Bedien 4 porsies.

(Visited 131 times, 1 visits today)
Advertisements

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui