GEBEDSVERSOEK PRAAT SAAM RAAK BETROKKE ENGLISH
’n Paintball vir Jesus
Hallo Frik

Danie vertel van sy Sondagskool onnie wat jare gelede vir hom die volgende gesê het: “Daar is ouens wat die hemel gaan misloop, omdat dit te maklik was om daar te kom.” En ongelukkig is dit so. Sommige mense dink die afskryf van sonde is net te maklik om waar te wees.

Soms moet ons dit wat Jesus vir ons gedoen het, nader aan vandag bring sodat ons regtig kan verstaan. Soos Sanette uit haar dae by Diensjaar vir Christus vertel:

Een aand op ’n kamp het ’n groep 12-jarige dogters die nag aangevat met die opdrag dat hulle geen woord mag sê nie. As daar gepraat word, is daar moeilikheid.

Maar watter 12-jarige gaan in die donker grondpad afstap en nie praat nie?! So, dan word hulle teruggejaag kampterrein toe, daar waar die groepleiers sit en wag.

Die senior leiers kom bymekaar en besluit dan dat daar ’n straf uitgedeel moet word, maar hulle kan nie die hele groep kampers straf nie – so die groepleier moet instaan.

Hierdie keer is ek toe die groepleier van ’n span meisies – hulle spannaam was ‘die uie’. Dit was vir hulle super moeilik om na my toe te kom en te verduidelik dat hulle gepraat het en dat ek nou hulle straf moet dra. Hulle was almal in trane, het gesoebat by die senior leier en hulle onderwysers om dit nie te doen nie.

Maar iemand moes hulle straf vat…

So word die bakkie nader getrek en ons skerpskutter sit met sy paintball gun in die skaduwees. ‘Die uie’ neem my vorentoe. Hulle huil aanmekaar. Hulle kom offer my op vir dit wat hulle verkeerd gedoen het. Dan gaan die bakkie se ligte aan, skyn op my, en die paintball tref met ’n slag teen my rug.

Dis hulle straf.

Daai meisies was woedend! Hulle het geskree en baklei en gehuil! Maar na ’n lang nag se gesprekke het ons verduidelik: Dit is wat Jesus vir jou gedoen het, net baie erger. Hy het in jou plek die straf gedra. Elkeen van daardie 12-jariges het daardie oggend tot bekering gekom.

Ek is nou nog dankbaar vir daai paintball shot. Ek sal hom enige tyd weer vat.

Ek dink en bid nog gereeld vir daardie groepie meisies. Hulle is nou al klaar met skool en klaar gestudeer. Miskien is van hulle self al ouers… Ek ken nie eens meer hulle name nie, maar Jesus het my ook daardie nag spesiaal aangeraak en opnuut kom wys wat Hy vir ons gedoen het.

9God het besluit dat ons nooit in der ewigheid aan sy straf onderwerp sal word nie, maar dat ons deur die Here Jesus Christus gered word. Moenie in die strik trap om te dink dat hierdie waarheid te goed is om waar te wees nie.

Mag die Heilige Gees ook aan jou genade betoon sodat jy sal glo dat Christus se verlossingsboodskap ook vir jou bedoel is.

1 Tessalonisense 5:4-11

Om oor na te dink

Het jy al die verlossingsboodskap aanvaar?

Weet jy van iemand wie se hart verhard is?

Wat kan jy daaromtrent doen?

Gebed

Vader, hierdie is ’n eenvoudige storie, maar dit is so kragtig. Ek wil, ek moet en ek sal U Naam in die wêreld daar buite gaan uitleef. Hoe kan ’n mens dan anders? Amen.

Teksgedeelte: 1 Tessalonisense 5
9God het besluit dat ons nooit in der ewigheid aan sy straf onderwerp sal word nie, maar dat ons deur die Here Jesus Christus gered word. 10Daarom het Hy in ons plek gesterf. Dit maak nie saak of ons nog lewe op die dag wanneer Hy terugkom en of ons al dood is nie; ons plek daar by Christus is klaar bespreek. Ons gaan vir altyd saam met Hom leef.
11Julle moet asseblief met mekaar gesels oor al die dinge wat ek nou vir julle gesê het. Praat mekaar moed in. Ek weet julle doen dit. Maar hou asseblief daarmee aan!
Gerjo Ben

Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward. Jy kan ook info@kruispad.com
in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.
e]

Geen kopiereg – kan gratis versprei word.

Print Email

Stel nie meer belang nie? Unsubscribe from this newsletter

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 17 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Post Navigation