Hier moes ek nou redelik vinnig aan ‘n Afrikaanse woord dink vir “aphrodisiacs”. Die enigste goeie en betaamlike naam waaraan ek kon dink is Prikkelkos.

Maak nie saak wie en wat jy is nie, of jy nou ‘n straatveër is en of jy ‘n rekenaarprogrameerder is nie, een of ander tyd in jou lewe gebeur dit dat die wil om romanties te wees nie meer daar is nie. Romanse sal jou altyd beter laat voel. Maar wat moet jy doen om daardie wil terug te kry ? Eerstens kan jy apteek toe hardloop en een van daardie blou pille gaan koop of jy kan die heel natuurlikste manier gebruik om jou weer ‘n goeie wil te gee en dit is om Prikkelkos te eet.

Om Prikkelkos te eet is in elk geval meer romanties as om pille te drink. Die koning van Prikkelkos is oesters. Die vorm en smaak sal jou mond laat water van wat nog vir jou voorlê. Knoffel (?), uie, tiemie en roosmaryn is ook hoog op die lys van Prikkelkos. Die bestanddele vorm natuurlik die basis van pastasouse. Hier moet ek net sê dat knoffel seker een van die grootste anti Prikkelkossoorte is, as dit deur net een van die twee vennote in die liefdespel geëet word.

Speserye soos karmadon, naeltjies, gemmer en neutmuskaat kan ook nie weggegooi word as ons van Prikkelkos praat nie. Hierdie speserye vorm natuurlik die basis van Indiese geregte. Hierdie speserye laat jou ‘n warm gevoel kry en dit is natuurlik ‘n voorvereiste in die liefdespel. Naeltjies en neutmuskaat word ook natuurlik baie gebruik in disse wat voorberei word vir Kersfees.

Sekere kosse bevat geen chemiese middels om jou te prikkel nie maar net die vorm kan baie suggestief wees, en wanneer jy dit dan saam met jou geliefde eet, in ‘n romantiese omgewing , weet mens nooit waar dit kan eindig nie. Die kos waarvan ek hier praat (wat meer suggestief is as iets anders) is aspersies.
Seldery bevat androsterone. Dit is ‘n manlike hormoon wat in staat is om dinge wakker te maak in vrouens. Verder word daar beweer dat piesangs goed is vir mans om hulle stamina te verhoog. Maar ongelukkig bestaan daar geen wetenskaplike bewyse hiervoor nie.

Daar word altyd beweer dat ontbyt goed is vir ‘n mens. Maar nou is daar uit ‘n prikkel-oogpunt bewyse daarvoor. Wanneer jy Hawermout-pap eet in die oggend laat dit jou dinge doen in die aand. Hawermout-pap is ‘n katalisator wat testosteroon by mans vrystel.

Hierdie laat my dink aan ‘n toneel uit die film Chocolat waar die huisvrou sjokolade gaan koop. Sy gooi die sjokolade in die asblik en haar man sien dit, hy eet alles en toe hy by sy vrou verbyloop waar sy vloere was, is die vet in die vuur.

So mans as julle vrouens by julle aandring julle moet Hawermout-pap in die oggende moet eet, dan moet julle maar solank ‘n bos blomme gaan koop om dankie te sê.

Daar moet net onthou word dat alles omtrent Prikkelkos met ‘n knippie sout geneem moet word. Prikkelkos kan nie vir romanse instaan nie. Daar is geen beter prikkelaar as ‘n ete, saam met ‘n heerlike bottel wyn en die regte atmosfeer wat die vuurtjie kan aansteek nie. Blomme, mans, kan ook ‘n dame se hart versag.

Hou matigheid voor oë en moet net nie te veel Prikkelkos eet nie.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 41 times, 1 visits today)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Post Navigation