Hallo

’n Man bel my in trane. Sy vrou is in ’n ander man se arms betrap. Hoe kan hulle dit doen? Al die mooi wat hulle gehad het, al die spesiale oomblikke? Iemand het met ’n dik pen ’n streep deur al die mooi kom trek!

’n Man met ’n groot besigheid bel my. Hy weet nie hoe dit gebeur het nie. Hy en sy vrou was so gelukkig. Sy besigheid het so goed gedoen. Sy vrou was tuis om die kinders groot te maak. Op ’n dag besluit sy dat sy ook weer haar eie ding wil doen. Om so by die huis te sit is nie goed vir ’n mens nie, sê sy.

Haar besigheid doen goed en neem al hoe meer van haar tyd in beslag. Soveel so dat as hy by die huis kom, sy nie meer tyd vir hom het nie. Dis net haar besigheid… Hy voel afgeskeep. Hulle gesels nie meer nie. Hy het nie meer iemand wat uitvra en luister na sy dag se dinge nie.

En toe stap daar iemand in sy lewe in. Iemand wat hom goed laat voel. Wat tyd vir hom het, wat luister, wat omgee. Dit laat hom weer goed voel. Hy blom weer.

Nou bel hy, want sien, hy voel nie so lekker nie. Dinge het te vêr gegaan. Die skuldgevoel kom klop hier aan ’n mens se deur, want 4Julle en julle huweliksmaats is eksklusief aan mekaar gegee. Behandel mekaar met groot respek.

Ons weet dit. Ons belowe dit kliphard aan mekaar daar op die troue. Kyk wat sê die huweliksformulier wat ons so plegtig belowe het:

Gee julleself aan mekaar op allerlei maniere, met erns en met humor, in gelukkige oomblikke en in moeilike omstandighede. Moenie toelaat dat iets of iemand ooit tussen julle kom nie. Wees daarop voorberei dat die Satan nooit genoeë neem met wat mooi en goed is nie. Soos wat hy die ongeluk en die dood aan die begin in die wêreld ingebring het, so probeer hy deur die eeue om ‘n wig in te dryf tussen man en vrou, en tussen egpare en hulle God. Soek altyd jul krag in Christus wat die Bose oorwin het.

Moet nooit sê: “Ag wat, dit sal nooit met my gebeur nie.” Jou huwelik slaan dalk net ’n stukkie grondpad. Die een is dalk net vir ’n tydjie in sy of haar eie spasie en dan daag daar iemand op wat die ander een laat goed voel, weer laat lag, weer omgee en woeps, daar glip en gly die ander een.

Wees paraat. Wees bewus van ’n ou wat ’n wig wil indruk tussen jou en jou eggenoot en tussen jou en God. Staal jouself daarvoor. Sien oor, vergewe, doen moeite, gee om, reik uit, sit ’n blommetjie neer, skryf ’n briefie, gee jouself oor, offer op, stap nog ’n myl, pas jou huwelik op en kry versterkings deur saam te bid.

Saam met die belofte wat julle aan mekaar gemaak het, soek jou krag in Christus. Dis net met Hom aan jou sy wat jy die winde kan weerstaan.

Teks

1 Tessalonisense 4:1-8

Om oor na te dink

Het jou oog al gedwaal?

Wat kan jy doen om jou verhouding sterker te maak?

Waar pas God by alles in?

Gebed

Vader, dit is U wil dat ons heilig sal lewe. U wil nie hê ons moet soos goddelose mense onsself oorgee aan hartstogte en begeertes buite die huwelik nie. Gee aan ons die begeerte en die gehoorsaamheid om ons huwelike eerbaar te hou. Amen.

Teksgedeelte: 1 Tessalonisense 4

3God wil hê julle moet julle lewe voltyds aan Hom wy. Moenie deel hê aan enige seksuele sondes wat teen God se wil indruis nie. 4Julle en julle huweliksmaats is eksklusief aan mekaar gegee. Behandel mekaar met groot respek.
5Julle huwelik moet so kosbaar wees dat daar geen tyd of plek vir verkeerde seksuele begeertes in julle lewe is nie. Ongelowiges wat hulle nie aan God steur nie, vang al daardie vieslike dinge aan. 6Ek waarsku julle, moenie julle aan verkeerde seksuele gedrag skuldig maak nie. Onder geen omstandighede mag julle ’n skelm verhouding met ’n ander gelowige se huweliksmaat hê nie. Onthou, die Here sien dit raak. Hy straf sulke sondes.

Gerjo Ben

Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward. Jy kan ook info@kruispad.com
in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.
e]

Geen kopiereg – kan gratis versprei word.

Print Email

Stel nie meer belang nie? Unsubscribe from this newsletter

 

 

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 34 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Post Navigation