Potte krap

Hallo Frik

Welkom 2019! Mag hierdie jaar vir jou baie vreugde en vrede bring. Mag ons saam lekker deur God se Woord stap en so geestelik groei om ‘n verskil in die wêreld te maak.

Dis nie net ‘n nuwe jaar nie, maar ook ‘n nuwe look and feel vir ons nuusbrief. Dankie vir die span by www.g2design.co.za!

Met die volgende 6 stukke maak ons klaar met 2 Tessalonisense en dan begin ons in die briewe aan Timoteus delf.

Hier gaan ons!

Een van ons dogters het as ’n kelnerin by ’n restaurant op die dorp gewerk. Dit was vir haar baie goeie ervaring en sy kon op die manier ekstra sakgeld verdien. Net na die tweede dag se werk kom sy by die huis. Ek sien iets pla en vra haar daarna. Sy’s amper in trane toe sy vertel dat sy nie geweet het daar is sulke onbeskofte mense in die wêreld nie. ’n Kliënt het haar onregverdig en baie lelik behandel en sy moes op haar tong byt en dit net sluk.

Ons kon lekker oor die insident praat. Ek het verduidelik dat daar mense in die wêreld is wat ander oortuigings en manier van doen as sy het en dat sy dit nog baie gaan kry waar mense haar gaan seermaak met hulle optrede. Die vraag is nou hoe sy teen hulle gaan optree. Gaan sy dit regkry om elke keer Jesus se manier van doen ook in sulke situasies toe te pas?

Ek is dankbaar dat my dogter op so ’n vroeë ouderdom kon leer van die lewe, al is dit nie maklik nie.

Ek self het vroeg die markplein betree. Ek was maar sestien toe ek my eerste werk gehad het. Elke Saterdagoggend het ek by my meisie se pa se tweedehandse motorvoertuig besigheid gewerk. Karre gewas. Maar dit was nie al nie. Ek het elke oggend ook Die Burger in ons buurt afgelewer. Ek het maar gesukkel met die vroeg opstaanery.

Op Universiteit was ek baie meer in die markplein as agter my boeke. Ek het vir Interkaap bus gery. Ek het in twee restaurante gewerk waarvan ek by een sommer die bestuurder was. Ek het selfs my eie beproeiingsbesigheid, Sproeikor, gehad.

Nou hoekom vertel ek al die werk-stories? Want dit is ons almal se opdrag. Ons moet werk. Ons elkeen moet die markplein betree. Ons elkeen moet weet waar geld vandaan kom. As jy êrens in die lewe wil kom, moet jy werk.

Paulus is ook baie ernstig hieroor. Hy sê dit reguit vir ons: 7Julle onthou hoe ons opgetree het toe ons by julle was. Ons het vir julle die regte voorbeeld gestel wat julle kan navolg. Ons het nie op julle nek gelê en verwag dat julle die hele tyd vir ons kos en geld moes gee nie. 8Nee, ons het dag en nag met ons eie hande gewerk sodat ons nie ’n las vir julle sou wees nie.

10Mag ek julle ook herinner aan ’n belangrike ding wat ek vir julle gesê het toe ek by julle was: “As iemand te lui is om te werk, moet ander gelowiges nie vir hom sorg nie.”

11Ek sê hierdie dinge omdat ek gehoor het dat ’n paar gelowiges daar by julle die spoor heeltemal byster geraak het. Hulle is te sleg om te werk, en nou verwag hulle van die ander om vir hulle kos aan te dra. Boonop steek hulle hul neuse in ander se sake. 12Ek sê reguit vir al daardie mense, nee, ek beveel hulle in die Naam van die Here Jesus Christus: begin dadelik weer werk. Hulle moet van nou af self vir hulle gesinne sorg.

Ons elkeen moet ons deel doen en hard werk. Maar meer nog – ons moet ander daarop wys as hulle lui is. As jy nie werk nie, moet jy ook nie eet nie. Dis eenvoudig hoe dit werk.

En ouers: Luister mooi. Ons moenie ons kinders weerhou om te groei en te leer deur vroeg te begin werk nie, al kan jy hulle finansieel die hele pad dra. Ja, dit sal vir ons almal baie lekker wees om by die naaste motoragentskap in te stap en vir ons kinders elkeen ’n splinternuwe karretjie uit te trek (as ons kon), maar die vraag is: Is dit die beste vir hulle?

As ons alles vir ons kinders gee, ontneem ons van hulle ’n stuk groei en leerervarings. Hierdeur sê ek nie dat ouers nie wel vir hulle kinders ’n ryding kan koop, hulle studies betaal en ’n springbord vir die lewe moet gee nie. Ons as ouers het net ’n groot verantwoordelikheid om ons kinders te leer om te waardeer wat hulle kry en te help om nie lui te wees nie, sodat hulle eendag hulle eie potjie kan krap en hulle roeping sal uitleef.

Teks

2 Tessalonisense 3:6-13

Om oor na te dink

Hoe lyk jou werk?
Sien ander jou roeping raak?
Wat moet jy dalk anders doen?

Gebed

Vader, ek aanvaar dit so as vanselfsprekend dat ek kan werk. Eintlik leef ek soms asof dit my reg is. Maar eintlik is dit my roeping en verantwoordelikheid om tot die beste van my vermoë te werk. Help my om nie lui te wees nie. Help my om voor te stap en vir ander te wys hoe werk eintlik lyk. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.

Shalom
Gerjo Ben
Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward.

Jy kan ook info@kruispad.com in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 42 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui