Uit jou hart, geloof en gewete vloei liefde

Uit jou hart, geloof en gewete vloei liefde
Hallo Frik

Alles wat ons doen, of dit nou is om ander mense op hulle verkeerde dade te wys en of dit nou is om ander die pad te wys, moet een doel voor oë hê: Liefde moet die gevolg wees. 5Doen dit asseblief, want dit lei tot liefde. Dit gebeur as ’n mens nie iets vir God probeer wegsteek nie en daar nie kwade bedoelings in jou is nie. Jy moet ook regtig op God vertrou en nie net maak of jy op Hom vertrou nie. Of soos die 1983-vertaling sê: 5Die doel van hierdie opdrag is om liefde te wek wat uit ‘n rein hart, ‘n goeie gewete en ‘n opregte geloof kom.

Rondom ons is baie mense wat nie op die regte pad is nie. Daar is sommige wat in dinge glo wat hulle eerder van die pad sal aftrek as help. Dit is ons verantwoordelikheid om hulle te help om weer die lig te sien. Dit is egter net moontlik vanuit een vertrekpunt, naamlik die liefde. Liefde is die enigste manier om grense van verskille oor te steek. Liefde is die enigste sleutel wat die hekke wat mense uitmekaar hou, kan oopsluit. As liefde nie die basis is nie, kan jy dit maar los.

God se Woord is baie duidelik oor dinge wat die liefde bevorder:

  • Jou hart moet skoon wees. Jy moet niks probeer wegsteek nie. Jy moenie maak of jy beter is as ander nie. Wees eerlik en opreg. Erken teenoor die een wat jy wil help dat jy ook foute maak, dat jy ook mens is, sondige mens. Dit is juis hoekom jy verstaan.Wanneer ’n mens ander wil help, help dit om eers jouself te ondersoek en jou eie pakkie by God te los. Wees eerlik oor die seer en die swaar en vra vir God om met Sy Gees jou te help om dit te dra. Kom staan in eerlikheid met ’n oop hart voor die persoon wat jy wil help.
  • Jou gewete moet skoon wees. Liefde kan nie deur ons dade vloei as ons nie seker maak dat ons gewete skoon is nie. Ons moenie ander probeer help met ’n agenda in die agterkop nie. So dikwels is daar meer persoonlike redes wat mense aanvuur om ander te help. Ja, met ons eie agenda wil ons ander help sodat ons ook iets daaruit kan kry.Ons moet seker maak dat ons bedoelings suiwer is. Ons moenie ander help omdat ons daarby kan baat vind nie. Dis vir seker nie maklik nie, maar om ander te help moet jy bereid wees om te gee, al kos dit jou wat. Dan kan die liefde deur jou dade vloei.
  • Derdens moet ons glo en vertrou. Ons moet op God vertrou. Op ons eie kan ons dit nie doen nie. Op ons eie kan ons nie probeer om probleme op te los en dink dat ons kragte goed en sterk genoeg is om dinge te laat uitwerk nie. Nee, ons het versterkings nodig.

Dis ’n groot verantwoordelikheid om ander mense te help. Ons almal is daarvoor geroep. Ons moet dit doen, maar nie op ons eie manier nie. Op God se manier. Ons harte moet skoon wees. Ons gewete moet skoon wees en ons moet glo en vertrou dat ons Vader Sy hand sal bysit.

Kom ons probeer dit. Kom ons neem ons opdrag ernstig op en sorg dat liefde orals uitvloei.

Teks

1 Timoteus 1:3-7

Dink bietjie hieroor

Waar is daar plekke waar jy met liefde moet gaan dien?
Is jou geloof in God eg en opreg?
Is jou gewete skoon?

Gebed

Jesus, ek wil my medemens met ’n opregte hart liefhê, sonder bybedoelings. Ek wil ’n skoon gewete voor U hê deur heilig te lewe en ek wil U volkome vertrou met my hele lewe. Help my asseblief sodat ek dit kan regkry. Ek vra dit in U Naam. Amen.

Shalom
Gerjo Ben
Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward.

Jy kan ook info@kruispad.com in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 18 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui