GEBEDSVERSOEK PRAAT SAAM RAAK BETROKKE ENGLISH
Dood is om in Jesus te slaap
Hallo

Wonder jy ook soms hoe die lewe hierna gaan wees? Gaan die strate regtig van goud gemaak wees? Gaan ons mekaar herken? Gaan ons kan gholf speel?

Ons het nie al die antwoorde nie, maar tog het ons hoop, want ons weet Jesus het reeds vir ons deur die dood gegaan. En dis juis in Jesus se arms wat ons gaan lê en slaap.

Het jy al ’n babatjie wat slaap, dopgehou? So rustig met niks wat pla nie. Net so rustig is die dood. ’n Slaap in Jesus se arms. Ongelukkig het hierdie mooi beeld verlore gegaan in die vertaling van die oorspronklike teks in vers 14. Daarom haal ek hier die King James-vertaling aan: For if we believe that Jesus died and rose again, even so them also which sleep in Jesus will God bring with Him.

Dié wat in Jesus geglo het en reeds dood is, slaap in Hom – dis hulle wat Hom sal vergesel met Sy volgende koms na die aarde. Die dood is soos ’n sagte slaap in Jesus se arms. Dit is juis Jesus se kruisdood, maar ook Sy opstanding na die dood wat ons in ’n rustige slaap dompel. Ons hoef nie meer bang te wees vir die dood nie, want Jesus het klaar daardie pad namens ons baklei en oorwin.

Kom ons sê dit weer vir mekaar: Omdat ons in Jesus glo, omdat ons glo dat Hy die pad deur die dood klaar gestap het, omdat Hy die dood oorwin het, kan ons rustig wees oor die dood. Wanneer ons sterf, gaan ons in ’n rustige slaap in Jesus se arms.

In hierdie tydperk van slaap is ons rustig – sonder pyn, sonder trane en lê ons met ’n glimlag en wag vir Jesus om ons wakker te maak. Dan sal ons gees saam met Hom na die aarde kom om diegene te ontmoet wat nog op aarde is.

16Wanneer God beveel dat die laaste dag aanbreek, sal die heel belangrikste engel in die hemel skielik kliphard uitroep. God se hemelse trompet sal ook begin blaas. Terwyl dit gebeur, sal die Here na die aarde toe kom. Al die Christene wat reeds dood is, sal lewendig word. 17Dan sal ons wat nog lewe saam met hierdie gelowiges weggeneem word op die wolke. Ons almal sal die Here in die lug ontmoet. Daarna sal ons almal vir altyd by die Here bly.

Watter lekker vooruitsig is dit nie vir ons wat in Jesus glo nie. ’n Bekende het gesê dat die dood ’n ingang en ’n uitgang het. Laasgenoemde, vermoed ek, se deur staan slegs oop vir dié wat in Jesus glo. Dis Jesus wat die deur vir Sy kinders oopmaak.

En nou die opdrag: 18Vertel hierdie goeie nuus vir ander gelowiges en moedig mekaar aan om dit te glo.

So baie mense daar buite is nog in die donker hieroor. Dis ons verantwoordelikheid om die boodskap vir hulle te bring. Laat ons hoop bring. Laat ons ander gerusstel. Laat ons die boodskap van slaap in Jesus se arms uitbasuin. Dit bring vrede in ons gemoed.

Teks

1 Tessalonisense 4:13-18

Om oor na te dink

Hoe voel jy oor die dood?

Gee dit vir jou gemoedsrus om te weet jy gaan in Jesus se arms slaap?

Vir wie moet jy dit vertel?

Gebed

Dankie vir die boodskap en gerusstelling, Vader. Dankie vir die wonderlike beeld om te weet dat as ons klaar is met die aarde ons veilig in Jesus se arms gaan slaap. Aan U kom al die eer toe! Amen.

Teksgedeelte: 1 Tessalonisense 4
13My broers en susters, ek wil nie hê julle moet vrae hê oor wat gaan gebeur met dié gelowiges wat reeds dood is op daardie dag wanneer Christus terugkom na die wêreld toe nie. Moenie so hartseer wees soos ongelowiges wat geen hoop het wanneer hulle geliefdes doodgaan nie.
14Ons glo mos dat Jesus aan die kruis dood is en dat Hy daarna uit die dood opgestaan het. Net so sal God almal wat voor hulle dood in Jesus geglo het, saam met Hom bring wanneer Hy weer na ons toe kom. 15Die Here het gesê dat ons wat nog lewe op daardie dag wanneer die Here terugkom, glad nie belangriker of beter daaraan toe sal wees as die gelowiges wat reeds dood is nie.
16Wanneer God beveel dat die laaste dag aanbreek, sal die heel belangrikste engel in die hemel skielik kliphard uitroep. God se hemelse trompet sal ook begin blaas. Terwyl dit gebeur, sal die Here na die aarde toe kom. Al die Christene wat reeds dood is, sal lewendig word. 17Dan sal ons wat nog lewe saam met hierdie gelowiges weggeneem word op die wolke. Ons almal sal die Here in die lug ontmoet. Daarna sal ons almal vir altyd by die Here bly.
18Vertel hierdie goeie nuus vir ander gelowiges en moedig mekaar aan om dit te glo.
Gerjo Ben

Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward. Jy kan ook info@kruispad.com
in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.
e]

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 24 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Post Navigation