Pasop vir die ou met die Bybel onder sy arm

Pasop vir die ou met die Bybel onder sy arm
Hallo Frik

Ons weet dat nie alles en almal in die wêreld goed is nie. Alhoewel sommige van die dinge soms goed lyk, is dit ons elkeen se verantwoordelikheid om seker te maak dat ons nie van die pad gelok word nie. So maklik word ons deur die oënskynlike mooi en voorspoed verblind om net om die volgende draai agter te kom dat ons eintlik vir ’n pop gevat is.

Net so is alles en almal in die geestelike wêreld ook nie goed nie. Daar is ouens wat regtig goed lyk en sommer ook klink of hulle altyd net vir die waarheid staan, maar as jy bietjie dieper delf, lyk dit of daar ander agendas is. Dit is nie net in ons lewe vandag so nie, maar dit kom al van lankal af aan.

6Party mense vertrou nie meer op God nie, maar hou hulle eerder besig met ’n klomp gepraat wat eintlik g’n sin maak nie. 7Hulle wil so graag hê mense moet sê dat hulle kenners van die godsdienstige sake en wet is. Maar ongelukkig weet hulle glad nie waarvan hulle praat nie. Hulle praat asof hulle so baie weet, maar eintlik weet hulle niks.

Die ouens sit die pot mis. Dit gaan net oor hulself. Hulle wil hê dat mense na hulle moet opkyk en glo dat hulle al die kennis het, maar intussen verdraai hulle die waarheid. Hulle dink selfs hulle is die professors en het al die kennis oor die wet van God, maar hulle selfversekerdheid is misleidend. Eintlik verstaan hulleself nie eers wat hulle sê nie. Hoe belaglik is dit nie!

Hierdie spekskieters se probleem het ontstaan toe hulle nie meer op God vertrou nie. Maar meer nog, die mense se fondasie was nie gebou op God se eerste gebod van liefde nie. Sodra liefde nie meer die vertrekpunt is nie, kom al die res se wiele af en mense rondom lê in pyn.

Soos Mari (skuilnaam) vertel:

Ons is al jare in ‘n stryd gewikkel teen “vriende” wat ‘n groot besigheid by ons gesteel het. Hulle gaan net soos stoomrollers voort en gebruik die maatskappy se geld om teen ons te veg. Ons veg moedig voort en glo dat die einde amper in sig is, maar finansieel het hulle ons en die res van die aandeelhouers geruïneer.

Hulle sit elke Sondag voor in die kerk en dien op rade van vooraanstaande skole.

Dit voel party dae of die Here van ons vergeet het, maar Hy het ook wonderbaarlik vir ons gesorg vir dit wat ons nodig gehad het die afgelope paar jaar.

Ek raak moedeloos, want dit voel party dae of die skelms net van krag tot krag gaan en ons al hoe dieper in die donkerte verdwyn!

Hier is twee waarskuwings. Ons moet seker maak dat ons ons omring met mense wat saam met ons op God vertrou en liefde as ons fondasie uitleef. Jy sien, mense wat dit doen, neem altyd eers die ander in ag voordat hulle hulleself bedien.

Tweedens moet ons seker maak dat ons nie deel is van die spul wat nie op God vertrou nie en toelaat dat liefde nie deel is van die basis nie. Hier lê net pyn en seer gesaai.

Toe ek nog in die besigheidswêreld was, het ek altyd gesê dat ek nie besigheid doen met ’n ou wat met die Bybel onder die arm by die deur instap nie. Dit was nogal vir my sleg om dit te sê, maar soveel mense met ’n Bybel onder die arm het my al ’n rat voor die oë gedraai.

Ai!

Teks

1 Timoteus 1:3-7

Dink bietjie hieroor

Vertrou jy op God?
Bou jy alles op liefde?
Waar dra jy jou Bybel?

Gebed

Ons Vader, ek is so bang dat ek dalk soms nie uit liefde leef nie. Ek is bang dat ek nie altyd op U vertrou nie. Ek is bang dat ek soms dinge sê net om myself te hoor. Help my om nie pyn te veroorsaak nie, maar rêrig uit liefde te leef. Amen.

Shalom
Gerjo Ben
Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward.

Jy kan ook info@kruispad.com in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 30 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *