GEBEDSVERSOEK PRAAT SAAM RAAK BETROKKE ENGLISH
Is jy reg vir Jesus se koms?
Hallo

In ons land het ons al gewoond geraak aan hoë heinings en elektriese drade en wagte deur die dag en nag. Mense stap sommer net in jou huis in en vat wat hulle wil. My vriend se dogter is alleen tuis. Sy is baie sekuriteitsbewus en slaap met die alarm aan. Die volgende oggend sien sy ’n gordyn waai in die sitkamer. Sy gaan loer. Die ruit netjies uitgehaal en die TV nie meer daar nie.

Sommer net so. Onverwags. Onaangekondig.

Natuurlik is dit so. Diewe kom gooi nie ’n papiertjie in jou posbus om jou vriendelik in te lig oor hulle besoek later die nag om gratis inkopies in jou huis te kom doen nie. Nee, hulle wil jou juis onkant betrap sodat jy nie net vir daardie verwagte opwagting jou beskerming opskerp nie.

Net so is die koms van Jesus. Onverwags. Onaangekondig.

Gedurig is daar iemand wat hulle hand opsteek en sê dat hulle ’n direkte lyn na bo het en dat Jesus op so en so ’n datum op pad is aarde toe. Sommige van ons skrik dan en vra hardop: Is ek reg? Sê nou maar net die ou hét ’n direkte lyn? En as die datum kom en gaan, is daar so effens van ’n verligting…

Hoekom trap ons elke keer in die gat om na die ouens te luister? Dit word dan so duidelik vir ons uitgespel: 1My broers en susters, dis nie vir my nodig om met julle te praat oor presies wanneer die Here gaan terugkeer, of wat alles sal gebeur as Hy terugkeer nie. 2Julle weet teen hierdie tyd baie goed dat die dag waarop die Here terugkom net so onverwags sal plaasvind soos ’n dief wat in die middel van die nag by jou huis kom inbreek. 3Baie mense sal nog sê: “Ag nee wat, alles is veilig,” dan val alles rondom hulle skielik inmekaar. Hierdie mense sal begin skree van die pyn, net soos ’n vrou wat op die punt staan om geboorte te gee. Maar dit sal niks help nie. Niemand sal op daardie dag wegkom nie.

Kom ons onderstreep ’n paar basiese feite oor Jesus se wederkoms:

Ons weet nie die dag of datum wat Jesus kom nie. Punt. Klaar. Maak nie saak hoe oortuigend ’n persoon is nie. Maak nie saak hoe duidelik sy direkte lyn na die hemel is nie. Maak nie saak hoeveel blikkies kos mense al bymekaar gemaak het nie. Niemand weet wanneer Jesus weer na die aarde kom nie.

Bou nou ’n brug en kom hieroor.

Dis eintlik logies, want as die datum bekend was, sou baie mense dalk net die dag voor die tyd hulle harte vir die Here gegee het.

Tog moet ons nie vrees gebruik om mense tot inkeer te laat kom nie. Ek dink sommer nou aan die grappie van die dominee wat woes aan die preek was oor die wederkoms. Hy brei hard uit oor wat met die mense gaan gebeur wat nie gereed is nie en haal ’n teks uit die Bybel aan: “… en daar sal ’n gekners van tande wees…”

Met dié sien hy ’n tannie hier voor hom breed glimlag met ’n mond sonder tande. En hy maak sy sin klaar: … en vir dié wat nie tande het nie, sal daar ge-supply word.

Kom ons maak seker dat ons altyd reg is, sodat Jesus maar enige tyd kan kom.

Teks

1 Tessalonisense 5:1-3

Om oor na te dink

Is jy skrikkerig vir Jesus se koms?

Is jy gereed?

Is almal om jou gereed?

Gebed

Vader, ek is reg. U kan maar kom. Amen.

Teksgedeelte: 1 Tessalonisense 5
1My broers en susters, dis nie vir my nodig om met julle te praat oor presies wanneer die Here gaan terugkeer, of wat alles sal gebeur as Hy terugkeer nie. 2Julle weet teen hierdie tyd baie goed dat die dag waarop die Here terugkom net so onverwags sal plaasvind soos ’n dief wat in die middel van die nag by jou huis kom inbreek. 3Baie mense sal nog sê: “Ag nee wat, alles is veilig,” dan val alles rondom hulle skielik inmekaar. Hierdie mense sal begin skree van die pyn, net soos ’n vrou wat op die punt staan om geboorte te gee. Maar dit sal niks help nie. Niemand sal op daardie dag wegkom nie.
Gerjo Ben

Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward. Jy kan ook info@kruispad.com
in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.
e]

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 27 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Post Navigation