Eksodus 31:18:

VINGER VAN GOD.

Eksodus 31:18: “En Hy het aan Moses, toe Hy geëindig het om met hom te spreek op die berg Sinai, die twee tafels van die Getuienis gegee, tafels van klip, beskrywe met die vinger van God.”

Dis seker een van die sterkste tekste in die Bybel. Die Woord leer ons dat die wet verstaan moet word en dat ons dan sommer maklik sê ons is onder die genade en nie onder die wet nie. Ons sê net so maklik dat iets uit die Ou Testament kom en dit verander in die Nuwe Testament, omdat Jesus dit vir ons kom duidelik maak het.

Ja dit is alles waar, maar dit maak die wet nie ongedaan nie. Dit beteken nie dat ons ons nie aan die wet hoef te steur nie. Hierdie deel verduidelik baie duidelik dat dit deur God Self geskryf is en as ons so ‘n bietjie na die beeld hiervan mag kyk, lyk dit asof die Here met Sy vinger aandui hoe dat ons moet leef – so rigting aandui hoe ons ons lewens moet inrig.

Snaaks, Hy doen dit nie met iemand se mond of met iemand anders se vinger nie, maar met Sy eie vinger skryf Hy ‘n brief aan ons en verklaar Sy wil.

Is dit nie verder verstommend hoedat die Almagtige God, wat die aarde geskep het en die hemelruim in Sy handpalm vasgevang het, Homself afbuig en met Sy volk bemoeienis maak – Self met hulle praat en vir hulle dingetjies skryf op klip – dat niemand dit kan uitvee nie. Moses het dit nou wel stukkend gegooi en toe weer nuwes gaan haal, maar ook dit maak dat God so graag deel van ons lewe wil wees.

Vader, dankie dat ek nie so nietig is dat U nie verby my kyk nie, maar my as U volk raaksien en persoonlik met my praat oor die weg wat ek moet loop, in Jesus Naam. Amen.

(Visited 60 times, 1 visits today)
Advertisements

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui