“En verlede jaar was ek ook gelukkig genoeg om die eerste Indiër te word wat in ’n christen kerk trou” vertel hy.
Sy pa se drome “Die Hindoe-hartland,” beskryf Rajesh die streek waar hy gebore is. Hy is die oudste van agt kinders. Sy oupas was toordokters, sy ma het as Hindoe verskeie gode aanbid en sy pa was ’n ateïs. “Van jongs af het ek egter gevoel ek is ‘anders’. Ek kon my nie vereenselwig met dié ding van verskeie gode nie. Tog ook nie met die idee dat daar net níks kan wees nie.” Sy pa was een van min mense in hul gemeenskap wat ’n tersiêre kwalifikasie gehad het. “Hy het sy meestersgraad in sosiologie gedoen en is deur die werke van Marx en Lenin geïnspireer. “Ek sou later by my vriende hoor dat hy groot drome vir my gekoester het en dat hy my Rusland toe wou stuur om daar te gaan studeer sodat ek kon terugkeer en ’n politikus in Indië word. “Hulle het almal gedink ek was dom om dié kans deur my vingers te laat glip. Dit het my egter nooit aangestaan nie.”

Gebede vir Iemand
Wanneer presies hy begin bid het, kan Rajesh nie onthou nie. Ook nie waarom nie – maar hy het geglo daar moet íéts meer wees. Met sy ma se aanbidding van talle gode – “daar was ’n god vir alles, van musiek tot kos en drank” – kon hy hom nie vereenselwig nie. Maar met die idee van geen god en geen lewe ná die dood, soos sy pa hom geleer het, ook nie. “Ek het begin bid dat as daar een ware God is, Hy Hom aan my moes openbaar.” In sy sewende skooljaar is Rajesh se gebed verwesenlik. ’n Hindoe-onderwyser het ’n handboek oor verskillende gelowe in die klas behandel. “Dit het gegaan oor Christenskap. Baie kortliks het dit vertel van Christus se maagdelike geboorte, dat hy gesterf het, maar weer opgestaan het.” Dít het Rajesh geraak. “Dit was die enigste geloof wat vertel het van ’n God wat mens geword het en van ’n God wat stééds leef. ’n God van liefde en vergifnis.”

Hy onthou nog helder die eerste gedeelte uit die Bybel wat hy ooit gelees het, soos dit in dié handboek weergegee is. “Dit was Matteus 5, die Bergrede,” sê hy en haal ’n gedeelte aan: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel . . . “Aan die einde was daar ’n voetnota: ‘Hierdie stuk is uit die Bybel geneem.’ ”

Rajesh glimlag nadat hy dit vertel het. “Dit is vir my lekker om hieroor te praat, om my verhaal so te deel,” sê hy voor hy voortgaan. “Alles het skielik sin gemaak. Dié God wat sê jy moet die ander wang draai, was die God tot wie ek gebid het!”

‘Ek is ’n sondaar’
Nadat hy van die Bybel gehoor het, wou die jong Rajesh meer weet. ’n Jaar sou egter verloop voordat hy sy volgende teksgedeelte kon lees – Bybels was skaars en nie in sy dorp beskikbaar nie. In sy agtste skooljaar het hy weer in ’n handboek die Ou Testamentiese verhaal gelees van Salomo wat moes besluit watter vrou toesig oor ’n kind sou verkry. “Die boodskap was dat God wysheid en kennis sou gee aan dié wat dit van Hom vra.” Weer was daar ’n voetnota dat dié gedeelte uit die Bybel geneem is.

Dié keer sou dit nie lank wees voordat Rajesh die geleentheid kry om al die boeke in die Bybel te lees nie. “Dit was in 1989, in Julie. Ek het gehoor dat ’n Westerse sendeling by ’n nabygeleë dorp sou kom praat en uit die Bybel voorlees.” Hy het na die dorp gestap, die plek van die byeenkoms gevind en heel agter in die vertrek gaan staan. Rajesh het geluister. “Sy het vertel die mens is in algehele sonde gebore. Dat ons onsself nie kan red nie, dat slegs God dit kan doen – en dat hy Sy Seun hiervoor gestuur het. “Ek onthou die gebed wat ek daardie dag saggies gebid het nog baie duidelik.” Dié gebed is ’n belangrike deel van sy verhaal en ek moet dit neerskryf, beduie hy. “Ek het aan God gesê dat ek, deur te luister, besef het ek is ’n sondaar. Ek het gebid dat ek Hom nodig het. Ek het gevra dat Hy my red.” Dit was die dag van Rajesh Kumar se wedergeboorte.

‘Nooit weer nie’
Ná die besoek aan die sendeling het hy ’n Bybel gekry en opgewonde teruggekeer huis toe, hoopvol dat almal sy vreugde sou deel. “Meer verkeerd kon ek nie wees nie,” sê hy en sug. “Ek was so naïef. Die teenstand was groot – my ouers was geïrriteerd, my vriende het my begin opsyskuif.” Steeds het hy aanhou Bybel lees. Kort daarna is hy gedoop. “Ek het ook maar foute begaan met hoe ek my ouers en gesin gehanteer het,” gee hy toe. “Ek was jonk – nie net wat my ouderdom betref nie, maar ook my geloof.” Die situasie by die huis het aanhou vererger totdat Rajesh se pa hom eendag aangesê het om te gaan. “Hy het my weggestuur en gesê ek sal vir hom wees soos ’n seun wat dood is. Dit was in daardie tyd dat ’n jong man nog soek na homself en sy identiteit. Dit het my baie seergemaak.”

Rajesh was 20 en sonder ’n heenkome. “Ek het met ’n sak op my skouer uit die dorp gestap. Buite die dorp het ek omgedraai en gehuil. ‘Na jou toe keer ek nooit weer terug nie,’ het ek vir die dorp gesê.” Hy het hom by ’n Bybelskool in Moembaai ingeskryf, maar nog ontnugtering het gewag. “Ek dink ek het gedink dit sou soos die hemel wees omdat almal daar mos Christene was. Die skynheiligheid van mense het my egter onstel.” Hy wou selfs in ’n stadium alles laat vaar. “Die Here het egter met my gepraat en my aangesê om ander nie te oordeel nie. Wie was ék om dit te doen?”

Die verlore seun
Nadat hy ’n tyd lank saam met die sendingprojek Operation Mobilisation in Indië gewerk het, het hy by ’n sendeling-vriend in Ahmedabad gaan woon en werk. “Hy het my telkens uitgevra oor my ouers en gesin, maar ek wou nie daaroor praat nie. En ek wou nie teruggaan na my tuisdorp nie.” Een aand het die gesprek wel plaasgevind. Rajesh het besef hy sal ander nooit kan leer van God se vergifnis as hy nie self kan vergewe nie. Ek het die hele aand rondgerol; ek kon nie slaap nie. In die vroeë oggendure het ek na ’n treinstasie gehardloop en my kaartjie bespreek – huis toe . . .” Die verlore seun het teruggekeer.
“Ek het by die huis gekom en my pa om verskoning gevra vir die manier waarop ek weg is. Ek het dit egter duidelik gemaak dat ek nie vir my geloof om verskoning vra nie – dáárvoor sou ek nooit jammer sê nie. Maar ek sou nie weer loop sonder my ouers se goedkeuring en seën nie.” Die bande met sy familie is herstel – en binne maande het ’n broer en suster ook tot bekering gekom. Albei sy ouers het Christene geword voordat Rajesh die huis verlaat het vir sy oorsese reis.

’n Nuwe begin
Rajesh het in Suid-Afrika beland deur ’n sendinggroep van dié land wat hy in Indië ontmoet het. “Ek wou aanvanklik baie graag by ’n Bybelskool in Chicago in die VSA gaan studeer. Die groep wou my help, maar het nie die geld daarvoor gehad nie. Hulle het my na Suid-Afrika gestuur.” Op 6 Januarie 2001 het hy in Johannesburg aangekom. “Alles was vreemd. Ek onthou dat ons met ’n ompad van die lughawe af gery het en ek het gewonder: ‘Is dít dan nou die groot stad waar al die mense woon? Ek sien dan niemand nie!’ ” Rajesh lag. “Dit was ’n uitdagende tyd in dié nuwe en vreemde land. Ek het drie jaar lank in Witrivier gewerk, maar dit was meestal sendingwerk. Ek wou graag my teoretiese kennis van die Bybel verbeter.”

Eindelik het hy in 2004 en 2005 sy honneursgraad in teologie op Potchefstroom voltooi. Hy het hier tuis gevoel en selfs geleer om “so ’n klein bietjie” Afrikaans te praat. “Nie dat dit sonder probleme was nie!” skerm hy. “Géén plek is ooit sonder probleme nie. Daar was ook maar soms rassisme en uitdagings. Maar in Indië het ek mos al daaraan gewoond geraak en kon dus moeilike situasies hanteer.” Hy het ’n predikant van die Gereformeerde kerk Rietvallei, waar hy in November verlede jaar ook getroud is, ontmoet. “Hulle het my gehelp en geleenthede geskep.” Hy is op grond van buitengewone gawes beroepbaar gestel, later as predikant bevestig en doen nou vir dié kerk sendingwerk in Indië – in dieselfde dorp waarheen hy aanvanklik nooit weer sou terugkeer nie. “Ek was al vroeër ’n tyd lank daar en is geseën met sowat 100 gemeentelede, maar het tans plek vir slegs sowat 60 op ’n slag.” Rajesh is vroeër vandeesmaand terug om die werk daar voort te sit. Hy wil ’n kerk en dalk selfs ’n Christen-kollege daar bou – sodat hy die sendeling kan wees wat Bybels het vir dié wat soek.

Vir my is dit n awesome getuienis. God het soveel deure vir hom geopen. En ja almal is nie altyd saam jou opgewonde nie. Jy sal ontdek dat baie vriende en Christene nie opreg is nie. Sien my sondag pakkie se nie wie ek is nie. God het vir ons almal gekom. “Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges!” (JAKOBUS 4:8).

Soek jy na daai iets anders wat uitskree in jou? Is jy desperaat genoeg om uit te roep na Vader. Weet jy hoe moes hy begeer het om die woord te kon lees en hy moes tot die volgende jaar wag. Ons Bybels le op die bedkas en stof opgaar. Onthou dieselfde God wat die kleinste blom laat groei, die eiersel n baba maak, wat die visse leer swem wat die see in twee dele kon skei, wat water uit n klip kan voortbring, wat Sy Seun mens laat word het wat, toe gekyk het dat Sy Seun vir Al ons oortredings, siektes en sondes gesterf het, Hom weer opgewek het, lewe in my en jou. En ons kyk na dinge asof daar GEEN hoop is nie.

Nooit sal Hy ons Verlaat nie. Hy is in die posisie om dinge te verander. Maar soos die man moet ons stil word, vergewe, al het ons gese Nooit ooit weer nie. Die Krag van God in hom het sy hele Gesin gered. Gaan ons stil word en vra Here waarheen wat moet ek doen? Waar kan ek verander? Wie moet ek vergewe om vir U n verskil te maak.

Wanneer daar “christen-boelie” kom met jys nie goed genoeg nie. Gaan jy omdraai en pity party en jouself nooi? Of gaan jy sterkstaan vasbyt. Here vergewe hulle, hulle weet nie wat hul doen nie. Die keuse is joune. Geseende naweek en ons chat dinsdag, as dit die Here se Wil is. Amen

Print Friendly
(Visited 39 times, 1 visits today)

One Thought on “Rajesh

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Post Navigation