VAN ALTYD AF!

Jesaja 63:16b: “U is steeds ons Vader, Here. Van altyd af is U Naam: ‘Ons Redder'”.

Is vandag weer een van daardie dae vir jou? Jy weet mos, alles loop verkeerd: een van die kinders se skoene is weg. Die ontbytpap of roosterbrood verbrand. Jy kry nie jou motorsleutels op die gewone bêreplek nie. Die hek sukkel alweer om oop te maak of wil nie lekker toe nie. Al wat ‘n verkeerslig is, is of rooi teen jou of werk nie. Die verkeer is erg ontwrig, en jy ook. Elke tweede taxi moet by jou verby skuur net om reg voor jou stil te hou! By die kantoor is die melk vir koffie suur. Jou kollega grom ook vir jou. En dan bel die bank ook nog om te sê jy moet asseblief geld in jou kredietkaartrekening inbetaal, dit is te ver oortrek.

Hoe kom ‘n mens uit al hierdie situasies uit en jy kan nog glimlag en goed voel en ander mense opbeur? Maklik: jy sê net saam met Jesaja: U Naam is Ons Redder!

Toegegee, daar kan erger dinge op jou pad kom om jou te beproef. Maar onthou wat in Psalm 34 staan: “… uit alles red die Here hom…”. En Jesaja bevestig dit. Ook die Here Jesus sê in die Onse Vader dat die Here ons verlos uit versoekings wat die Bose op ons pad bring. Nie een van hierdie drie getuies sê dat jy nie beproef en versoek sal word nie, nee, hulle bevestig net dat die Here jou daaruit red en jou die krag gee om die situasie so te hanteer dat jy as die wenner, die sterker een anderkant uitstap! En Hy doen hierdie reddingswerk al van altyd af. Lankal terug, nog voor jy dit nodig gehad het, het Hy al jou redding uit hierdie situasie bewerkstellig!

Wonderlike Here, dankie dat U van altyd af my Redder is! In Jesus Naam.”Hou U liefde oor ons, Here, want ons stel ons vertroue in U” (Psalm 33:22). Here, gee my U krag wanneer ek meer soos Jesus wil wees, ook wanneer ek by die huis is. Ek bid U, bewaar my van die bose. Hou my naby U. Laat ons gesin ‘n getuienis uitleef: dat U ons liefhet. Wanneer mense dan na ons kyk, sal hulle ook kan sien hoe lief U die wêreld het. Amen.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 47 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Post Navigation