Potjiekos

‘n Reeks artikels oor kos sal nie volledig wees sonder om oor ons nasionale erfenis, potjiekos, te praat nie. Van die mense waarmee ek gepraat het voor ek hier kom sit het, het my op die vraag “Waar kom Potjie” vandaan geantwoord: van die Voortrekkers. Ek moet erken ek het ook nogal so gedink. Tot my verbasing is dit nie

Die ontstaan van die hutspot of potjie gaan sover terug as 1573. Op 15 Oktober 1573 het die Spanjaarde die Nederlandse stad Leiden beleër. Maar die Nederlanders was nie bekommerd gewees nie want hulle het genoeg kos in die stad gehad. Op 21 Maart 1574 los die Spanjaarde Leiden soos ‘n warm patat. Die mense was verheug.

Maar ewe skielik op die 25ste Mei 1574 beleër die Spanjaarde weer Leiden. Dit is net hier waar die moeilikheid begin. Die mense het nog nie tyd gehad om kos bymekaar te maak nie en niemand kon in of uit die stad gaan nie. Die kos was maar skraps. Gelukkig het die mense begin om gemeenskapsetes te maak. Almal het maar stukkie kos aangedra van wat hulle gehad het. Al hierdie flentertjies en skraapsels is in een pot gegooi en gekook. So het hulle maar elke dag saam geëet,

Daar is verder min bekend oor die hutspot en hoe hy begin het om deur Europa te trek. Elke jaar word die hutspot gemaak op die dag wanneer die beleg van Leiden beëindig is. Die mense het duidelik nie net die hutspot bly maak op die vakansiedag nie. Van Nederland het die hutspot Belgie, Frankryk en Engeland toe gegaan.

Natuurlik op 6 April 1652 het Jan van Riebeeck so ‘n paar hutspotte aan boord van sy skepe gehad. As mens daaraan dink is die potte net reg gewees om mee te kook in so ‘n wilde ongerepte land. Maar dit is nie al manier wat die potte hier in die suiderpunt van Afrika geland het nie. Die ontdekkingsreisigers het die swart potte by hulle gehad om hulle kos in te maak. Op een of ander manier het hulle seker maar die potte geruil vir gunste en gawes by die plaaslike bevolking.

Die plaaslike bevolking het gou gesien dat die swart ysterpotte baie beter kook en hanteer as die gewonne kleipotte wat hulle gebruik het. En so het die potjie vol pap ook sy plek gekry by die swart bevolking, en met hulle migrasie af na die suidpunt toe het die pot ook saamgekom.

In Kaapstad in die vroeë jare het die pot behoorlik gekook. Eers het die mense net kos daarin gaargemaak. Verder het hulle agtergekom dat hulle die potjie ook as ‘n oond gebruik en stukke vleis daarin gaarmaak, maar die einde was dit niet, want hulle het ook agtergekom dat mens ook brood in die pot kan bak. Maar met al die skepe met hulle vreemde speserye en geure het die potjie ook begin om meer geurig en smaaklik te raak.

Natuurlik was hierdie 3 in een pot ‘n natuurlike keuse toe die Voortrekkers die lang pad moes aandurf noorde toe. Die voordeel van die potjies is dat jy nie vreeslik baie nodig het om hom aan die gang te kry nie. ‘n Klein vuurtjie en ‘n paar stukke hout en siedaar gaan die pot aan die kook. Die ander voordeel is ook dat as mens die potjie stadig kook kan taai vleis lekker sag word. ‘n Ander voordeel ook vir die Voortrekkers is dat die aand as jy klaar geëet het, kan jy die volgende dag net jou potjie optel en aan die wa haak en daar gaan jy.

Hier in die Sewentigerjare het ons moderne wesens die potjie in al sy glorie laat herleef. Mense het begin agterkom dat as jy potjie maak dat daar ekstra paar uur lekker kuier mee gepaard gaan. Baie potjiekoskompetisies is gehou en daar is tot ‘n potjiegilde in Pretoria.

Die potjie se grootte word bepaal deur die hoeveelheid water wat hy kan neem. ‘n no 1 pot neem 2 Quarts water en ‘n no 3 pot 8 Quarts water. 1 Quarts water is gelyk aan twee pinte water, en natuurlik is twee punte is baie naby aan ‘n liter.

Deesdae is omtrent elke mens ‘n potjie kenner. Elkeen het maar sy gunsteling manier en gereg wat hy as sy eie beskou. Miskien moet ons dankie aan die Spanjaarde se vir die beleg van Leiden. As dit nie vir daardie beleg was nie sou ons kultuur definitief armer gewees het.

Advertisements
 

Pasta – geskiedenis

Die eerste verwysing na pasta kom voor in ‘n kookboek van ‘n sjef genaamd Apicius. Sy kookboek het verwys na ‘n dis wat baie ooreenstem met Lasagna soos ons dit vandag ken. Wat dit so merkwaardig maak is dat die boek geskryf is omtrent met die geboorte van Christus. Daar is ook in ‘n Eskutraanse grafkelder toerusting gevind waarmee mense pasta gemaak het.

Die volgende verwysing na pasta kom voor in ‘n kookboek genaamd “The Art of Cooking Sicilian macaroni and Vermicelli” wat geskryf was deur Martino Corno. Dit wil verder voorkom of pasta lank voor die tyd in die Arabiese lande bekend was aangesien die Arabiere praat van “macaroni”. Van die Arabiese lande het dit versprei na Griekeland en Sicilië.

Alhoewel pasta lyk my sy oorsprong gehad het in die Arabiese lande was die stad Palerma gereken as die pasta hoofstad van die wêreld. Dit is hier waar droë pasta op ‘n klein skaal die eerste keer industrieel vervaardig is. Hierdie feit is opgeteken deur ‘n Arabiese geskiedkundige in 1150.

In die jaar 1279 het ‘n prokureur ‘n inventaris opgestel van ‘n afgestorwe persoon se besittings. In die inventaris staan daar “a basketful of Macaroni’s”. Ek wonder net wie het die macaroni ge-erf. Tussen 1244 en 1316 is daar verskeie dokumente wat praat oor vakmanne wat pasta maak. In 1574 is daar ‘n dokument opgestel getiteld “Rules for the Pasta-Masters’ Art Corporation”.

In die 17de eeu, in Napels, was kos nie juis goedkoop gewees nie. In die 1700’s is pasta gemaak deur deeg en water te meng met jou voete Die koning was nie daarmee gelukkig nie en masjiene is uitgevind om die deeg te knie en te vorm. Mense het honger gely in Napels. Die twee uitvindings het gehelp om die vervaardiging van pasta baie goedkoop te maak. Baie gou het die mense van Napels pasta gekoop en begin eet. Net daar het pasta toe die kos van die volk geword. Die ligging van Napels was ook van so ‘n aard gewees dat pasta uitgedroog kon word en onbepaald gebêre word.

Tot en met 1830 het die mense pasta net gaargemaak en geëet, sonder enige smaakmiddel of sous. Die tamatie het alles verander, wat tot en met die begin van die 1800’s is tamaties nie gebruik in Europese kookkuns nie. Met die koms van tamaties het alles verander. Tamaties is in tamaai potte gekook, en is met sout en so een of twee geurmiddels gegeur. Die straat kos smouse het die sous oor hulle pasta gegooi en dit verkoop.

In die laat 1800’s het die pasta makers begin om verskillende vorms van pasta uit te druk en te maak. In 1913 het Italië 70 000 ton pasta uitgevoer na Amerika toe. Maar toe begin die Amerikaners om die pasta masjiene in te voer en hulle eie pasta te maak. Hier weer het die Italianers gewen, want hulle was die enigste mense wat pasts masjiene gemaak het.

Watter Suid Afrikaanse huisgesin het nie sy eie geheime Macaroni en Kaas resep nie. Wat is lekkerder om ‘n bord pasta te eet, waar die pasta so verdrink in die ryk maar lekker roomsous, en die hope Parmasaanse kaas oorgestrooi. Vir heerlike Suid Afrikaanse pasta geregte probeer gerus om ‘n paar van Lochner de Kok se pasta resepte te kry. Saam met die resepte kom ‘n waarskuwing, as jy eers eenkeer van die pasta geproe het sal jy nooit weer iets anders wil eet nie.

Van die Midde Ooste na Italië na ons borde, dit is ‘n lang pad maar gelukkig het die kossoort ook vir ons behoue gebly.

 

Banting

Dankie vir die instuur van die artikel Jan van Niekerk

Mariza van Zyl RD

SARIE ARTIKEL OOR BANTING

Dit voel asof almal die Banting-eetwyse volg, maar waarop is dié leefwyse gegrond, en hoe gaan dit ons liggame ná 30 jaar verander? Dieetkundige Mariza van BeterEet kyk in die kristalbal.

Lank, lank gelede – byna 200 000 jaar gelede – was die wêreld in ’n ystydperk, maar aan die suidelike punt van Afrika was daar ’n ander situasie …

Tim Noakes verwys na die mense wat in dié koue tyd in die Mosselbaai-omgewing gelewe het. Hulle was anders as die res van die wêreld, want hulle kon oorleef uit die omgewing – daar was ’n oorvloed see- en landdiere, asook ’n verskeidenheid plante, plantknolle en -bolle, blare en seeslaai wat hulle kon eet.

Hoekom is dit belangrik?

  • Dit blyk dat dié mense se brein in hierdie tyd drasties vergroot het, en dit as gevolg van die oorvloed vet en proteïene in hul dieet.

Hoe lyk dié mense se lewens?

  • Hul lewe bestaan uit kos soek: vis en seekos, jag van diere wat vrylik rondloop, grawe vir bolle en knolle, kinders grootmaak.
  • Hulle is fisiek baie besig en moet gereeld veg of vlug.
  • Hulle slaap wanneer dit donker is en word wakker as dit lig is.
  • Hulle eet alles rou.
  • Hulle is deel van groot families en saambly-kolonies – samesyn, ontspanning en bymekaarwees is deel van hul lewe.
  • Hulle word slimmer en kan uiteindelik met vuur na Europa migreer

Dít is die storie van die “Mosselbaai-mense” as ons prof. Curtis Marean se weergawe glo.

Die jaar 2014

Hoe lyk mense in 2014 se lewens?

  • Baie minder aktief, ons ry waar ons moet wees.
  • Ons lewe in warm huise en geboue
  • Ons eet verwerkte kos
  • Ons lewe dikwels geïsoleerd – jaag skool toe, jaag werk toe. Min tyd vir samesyn en ontspanning.

En wanneer ons die Banting-eetwyse volg, eet ons ekstra vet en vleis, en ongelukkig nie altyd genoeg groente nie. Ons skakel meer vrugte en sogenaamde stylselgroente uit. Gelukkig skakel ons “wit” kos (verwerkte en verfynde kosse soos meel, pasta, pizza, ontbytgraankos, suiker, kunsmatige versoeters) ook uit – dis goed!

Banting kan ook stywe derms veroorsaak – en hardlywigheid is maar net een newe-effek.

Negatiewe gevolge van Banting in jou liggaam

  • Nitrosamien wat jy kry van al die spek en gerookte/verwerkte vleis. Dít word verbind met kanker – veral dermkanker.
  • Heterosikliese amiene is gifstowwe wat vorm as vleis “brand” of bruin braai, soos met braaivleis.
  • Oormaat Omega 6-vet wat o.a. in diervette voorkom as diere nie gras en bossies geëet het nie, maar uit voerkrale kom. Dit verhoog inflammasie, asook jou risiko vir diabetes en kanker.
  • Preserveermiddels wat tydens massavoorbereiding in die vleis en spek gebruik word.
  • Antibiotika, veral in dierprodukte wat nie organies is nie.
  • Hormone kom voor in die vet van diere wat nie wild is nie.
  • Plaagdoders en gifstowwe van die slaai en veral blaargroentes as dit nie organies is nie.
  • Swaarmetale uit die vet van diere, want dis waar hulle dit “stoor”, en ook groente – selfs soms in organiese blaargroentes …

Die jaar 2040 …

Ontmoet vir Jan en San wat in 2014 begin het met die Banting-eetwyse …

Jan sit en staar by die venster uit. Hy bly in ’n tehuis. Hy mis sy San vreeslik, maar onthou nie veel van haar laaste jare nie. Hy onthou nie eens van gister en vandag nie…

San is jare gelede al oorlede aan ’n beroerte ná al die pille in die wêreld nie haar depressie kon ophef nie. Sy was pragtig maer – het goed gewig verloor met Banting, maar kon dit nooit regkry om van haar “boepmagie” ontslae te raak nie.

Wat moes San anders doen? Sy moes baie meer vis en plantolies geëet het en MEER groente, maar ook minder vleis en genoeg, maar nie te veel nie, vet…

Wat moes Jan anders doen? Die toksiene in die omgewing en bymiddels in die VET van die VLEIS, ROOM, EIERS, KAAS en BOTTER waarvoor hy so lief was, het sy brein aangetas. Organiese kos was net te duur en dit was baie makliker om in ’n supermark vir sy kos te “jag” as om dit self voor te berei. Die supermark maak jou ook nie so moeg soos om agter ’n wildsbok aan te hardloop nie. Jan het in elk geval nooit van oefening gehou nie.

Hy vat-vat so aan die sakkie onder sy hemp wat nou sy “derm” is … chroniese hardlywigheid het hom ingehaal.

Die les

As jy baie vet en vleis wil eet, moet jy weet wat jy doen.

BeterEet-groete tot volgende keer

 

Ongewone Kosse

Wanneer dit by ongewone kosse kom sit ons nasie nie te ver van die tafel af nie. Hier dink ek maar net aan skaapkop eet, biltong en snaaks genoeg monkey gland sous. Die oorseese mense dink ons is barbaars om gedroogde vleis te eet. Hulle kan dit nie verstaan dat ons vleis ophang om droog te word en dan te eet nie. Daar is ook ‘n persepsie dat ons monkey gland sous maak van ape se kliere. Maar wanneer hulle eers die delikatesses proe en eet dan is daar geen keer aan hulle nie.

Maar dit is nie net by ons wat ons ongewone kosse eet nie. Die Japanese is bekend en beroemd vir hulle Sushi. Ek hoor dat ‘n goeie Sushi sjef  ‘n aantreklike salaris kan verdien. In een van die gewildste restaurante in Taiwan waar die mense tou staan elke aand om te eet, is die spesialiteit vis. Maar dit is nie snaaks nie. Sodra jy inkom in die restaurant is daar ‘n groot vis tenk. Jou aandete swem so voor jou verby en jy kies die mooiste en lekkerste vis. Hulle vang dan jou vis vir jou. En net hier hardloop die papaja  in die fan vas. 

Die sjef gooi die vis net so heel in die warm water en kook hom. Die vis word dan net so netjies opgesny in soveel porsies as wat daar mense in die geselskap is. Hier moet julle net let op my woordkeuses, nie oopgesny en skoongemaak nie maar opgesny met die derms en al. Die stuk wat jy in jou bord kry moet jy net so opeet met die derms en al. Of dalk kry jy die kop met oë. Jig is al wat ek kan sê.

Franse en Italiaanse sjefs is lief om hane kamme te gebruik om hulle disse mee te versier. Die hane kamme is blykbaar heerlik maar so effe aan die taai kant. Die Aborigines van Australië is versot om suiker miere en gekapte gemarineerde kangeroe sterte te eet. In Oos Europese lande en veral Rusland is beer poot en beer steak ‘n delikatesse. 

In veral Sjina is Haai vin sop weer baie gesog. Daar hou hulle ook van om gedroogde voël neste te eet. In Sjina of Taiwan is daar ook honderd jaar oue eiers te koop. Dit word geëet op baie spesiale geleenthede, soos bv wanneer ‘n groot sake transaksie afgehandel word.

Gebraaide sprinkane en mopanie wurms is weer konigskos in Afrika terwyl miere gedoop in sjokolade bo aan die gourmet lys is in Japan. In Europe is skilpad vleis weer gesog en in sekere dele van Amerika is krokodil vleis weer gesog. In Mexiko is bees balletjies gesog veral van die beeste wat gesneuwel het in stiergevegte. Die lekkerny word gebraai in botter en olyfolie en met verskillende souse bedien.

Gelukkig het ek nou die mees grillerigste peusel happies uitgelos. Maar as ek so na die snaaksste disse kyk sal ek maar by biltong en monkey gland sous hou. Die twee geregte waarvoor die res van die wêreld hulle neus optrek bly maar baie lekker en ek sal definitief nie my stukkie biltong ruil vir ‘n  bees balletjie nie.





  

 

Nostalgiese Ete

Kaiings op warm tuisgebakte brood. Koningsmaal. Wie maak nog kaiings? Vir die wat nie weet hoe nie…..

Neem harde skaap, bees of varkvet. Sny die vet in blokkies. Verhit nou die vet in ‘n pot met ‘n klein bietjie water tot die vet gesmelt is. Braai nou tot die vet vloeibaar is. Die kaiings sal self vorm. Skep die kaiings uit die vet uit, laat afkoel en maal fyn.

Smeer dik op warm tuisgebakte brood.  

 

Nog Kos stories

Hier volg nog so ‘n paar kos stories.
So ‘n ruk gelede was ek en my vrou by ‘n buffet ete gewees. So in die ry gestaan met ons borde en gesels met vriende van ons wat voor ons gestaan het. Soos dit maar gaan het ek rys ingeskep met bitter min groente en net gewag tot ek by die vleis kan kom.
Net voor die vleis was daar ‘n bak met sous in. Ons vriende skep toe van die heerlike sous waarin stukkies groente dryf oor hulle rys. Nadat hulle vleis gekry het staan die Chef daar en skud sy kop. Hy sê toe mense darem, kyk daardie man het van my sop oor sy rys geskep.  Nou nog as ons die vriende sien praat ons oor die sop oor die rys episode tot hulle ontsteltenis.
In elke dorp is daar maar mos ‘n deel waar die sout van die aarde woon. Baie goeie mense maar die vernis is maar dun opgeverf. Op so ‘n troue hoor ek dat die bruid se ouers heerlike soetkoekies gebak het. Deel van die resep op een of ander manier was dagga gewees. Of dit nou fyngemaak was en in die deeg gegooi is en of hulle dit getrek het en die water gebruik het om die deeg aan te maak weet ek nie. Maar ek hoor die troue was ‘n sukses gewees want almal was blykbaar vrolik gewees.
Nog ‘n oulike storie met ‘n les is die volgende. ‘n Pasgetroude vrou wil die Sondag haar man beïndruk en haal ‘n heerlike stuk beesvleis uit en braai dit in die pot. Voor sy die vleis in die pot sit om te braai sny sy egter ‘n stuk van die vleis af. Haar man hou haar dop en vra aan haar hoekom sy dit doen. Haar antwoord was ek weet nie ek het altyd gesien my Ma doen dit.
Die eerste geleentheid wat sy kry vra sy haar Ma hoekom sny sy elke keer ‘n stuk vleis af voordat sy die vleis in die pot braai. Haar Ma se antwoord was sy het dit by haar Ma gesien. So kom die Ma by haar Ma aan en vra haar Ma hoekom het sy altyd ‘n stuk vleis afgesny voor sy die vleis gebraai het. Die Ma se antwoord was dood eenvoudig omdat my pot te klein was en die vleis nie daarin gepas het nie.
Die les daaruit is ons moet nie net alles aanvaar nie maar vrae vra oor hoekom dinge op die manier gedoen word waarop dit gedoen word.
Partykeer dink ek dat ons ons kinders faal met sekere dinge. So ‘n ruk gelede stop ek by ‘n kafee om vir ons koeldrank te koop. My seun vra my wat wil ek drink. Ek se aan hom lemonade. Hy kom terug met Coke. ‘n Paar keer het dit gebeur. Eendag gaan koop hy weer koeldrank en kom terug met Sprite. Hy se toe aan my Pa die Coke was warm gewees toe koop ek maar vir jou ‘n Sprite. Toe ek vir hom sê dat Sprite eintlik Lemonade is het hy lekker gelag.

 

 

Nog Kombuis wenke

Baie dankie aan almal wat hulle kombuis geheime met my deel. Hier volg nog so ‘n paar geheime wat julle gerus kan beproef.

  • Moet nooit Appels en Wortels in dieselfde kompartement in die yskas bere nie. Appels stel ‘n gas vry wat die wortels bitter maak. 
  • ‘n Maklike manier on kiwis te skil is, sny die kiwi in die helfte en gebruik ‘n teelepel om die vrug uit te skep. Siedaar en jy het ‘n perfekte geskilde kiwi. 
  • Indien jy ‘n skottelgoedwasser het, gooi wit asyn in die afspoelkompartement in plaas van die duur afspoelmiddels. U sal verbaas wees hoe skoon u skottelgoed gaan wees.
  • Wanneer mens mielies kook, kan dit taaierig raak en van sy smaak verloor. Kook ‘n pot water en gooi dan die mielies in die water. Wanneer die water weer begin kook is die mielies reg om te eet en te geniet. Die manier van gaarmaak, maak ‘n groot verskil. 
  • Partykeer het mens nodig om vleis dun te sny, maar dit is moeilik. Maar hier volg raad om dit dun te sny. Vries die vleis en haal uit vrieskas. Wanneer dit half ontdooi is sny dun. 
  • Wanneer mens boontjies kook moet bymiddels soos tamaties, asyn, suurlemoensap liefs aan die einde van die kooktyd bygevoeg word. Die suur laat die boontjies hard en ferm bly. Voeg liewers die bymiddels by sodra die boontjies gaar en sag is. 
  • Wanneer jy vleis in die oond braai, skil en sny twee uie in die helfte. Plaas die uie in ‘n oondpan. Plaas die vleis op die uie. Dit sal voorkom dat die vleis vasbrand en al die vet in die vleis drup af en trek nie in die vleis nie. Die uie kan ook geëet word. 
  • Wanneer kaas by ‘n dis gevoeg word moet dit aan die einde van die kooktyd bygevoeg word en moet teen baie lae temperature kook. 
  • Laevet kaas smelt nie maklik nie. 
  • Wanneer jy kaas met ‘n sagte tekstuur gebruik en jy kan dit nie rasper nie, kap dit dan eerder fyn. 
  • Maak ysblokkies deur stukkies suurlemoen skil, kersies of kruisement daarin te sit. Dit vertoon mooi en verleen atmosfeer aan die feestelike geleentheid. 
  • Wanneer jy pons maak, vries van die pons in ‘n ring vorm. Sit dan hierdie ring vorm onder in die pons bak. Dit sal die pons heerlik koud hou en voorkom dat die  ys die pons waterig laat proe. 
  • Gooi appelasyn in plaas van melk in jou pannekoek deeg. Die asyn gee ‘n heerlike smaak aan die pannekoek. 
  • Gebruik sitrussuiker om jou drankies mee te versoet. 
  • Gebruik sodawater om jou vrugtesap mee aan te maak. Die drankie borrel dan sommer so op jou tong.

Hoop hierdie wenke kan u verblyf in die kombuis ‘n meer aangename een maak. 


 

Smaak Verskil

In die fliek Octopussy sit James Bond aan die tafel. Voor hom word sy hoofmaal gesit, naamlik ‘n gebakte skaapkop. James Bond kyk geskok hoe sy gasheer die skaap se oog uithaal en eet. Net daar het die sterke James Bond sy eetlus verloor. So tussen hakkies hier by ons word ‘n skaapkop ‘n smiley genoem en ‘n halwe skaapkop ‘n half smiley. En die mense met ondernemingsgees verkoop smiley’s op Johannesburg se straathoeke koop.

Die studie van wat mense eet is ‘n baie interessante veld. Mense eet wat hulle voorvaders geëet het, biltong in ons geval, of hulle eet wat smaaklik vir hulle is of wat aantreklik lyk. Geur speel ook natuurlik ‘n rol in die keuse van voedsel. Ons eet kos ook as gevolg van ervarings wat ons gehad het. Baie kere sit sekere kombinasies ons ook af. ‘n Vriend van my is baie lief vir eiers en steak. Eendag het sy vrou vir hom ‘n Portugese steak gemaak, waar sy die eier op die steak gesit het, en die man het net sy  neus daarvoor opgetrek. 

Baie mense wat byvoorbeeld lief is vir aartappels, maar hulle is nie lief vir aartappel slaai omdat daar bv. uie in is nie. Maar hulle sal uie rou eet. Maar wee jou as jy die ui in hulle aartappelslaai sit. ‘n Sjef van ‘n groot restaurant in New Jersey maak gereeld Kalfs Niertjies gaar vir sy klante maar hyself sit nie sy mond daaraan nie. Iemand anders het aan my vertel dat hy eendag die Franse se spog dis Paddaboudjies geëet het. Sy mond het aan hom gesê dat dit heerlik is en net soos hoender proe maar sy brein het vir hom gesê dat dit ‘n padda se boudjies is. En net daar het hy opgehou om dit te eet. 

In ons land kan mens ook duidelik sien dat daar mense is wat as gevolg van geloofsoortuigings nie sekere voedsel eet nie. Soos bv die Jode wat net sekere dele van die bees of skaap mag eet. Natuurlik moet die skaap of bees ook op ‘n seker manier geslag word. Net so maak die Moslems ook. So tussen hakkies, dit is my persoonlike opinie dat die Jode en Moslems meer in gemeen het as wat hulle dink. Ander mense eet weer nie sekere voedsels nie omdat hulle nie die ware toedrag van sake ken nie. 

Mense sal nie swart peper eet nie omdat dit kwansuis in jou blindederm sal vassit. Nog ‘n mis konsepsie is dat as jy grondboontjies na sonsondergang eet jy maagkrampe sal kry. Daar is mense wat glo dat jy nie enige vloeistowwe moet inneem as jy eet nie. Baie keer affekteer die tipe van mis konsepsies ‘n mens in so ‘n mate dat jy neuroties daaroor raak. 

Dit is my persoonlike gevoel dat ‘n mens nie moet stagneer in wat jy eet nie. Probeer nuwe dinge en nuwe smake. Gaan eenkeer na ‘n Japanese restaurant en probeer net een stukkie sushi. Probeer net een keer om lewer te eet, as jy nog nooit dit geëet het nie. Wanner jy dalk weer eendag garnale gaarmaak, gooi sommer ‘n bietjie sjokolade sous oor. Probeer iets nuuts. Vergeet van al die voorskrifte van wat jy mag saam met wat eet. Vergeet dat die kenners sê dat jy nie rooiwyn saam met witvleis mag drink nie. Keer die reëls om en bewys die kenners verkeerd.

As ons na die Suid Afrikaanse bydraes kyk tot die wêreld se kos kas is dit vreemd vir ander mense. Biltong wat gedroogde rou vleis is, en ‘n sous wat ons, ons steaks in verdrink, naamlik monkey gland sous, en dan kom ons en ons trek ons neuse op vir sushi en slakke. 

Neem daardie eerste stap en verander net iets, en maak dit net eenkeer anders gaar as gewoonlik, en kyk wat is die reaksie van die mense om jou. Stuur gerus aan my julle anderse kos ervarings.

 

Moet nie verniet spoke opjaag nie

Julle ken seker almal die storie van die seuntjie wat altyd in die dorpie ingehardloop het en geskreeu het dat ‘n wolf hom jaag. Die eendag gebeur dit toe regtig en niemand het hom geglo nie. Dit is presies hoe ek voel.

Êrens het iemand uitgevind dat ‘n kleurmiddel Soedan rooi kanker veroorsaak. Die hele wêreld is in rep en roer. Alles wat Soedan rooi kleursel in het word verbied en vernietig. Hier in ons vaderland is die opposisie partye en ander nie regerings organisasies in rep en roer omdat die departement van gesondheid so lank gevat het om dit hier in Suid Afrika te verban. 

Van die kettingwinkels kon nie vinnig genoeg speserye wat moontlik Soedan rooi bevat van die winkel rakke afhaal nie. Kennisgewings is vinnig opgesit op lee rakke wat uitskreeu dat hierdie artikel van die rakke af verwyder is omdat dit moontlik Soedan rooi bevat. In Woolworths  het so ‘n groot kennisgewing by hulle kosafdeling wat uitblaker dat geen van hulle produkte Soedan rooi bevat nie. 

Soedan rooi is ‘n kleurmiddel wat hoofsaaklik gebruik word in bruin skoenpolitoer. Dit word toe op ‘n manier in kerrie gegooi om die kerrie ‘n mooi rooierige kleur te gee. Veral die kerrie poeier Skoonma se tong is een van die sondebokke. (Is skoonma’s maar nie altyd sondebokke nie ?).

Na al die geharwar en ondersoeke kom daar een of ander groot wetenskaplike op TV nuus en verklaar aan die wêreld dat Soedan rooi wel kanker veroorsaak, maar net as jy dit in groot hoeveelhede inkry. Indiërs is seker die gebruikers wat die meeste kerrie eet en ek glo nie dat kanker juis meer in hulle geledere voorkom as in enige ander bevolkingsgroep nie. Mense soos ons wat een keer per maand miskien ‘n matige kerrie eet is nie juis op die risiko lys nie en kan maar net so aangaan.

My vraag is nou hoekom is daar so ‘n groot bohaai oor die hele storie gemaak? Hoekom is die hele wêreld in rep en roer? My vraag is wie maak geld daaruit? Daar is volgens my kosse wat meer gevaarlik is as Soedan rooi en niemand maak ‘n lawaai daaroor nie. Eendag gaan hierdie mense wat so ‘n lawaai opjaag miskien reg wees maar niemand gaan hulle glo nie. 

 

Marshmallows

Wie ken nie daardie smelt in die mond wit en pienk sagte lekkergoed nie ? Almal sal seker nie daarvan hou nie maar dit is een van die tydlose treffers. So nou en dan kom daar ‘n variasie marshmallows uit met vrugte geure. Of hulle maak sulke gedraaide marshmallows. Maar die toets van die tyd is maar die beste beoordelaar van smake, en natuurlik seëvier die wit en pienk marshmallows nog altyd. Die heerlikste slaai (of dalk is dit nagereg) wat ek nog geëet het is Marshmallowslaai. 

In die 1800’s  het dokters die sap van die marsh mallow plant se wortels geneem en die sap onttrek. Hulle het dan die sap gekook saam met eier witte en suiker. Hulle het dan die konkoksie geklits totdat dit ‘n skuimerig meringue gevorm het. Die mengsel het dan verhard. Hierdie mengsels is dan vir kinders gegee om te eet as hulle kele seer was. Maar dit was nie al waarvoor die konkoksie gebruik was nie. Dit het ook gehelp om hoes buie te onderdruk,  die immuun stelsel te versterk en ook om wonde gesond te maak. 

Dit is nie net in die 1800’s wat die sap van die Marsh Mallow plant se sap gebruik is nie. Die eerste gebruik en die maak van marshmallows dateer terug na die ou antieke Egipte toe. Daar het hulle heuning lekkergoed verdik met die sap van die marsh mallow plant. Ek het, toe ek begin navorsing doen het oor marshmallows, lang tand begin byt aan die plant storie. Ek kon nie glo dat daar so plant was nie. Maar hier is die bewys. Dit is hoe ‘n marsh mallow plant lyk.



In die laat 1800’s het die mense egter begin om gelatien te gebruik in plaas van die marsh mallow se sap. Toe hulle dit begin doen het was dit ook die einde van die helende eienskappe van marshmallows gewees. In 1948 het Alex Doumak uitgevind dat mens marshmallow mengsel in pype kan sit en dan in ewe lang stukke kan sny. Dit het die produksie van versnel.  

Hier is my gunsteling marshmallow slaai resep:
 Bestanddele
300 g Malvalekkers.
1 Blikkie fyn pynappel
175 ml Grenadella joghurt.
Metode
Sny malvalekkers in kwarte.
Meng al die bestanddele saam.
Laat staan oornag en geniet dit die volgende dag.
So tong in die kies wil ek nou die volgende vraag vra : Wie na hierdie artikel sê dat lekkers nie goed is vir ‘n mens nie? Geniet julle marshmallows terdeë.