Jesaja 6:1

DIE KONING MOET EERS DOODGAAN.

Jesaja 6:1 vertel ons: “In die jaar van koning Ussia se dood het ek die Here gesien. Hy het op ‘n baie hoë troon gesit, en die onderste van Sy kleed het die tempel gevul.” Lees asseblief Jesaja 6:1-8 ter ondersteuning van die uitgewysde Skrifgedeelte.

In Jesaja se lewe moes die koning eers doodgaan voordat hy die Here kon sien. Daarna het God hom geskik gemaak om Sy werk op aarde te doen.

In vandag se lewe is daar baie mense wat verskillende konings het wat hulle lewens oorheers. Die konings wat mense se lewens beheer kan insluit dobbel, alkohol, dwelms, pornografie, buite-egtelike verhoudings, onvergewensgesindheid en dies meer.

Om die Here te kan sien, moet hierdie koning van dobbel, alkohol, dwelms, pornografie, buite-egtelike verhoudings en onvergewensgesindheid eers in ‘n mens se lewe doodgaan. Jesus Christus red ‘n mens van hierdie koning in jou lewe en Hy word die Koning van alle konings. Johannes 5:24 sê: “Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan.” Romeine 8:1 bevestig dat daar geen veroordeling is nie vir hulle wat in Christus Jesus is.

Die enigste teenmiddel vir die gif van die Satan is die bloed van Jesus. Sien, Romeine 10:10-11 leer ons: “Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered. Die Skrif sê tog: “Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie.”

Here, my God, help my asseblief om die konings wat daar in my lewe is te indentifiseer en laat doodgaan sodat Jesus Christus in my kan lewe. Sonder U hulp is ek tot niks in staat nie. Dankie, Here, dat U my ‘n beter mens maak soos U my wil hê in Jesus Naam. Amen.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 67 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui