Moenie staan en slaap nie

GEBEDSVERSOEK PRAAT SAAM RAAK BETROKKE ENGLISH
Moenie staan en slaap nie
Hallo

Daar word die storie vertel van die soldaat wat waggehou het, maar uiteindelik met sy kop op sy arms aan die slaap geraak het. Toe hy sy oë oopmaak, sien hy ’n paar stewels hier reg voor hom en vermoed dis die bevelvoerder s’n. Net voor hy sy kop optel, sê hy kliphard: “Amen!”

Dis nou ’n ou wat vinnig kan dink!

Tog, as jy mooi gaan dink, kon die soldaat groot gemors veroorsaak het deur sy geslapery aan diens. Sê nou maar net dit was nie die bevelvoerder wat voor hom gestaan het nie, maar die vyand? Wat sou die kans wees dat hy sou oorleef?

’n Soldaat moet die heeltyd paraat wees, want die vyand wag juis vir daai aks van ’n sekonde wat die teenstanders, soos die Engelsman sê, hulle guard drop. Op daardie oomblik is die soldaat kwesbaar. Kyk mooi wat sê dié woord. Die soldaat laat sak sy hele verdediging en beskerming en is ’n oop en maklike teiken vir die vyand om hom te skiet of onder te kry.

Net so moet ons as Christene voortdurend paraat wees. Ons moet wakker wees en weet dat die vyand soos ’n brullende leeu daar buite loop en soek om ons te vang. Hy wag vir daai aks van ’n moment waar ons glip en dan slaan hy toe. Daarom die waarskuwing:

6Ons mag nie aan die slaap wees soos daardie mense wat niks met die Here te doen wil hê nie. Nee, ons moet helder wakker wees. Ons moet reg leef.

Ons weet baie goed wat is reg en wat is verkeerd. Ons weet waar die regte pad van die lewe loop en waar die verkeerde een is. Die meeste van ons loop op die regte pad, maar ai, so baie keer word ons weggelok om ’n afdraaipaadjie te neem. Dis hier waar ons sterk moet staan. Dis hier waar ons moet seker maak dat ons nie aan die slaap gevang word nie. Dis hier waar ons ekstra energie moet insit om op ons pos staande te bly.

In die oorspronklike vertaling staan daar dat ons wakker en nugter moet bly. Nog ’n storie: ’n Man vertel dat as hy die aand uitgaan, soek hy altyd die persoon wat vir hom die minste aantreklik lyk. As die persoon later die aand vir hom bekoorlik lyk, dan weet hy dis tyd om huis toe te gaan.

Die man weet wat doen te veel drank. Dit laat jou oordeel in die steek. Jy neem besluite en doen dinge wat jy nie sou geneem het as jy by jou volle positiewe is nie. Maar dis meer as net drank. Geld kan jou bedwelm. Roem kan jou bedwelm. En jy kan selfs dronk word van die liefde. Daarom die opdrag: Wees die heeltyd wakker. Weet dat jy die heeltyd aan diens is en moet wagstaan. Moenie een oomblik aan die slaap raak nie, want dis juis hier waar die duiwel sy aanval sal loots.

Bid en staan sterk!

Teks

1 Tessalonisense 5:4-6

Om oor na te dink

Is jy ’n maklike teiken?

Wat kan jy doen om wakker te bly?

Besef jy die gevaar as jy aan die slaap is?

Gebed

Here, hierdie een verstaan ek so goed, want hoeveel keer het ek nie al aan diens aan die slaap geraak nie. Ek het nog soveel om te leer en in te oefen. Met my hele hart wens ek om staande te bly, maar ai, soms is ek so vaak… Amen.

Teksgedeelte: 1 Tessalonisense 5
6 Ons mag nie aan die slaap wees soos daardie mense wat niks met die Here te doen wil hê nie. Nee, ons moet helder wakker wees. Ons moet reg leef.
Gerjo Ben

Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward. Jy kan ook info@kruispad.com
in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.
e]

Geen kopiereg – kan gratis versprei word.

Print Email

Stel nie meer belang nie? Unsubscribe from this newsletter

(Visited 54 times, 1 visits today)
Advertisements

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui