Katima Molilo

Katima Molilo

Met my uitgebreide kennis van radio’s en radio prosedures was ek gelukkig gewees om oor geplaas te word na die OPS Kamer toe. In die ops kamer het ons al die radio boodskappe ontvang en
geliasseer in verkillende kategorie en afdelings.

In die oggende is daar vergadering gehou deur die offisiere en waar die leërs en inligting nagegaan is. Dit is nou maar net in ʼn neutedop wat hier aangegaan het. Ons regiment was uitgeplaas en so hier en daar in Katima was van ons mense gewees. So ek was maar alleen in die vreemde see van die basis gewees.

Nou ʼn ander ding. Ek het sommer so van die begin af gesê of gevolunteer om in die aande te werk. Aandskof het sewe uur in die aand begin en sewe uur in die oggend opgehou. Dit was lekker.
Daar was altyd twee mense op diens gewees deur die nag. ʼn Offisier en natuurlik ek. Die radio kamer waarvan ons die berigte gekry het, was in ʼn aparte kamer reg langs ons groot kantoor gewees.

Ons het in die aande geëet en dan eers weer ontbyt in die oggende. Daarna het ons gaan stort en gaan slaap. Baie keer het ons deur die middagetes geslaap. In die aande so teen 12 uur word mens
lekker honger. In so groot basis soos Katima werk die kokke dag en nag. Een aand vra ek die luitenant of ek kan kombuis toe.

Daar aangekom verduidelik ek aan die kokke wat nou eindelik ons probleem is. Hulle kyk my so aan en se ok ek kan vat net wat ek wil en self gaarmaak, want hulle het nie lus om vir ons kos te maak
nie. So gesê so gedaan. Dit was lekker om in so ʼn kombuis te werk. Een aand is dit fillet gebraai in botter, of die ander aand is dit T-bones met chips. Partykeer toebroodjies. So het ek aangegaan. Elke aand twaalf uur het ek ingeklok in die kombuis en so rukkie later het ek en die luitenant heerlik geëet.

In enige basis is daar drie menasies. Een vir offisiere, een vir onderoffisiere en een vir die troepe. Soos met ontbyt het die troepe bv. pap, toast en eiers gekry. Die onderoffisiere het dieselfde gekry met gebakte tamaties, verskillende konfyte en miskien geurige maalvleis.

Die offisiere het die hele spread gebry met ʼn stukkie steak, gebraaide mushrooms, keuse van gekookte of gebraaide eiers. So het dit gegaan. Ek moet sê die kos in Katima was nogal baie lekker
gewees. Niemand het honger gely nie.

In die oggende as ons van diens afgekom het, het ek en die offisier saam afgeloop menasie toe. Teen die tyd wat ons afgekom het, het die basis se mense al klaar geëet en die menasie was leeg gewees. Baie keer het die offisier my genooi om saam met hom te gaan ontbyt eet. Dan het ons behoorlik weggelê aan die kos. Daar was geen beperkinge aan die hoeveelhede wat ons kon eet
nie. Want alles wat oorgebly het, kon ons skep en weer skep. Ons het genoeg geët om ons te help oor middag ete wat ons nie moontlik sou eet nie.

Advertisements
 

Die Derde Maal

Die Derde Maal

Na so twee jaar kom die bleddie amptelike koevert weer daar by ons aan. My dogter was ses maande oud gewees.

Net voor die kamp besluit ek en my vrou dat ons so bietjie gaan vakansie hou in Durban. Ons bespreek plek in een van die vakansie woonstelle en kry een op die 10de vloer. Die een aand kruip ek in die bed in. My vrou sit ons dogter so tussen ons twee. My vrou blaai deur ʼn tydskrif en wys so die prentjies vir my dogter.

So raak ek aan die slaap, en droom een vieslike droom. Ek droom en herleef weer die aanval op Ruacana. Maar baie erger, want ek droom dat die MPLA se soldate die kamp omsingel het. My vrou
skuur met die tydskrif teen my arm en ek word wakker en vlieg op. Uit volle bors begin ek skreeu en hardloop na die woonstel se venster toe. Ek ruk en pluk aan die venster om die venster oop te maak. Ek wil net uit en weg kom van die aanval af. Ek is bang en skreeu al hoe harder. Gelukkig praat my vrou en ek skrik wakker, nog met my hande doening by die venster. Gelukkig kon ek nie die venster oopkry nie, anders het ek definitief by die venster uitgespring.

ʼn Paar weke na die vakansie is ek weer op ʼn Flossie (vliegtuig) Suidwes toe. Hierdie keer gaan ons Katima Molilo toe. So word daar aan ons vertel. Met die afwesigheid van kajuitpersoneel en drankies en eetgoed was die vlug nie te sleg gewees nie. Toe dit tyd raak om te land begin die strooi. Die vliegtuig vlieg in sirkels al laer. Hel dit was beslis nie lekker gewees nie. My maag het in my keel gesit.

Daar uitgeklim gaan ons na ʼn basis so ent van die lughawe af vir ons week se oriëntering. Katima lê langs die rivier. Regoor ons is Zambia. Daar is ook ʼn dorp aan die oorkant van ons gewees.
Sowat ʼn jaar voor ons daar aangekom het, op 23 Augustus 1978 het Swapo die een aand die basis aangeval. Agt of nege van ons soldate is daar doodgeskiet. Al die Soldate was van 2 SDB (2 Spesiale Diens Bataljon). Hulle het teenstrydig met hulle opleiding nie in die loopgrawe gaan skuiling soek nie. Toevallig was daar ook ʼn radio joernalis van die Sauk ook daar gewees.

Toe die eerste 122mm missiel die basis tref hardloop die joernalis en sit sy bandopnemer op die bomskuiling se dak en so kry die weermag ook ʼn klankbeeld van die aanval. Die volgende dag of kan
ook nog dieselfde aand wees het die weermag ook nog honderde foto’s van die aanval geneem.

Die foto’s en die klankopname is as deel van ons oriëntasie aan ons gewys. Eers het ons na die klankopname geluister. Tussen die mortiere word daar hardop gebid, God word vervloek, manne wat
skreeu om hulp, manne wat hard sit en huil. ʼn gekreun en gekerm oral waar jy kan hoor.

Maak nie saak wie of wat jy is nie, om sulke dinge te hoor is nie maklik nie. Nou word die foto’s rondgestuur. Een foto wat ek altyd sal onthou is ʼn foto van ʼn lyk in ʼn boom. Die een helfte van die man se kop is weggeskiet. Daar kom so ʼn haat en woede in jou op wat nooit, nooit verlaat nie.

Een van die offisiere het iets gesê soos “Sien julle wat die blerrie mense doen aan ons mense” . Met die beeld en klank nog vars n ʼn mens se geheue en met die woorde kan jy nie anders as om al wat swart is te haat nie.

So begin ons, ons derde kamp.

 

Nagevolge

Nagevolge

Na my eerste kamp het ek werklik eerstehands met die nagevolge van so ʼn lang kamp te doen gekry. Ons het baie keer gesien en gehoor van manne wat bossies geraak het. Bossies is net ʼn mooi woord vir MAL.
Vandag noem hulle dt PTSD ~ Post Traumatic Stress Disorder.

Baie manne het heeltemal hulle kop verloor en heeltemal bossies geraak. Die trigger was baie keer ʼn Dear Johnny gewees, of slegte nuus van die huis af, of dalk ʼn makker wat geskiet is. Al wat ek
weet die oorsake was legio gewees.

Die Maandag oggend na my tweede kamp maak ek klaar. Toe ons by die kar kom, klim ek agter dis stuur in. My vrou vra aan my of ek nog kan bestuur. Natuurlik ek is mos nie dom nie. Ek trek daar weg met volle vaart. Dit lyk behoorlik of ek dronk is. Die kar loop van die eenkant van die pad na die ander kant van die pad.

Gelukkig voor ek by die hoofpad kom, kry ek weer die kar onder beheer, of sal ek nou sê, weer die gevoel om te bestuur. So ry ons aan. In ons dorp was daar ʼn verkeersirkel gewees. Toe ek al die
verkeer sien, en glo my in ons dorp, tot vandag toe is daar nie baie verkeer nie, begin ek bewe. Op daardie oomblik kon ek net nie al hierdie geharwar om my hanteer nie.

Die bewerasie was so erg gewees dat ek uit die kar geklim het en my vrou het oorgeskuif en verder bestuur. Die angssweet het my uitgeslaan. Na ʼn hele paar dae in die passasiers sitplek om al die
verkeer gewoond te raak, het ek weer begin bestuur.

Op daardie stadium het ek by ʼn bank gewerk as kassier in die mobiele bank. Die oggend gaan ek in die kluis in, neem oor van die ander kassier. Dit was so naby aan die einde van die maand
gewees en ek neem nogal heelwat kleingeld saam.

Die kleingeld het ons in so groot leer tas gesit. Een van die swartes wat moes help dra aan die geld na die mobiele bank toe, tel mos die leer tas op en sê vir my “Haai jy, jy het die tas te swaar gelaai”.

Onthou dit was in 1978. Ek gryp die man met my linkerhand voor die bors, trek my regterhand terug en sê vir hom “Jou !#&^*)(ka____, jou bliksem ek dood vandag”.

Gelukkig vir hom kom ons rekenmeester daar verby en sien dat ek die man nou ernstig gaan aanrand. Hy hardloop in die kluis en ruk my weg van die swarte af. Hy kyk die swarte so aan en sê toe vir
hom, jy beter doen wat die man vir jou sê.

Wat deur my kop gegaan het, was hoe kan hierdie swarte so met my praat. Wie dink hy is hy. Al die haat wat ek gehad het, al die swaarkry, al die verlange, al die pyn en seer het in daardie een oomblik oorgekook in my.

In dieselfde tydperk was daar ook ʼn insident gewees waar ek werk toe gery het, en die arme swarte ry op sy aflewerings fiets met die mandjie hier voor hom. Tot vandag kan ek nie onthou wat het in my kop aangegaan nie. As my vrou nie die stuurwiel gegryp het en geruk het nie, het ek die swarte blatant doodgery. Al wat ek kan onthou is dat ek daardie diepgewortelde haat in my gehad het.

 

Die GO Carts

Die Go-Carts

Nou het ek mos al aan julle vertel van die Go-Carts. Sulke rye donker groen plastiese toilette wat oor slote gesit word, waar mens nou rustig sit en die natuur sy gang kan laat gaan.

Maar daar is niks romanties daaraan nie, want gewoonlik is daar meer as een mens daar, en dit is nou nie juis so lekker menslik om te sit en kyk hoe ʼn ander man sit en sy sake doen nie.

Nou dit is warm daar. Seker so oor die veertig grade. Nou al die gemors wat omtrent kook daaronder, is daar natuurlik baie brommers. Alles word probeer om die brommers in beheer te bring. Kalk, grond, chemikalieë en wat nog weet ek nie.

Een van die medics kry toe ʼn briljante idee. Hoekom gooi hulle nie Diesel in die slote nie. Baie goeie idee en hulle gaan haal so ʼn paar liters diesel en gooi in die slote. Weg is die brommer en almal
wonder net weer vir hoe lank gaan hulle nou wegbly.

Niemand dink daaraan dat die diesel saam met die stront eindelik ʼn ramp kan veroorsaak nie. Daar is nie eers so halwe gedagte by iemand nie. Niemand doen iets en se vir iemand anders van die diesel in die slote nie.

Die een troep gaan skuif homself so reg om daar lekker te sit en te lees. Hy haal ʼn sigaret uit steek hom aan met vuurhoutjies en gooi die brandende vuurhoutjie tussen sy bene in die sloot af. Een moerse ontploffing.

Die medics het die man net so van die Go-Cart afgetel en na die hospitaal tent toe gedra. Deel van sy bene en gat is verbrand. Die ongeluk het in die laaste twee weke van ons kamp gebeur. Nadat die man so op ʼn manier kon loop, het hy met ʼn handdoek om sy lyf rondgeloop. Hy kon nie broek en onderbroek aantrek nie.

Ek dink hy is so met die handdoek om die lyf huis toe. Arme blikskottel.

 

Radio Dra

Op die grens was patrollies die oë en ore van die weermag gewees. As die patrollie reg gedoen word en nie ontaard nie kan mens waardevolle inligting kry oor die vyand en hulle bewegings. Spore word dalk opgemerk, so nou en dan loop jy ook iemand raak wat nie daar moet wees nie. Maar dit het min gebeur. Dan waar jy ook al patrollies loop is die vyand gewoonlik nie so bedrywig nie.

Somtyds gebeur dit dat jy op vyandelike patrollies afkom en dan is daar natuurlik onmiddellike gevegte tussen die twee patrollies. Die voet patrollies word fyn beplan. Die roete wat geloop gaan word, hoe lank en hoe vêr geloop moet word, word beplan. Maar met enige beplanning is dit dat alles mooi lyk op papier, maar wanneer dit op die uitvoerings punt kom word alles nie so mooi uitgevoer nie.

Daar is verskeie redes daarvoor. Die troepe is nie so fiks genoeg om die aantal kilo’s in die bestaande tyd af te loop nie. Die kit wat jy saamdra is miskien net te swaar. Of dit reën of dit is te warm.
Baie keer kan dit meer as een van die faktore wees wat saamwerk om ʼn patrollie nie suksesvol te laat afloop nie.

Patrollies is ʼn daaglikse gebeurtenis en een van die stukke toerusting wat mens moet saamneem is ʼn radio. Op baie van die patrollies gaan daar ʼn medic ook saam of dan ʼn noodhulp tas. Radio’s is ʼn lewensmiddel wanner jy in die veld is, maar dit is ook ʼn bron van vermaak. Sodra mens op die grens kom is die eerste ding wat jy uitvind wat al die Foxies (golflengtes) is. Jy kry dan al die Radiostasies se golflengtes. Dan kom daar natuurlik ook ʼn foxies of twee uit wat jy nie veronderstel is om te hê nie.

Daar was een spesifieke foxie gewees van ʼn plek in Walvisbaai. Jy praat met die operateur daar en hulle sit jou dan deur na enige foon in Suid Afrika. Jy praat dan oor die radio met jou geliefde. Maar dit is gevaarlik gewees, want as hulle jou gevang het, sou hulle jou in die tronk gegooi het en die sleutel weggegooi het.

Op ʼn stadium het ek ook ʼn foxie gehad van die plaaslike poskantoor. Jy skakel op die foxie in en dan kan jy luister na die gesprekke wat deur die poskantoor gegaan het. Daardie een het ek net gebruik
om te hoor as my vrou my skelm gebel het. Sodra ek haar stem gehoor het, het ek dan na die foon gegaan en gewag dat haar oproep deurgesit word.

Omdat ek so in die radios in was moes ek saam uitgaan om die radio te dra en natuurlik boodskappe te stuur. En as die moeilikheid ons inhaal kan ek dan om hulp roep. Baie mense besef nie die belangrikheid van ʼn Radio in enige oorlogs situasie nie.

Die probleem met die radio kom daarin om hom te dra. Hy weeg maar net ʼn paar kilos, maar dit is ʼn dooie gewig. Die radio word op ʼn dra raam gemonteer en dan gooi jy die raam oor jou rug. Die raam is so in die vorm van ʼn mens se rug. Na ʼn paar kilo’s op ʼn warm dag is dit nie meer ʼn plesier om die radio te dra nie. Die raam skaaf en skuur jou waar jy nie geskaaf en geskuur wil wees nie. Jy loop naderhand krom om net die gewig van die radio te probeer eweredig te versprei. Maar jy is nie altyd suksesvol nie.

Eendag weer op patrollie dra ek die radio en dit is warm. Die sweet tap my naderhand af. Hier moet ek ook bysê dat ek ook al die ander kit moet dra wat die ander soldate ook dra. Hulle draf omtrent die
patrollie want hulle het nie die ekstra gewig wat ek moet dra nie.

Nou die manne sal jou altyd help waar hulle kan, maar om ʼn swaar radio te dra is nie iets waarmee hulle jou sal help nie. So in die stap eendag vorm daar ʼn goeie plan in my kop. Met die eerste rus wat ons kry sit ek die oorfone op die radio. Ek “tune” die radio na een van die foxies (Golflengtes) van ʼn radio stasie. Toe die patrollie opstaan sit ek een van die oorfone op een van my ore, want ek wil darem hoor wat om my aangaan. So loop en luister ek heerlik na musiek. So begin ek neurie en fluit.

ʼn Wonderlike ding gebeur want noudat ek op die musiek konsentreer kom ek nie agter dat ek moeg en seer is nie. Die manne in die patrollie vra my hoekom het ek die oorfone op. Ek haal dit van my kop af en sit dit op sy kop. Hy hoor al die lekker musiek. Net daar vra hy my of hy die radio so ruk kan dra. Ek
was nie ongewillig gewees nie. Om konflik tussen die troepe te voorkom het ek naderhand ʼn skedule opgestel om te se wie dra wanneer die radio.

 

WWII Truuks

Daar is nie meer baie manne wat seker die dinge kan bevestig nie. Maar toe ons diensplig gedoen het en ook kampe daarna, het daar baie stories rondgeloop oor die tweede wêreldoorlog. Al wat ek kan sê is dat dit nie kinderspeletjies was nie.

Die Bosoorlog wat ons teen Swapo en die kommunistiese magte gevoer het, was kinderspeletjies gewees teen wat ons Pa’s en Ooms in die tweede wêreld oorlog ondervind het, en ek wil net my hoed afhaal vir daardie manne.

Een oom wat jare gelde saam met my gewerk het, het my een keer vertel dat hy in Italië geveg het, nogal in die winter. Hy het vertel dat as hulle in die oggende water afslaan moes hulle weer die gereedskap vinnig in hulle broeke gesit het ander vries die laaste druppels vas. Nou of dit waar was, weet ek glad nie.

Ander stories ook uit die tweede wêreld oorlog is, as onderoffisiere die troepe mishandel het, het die troepe eenvoudig ʼn .303 koeël geneem, hom baie blink gemaak met Brasso. Nadat die koeël blink genoeg was, het hulle die koeël op die onderoffisier se kopkussing gaan sit.

Die koeël het dan gedien as waarskuwing. Stop jou strooi of in die volgende geveg is hierdie koeël die koeël wat jou gaan doodskiet. Blykbaar het hierdie plan van aksie baie goed gewerk. Die wat nie na die waarskuwing geluister het nie, is eenvoudig dood opgetel op die slagveld met ʼn koeëlwond in die rug. Blykbaar het baie onderoffisiere so gesterf.

As die offisiere volgens die troepe onregverdig was, het hulle nie ʼn blink koeël op hulle kopkussings gekry nie, maar jy het hulle eenvoudig in die veld gesalueer. Die rede daarvoor is heel eenvoudig en dit is dat daar gedurende die WWII oral skerpskutters rondgesluip het, en hulle taak was om so bietjie paniek onder die vyande te saai. Die maklikste was natuurlik om te kyk of hulle die offisiere eerste kan doodskiet en dan is die troepe sonder ʼn leier.

So as jy dan ʼn offisier salueer dan kan die skerpskutters sien wie is die offisiere, want die offisiere en onder offisiere het geen rang tekens in ʼn geveg situasie gedra nie. Nou al die stories oor WWII? Toe ons in Ruacana was, was daar so blonde sersant gewees, wat die lewe van sy troepe hel gemaak het. Iemand het iets onthou wat sy Pa of Oupa gesê het oor die koeëls. Iemand wat ek nie weet wie nie, en wat nou al baie gatvol vir die sersant en sy streke was, gryp ʼn koeël en Brasso. Van die mense wat die koeël na die tyd gesien het, het gesê jy kon jou hare in die koeël kam, want so het hy geblink.

In elk geval die koeël land toe op die Sersant se kopkussing, sonder dat enige iemand gesien het. As ek reg kan onthou is die Sersant na ʼn week huis toe met ʼn senuwee ineenstorting. Hy kon die spanning nie meer vat nie.

Hier wil ek net sê dat ons as troepe nie altyd engeltjies was nie, maar dit was ook nie nodig om ons almal partykeer soos varke te behandel nie.

 

Die Dam

 
So ʼn paar kilos suid van Ruacana was hierdie dam gewees. Langs die dam was daar ʼn pompstasie gewees. Ek kan nie onthou of daar pal wagte by die dam was nie. Ek glo nie, want dit is waar ons so een of twee keer gaan visvang het. As daar wagte was sou ons nie visgevang het nie.

Daar is natuurlik maniere en maniere om vis te vang. Al die vissermanne wat ek ken, gebruik ʼn visstok om vis mee te vang. Ons het natuurlik nie sulke luxuries gehad soos visstokke of lyn of enigiets wat mens kan gebruik om op die normale manier vis te vang nie.

Wat ons gedoen het was om ʼn handgranaat te vat, die pennetjie uit te trek en die handgranaat so vêr as wat jy kan in die dam te gooi. Wanneer die granaat ontplof bars iets in die visse en hulle dryf na
die oppervlak wan die water toe, dood natuurlik. Die visse wat ons “gevang” het was nou amper nie eers so groot soos sardientjies gewees nie en ons het nie eers die moeite gedoen om hulle te gaan
uithaal nie.

Een Sondagaand gaan kamp ʼn troep pantser karre langs die pompstasie. ʼn Klomp van die troepe waaronder hulle luitenant, het in hulle slaapsakke lang die pompstasie se muur gaan slaap.

Vroeg oggend het die ters so ʼn paar skote met ʼn RPG 7 na die pompstasie geskiet. ʼn Groot stuk skrapnel is deur die Luitenant se kop en hy is opslag dood.

In een van die pantser karre het een van die troepe in ʼn sitplek aan die slaap geraak. Sy voete het uitgehang. Sy voet is byna afgeskiet. Die pantserkar drywer het die man se bene in die pantser kar
ingesit, ingeklim en met die beseerde die paar kilos na ons basis toe gejaag.

Die Dr’s was onmiddellik by gewees en kon sovêr ek kan onthou die man deurtrek. Maar ek sal ook nooit vergeet hoe vol bloed die pantserkar was nie. Iets van om van naar te word.

Eendag het ek gehoor hulle het gesê dat die aanvalle gemiddeld 20 sekondes duur. Maar as jy in so ʼn aanval is staan die tyd stil en dan duur die aanval ure.

Ons het onmiddellik opgevolg maar die ters was al lankal al weg gewees.

 

Die Aanval

So een middag half laat teen skemer se kant as ek reg kan onthou het die MPLA soldate aan die anderkant van die grens, seker baie verveeld net soos ons het die middag besluit vir so ʼn bietjie opwinding. Hulle het so ʼn paar mortiere in ons rigting geskiet.

Onthou dit was baie warm gewees en ons drag was net onderbroeke gewees terwyl ons in die tente was. As ons dit buite die tente gewaag het, het ons darem ons boots aangehad. Die dag met die “aanval” was weer baie warm gewees. So ons het net weer in ons onderbroeke gelê in die tente.

Ons hoor almal die eerste mortier aankom. Ons besef hier is moeilikheid en ons moet uit ons tente na ons loopgrawe toe. Die eerste ding is dat ons in ons boots inspring. Daar is nie tyd om die
boots vas te maak nie. Die volgende stuk toerusting wat ons gegryp het was ons webbing.

Nou vir die wat nie weet nie, die webbing het so ʼn paar klein sakkies gehad waarin mens jou magasyne vol ammunisie gesit het, en dan op die rug het dit twee groterige sakke gehad waarin ons dixies
(eet bakkies) gesit was. Dan êrens op die webbing was daar ook ʼn sak waarin jou waterbottel gepas het.

In elk geval het ons nou al ons webbing aan, boots aan, gryp die staaldak sit hom op die kop en natuurlik ons gewere. Daar hardloop ons na ons loopgrawe toe. Die verskriklike aanval het nie lank geduur nie. Ek dink hulle het slegs twee of drie mortiere op ons geskiet. En gelukkig het almal buite die basis geval.

Na die tyd het ek baie gelag oor die situasie. Halfkaal soldate wat oorlog wil maak. Daardie paar sekondes het soos ʼn ewigheid gevoel. Ek kon nie die gevoel beskryf wat deur my gegaan het nie. Hier hoor ons dood aankom en jy doen sommer ʼn paar dinge geyk, naamlik bid, smeek, huil, bang en optree om te veg.

So ʼn paar dae later hoor ons net ‘n groot ontploffing buite ons kamp. Daar begin die ritueel weer met die boots, webbing, staaldak en geweer reguit na die loopgrawe toe. Daar aangekom wag ons in spanning vir die tweede ontploffing en aanval. Maar niks. Een offisier loop daar verby en wil hom doodlag vir ons wat so in die loopgraaf sit en wag vir die oorlog. Ons kyk die man so snaaks aan en hy se vir ons dat hulle die Genie korps se manne uitgekry het om die mortiere te vernietig wat buite die kamp geval het. Maar soos gewoonlik het iemand vergeet om ons in te lig.

Die twee voorvalle het aan my geruk en my soos seker baie ander manne se senuwees was aan flarde gewees. Maande daarna het ek nog aan die skok gely van die aanval en die ontploffing.

 

Ruacana

Na die opleiding is ons Ruacana toe. Die basis is sowat 5 kilo’s uit die dorp. Die basis was by ʼn vliegveld gewees. Ons het in tente gebly. Die offisiere het in kamers gebly en die bevelvoerder het in ʼn huis karavaan gebly. Die tente was vir een of ander rede so halflyf in die grond ingegrawe gewees. Slegs die tent se dak het uitgesteek bo die grond.

So omtrent 10 kilos wes van Ruacana het ʼn groot hidroëlektriese skema gelê. Daar was ook ʼn rivier wat aan die westekant gelê het. Ons basis was seker so 2 of 3 kilos suid van die grens gewees. Aan Angola se kant reg op die grens was ʼn MPLA basis gewees. So tussen die bome deur kon ons die dakke van hulle basis gesien het.

Die lewe was baie rustig gewees. Vir die grens. Daar was nie sulke stress soos met ons eerste kamp nie. Kos was ok. Daar was genoeg bier en baie son. Omdat ons nie naby aan die dorp was nie, het ons die meeste van die tyd is on onderbroeke rondgeloop en o ja met stewels aan. Dit was as jy nie aan diens was nie. As die son eers die sand so gebraai het, kon jy nie waag om met jou kaalvoete op die sand te loop nie.

Almal was mooi bruin en spekvet en gesond gewees. In die middae as ons gaan stort het, het ons net ʼn handdoek so oor ons skouers gegooi, met ons bad sakkies in ons hande en natuurlik die onderbroek aan en jou stewels aan jou voete. Klaar gestort het ons weer so half nat terug geloop na ons tente toe. Dit was lekker om so half nat te loop want die briesie wat gewoonlik gewaai het, het ons so lekker koel gewaai.

Eendag so half onverwags kom daar een van die vermaaklikheid’s groepe in die kamp aan. Sangers, sangeresse en so ʼn orkes of twee. Hulle was al vroegmiddag daar gewees. Een van die pelotons was uit gewees vir so ʼn paar dae op patrollie. Toe die manne daar aankom was hulle vuil, vol stof en baie warm gewees.

Hulle is na hulle tente toe, gaan uittrek en na die stort geloop met ons normale kamp drag. ʼn Paar van ons was al in die kantien gewees om ons daaglikse rantsoen van twee biere te drink. Daar was iets fout met die kroegmanne gewees daar, hulle kon nie tel nie. Hulle kon net tot twee tel. Ons het nie juis misbruik gemaak van die tellery nie.

Terwyl ons so sit en bier drink het die toergroep agter ons geoefen vir hulle vertoning. Hulle het ʼn goeie view gehad van die kamp. Iemand in ons groep skreeu toe vir die klomp wat gaan stort het, VROUENS. Dit was so komies gewees. Die ouens wat op pad stort toe was het nie geweet of hulle moet terug hardloop na die tente toe of hulle moet hardloop storte toe nie.

Hulle het so stilgestaan en maar besluit om storte toe te gaan. Daar het ons vir hulle klere gevat. Almal het die vertoning geniet na die tyd.

 

 

Dear Johny

Kommunikasie van watter aard ook al is baie belangrik vir die troepe. Dit hou hulle so op ʼn manier gebind aan die werklikheid van die siviele lewe. In die basisse kon mens radio luister, so nou en
dan ʼn paar weke se ou koerante in die hande kry. Alles is verslind. Baie kere is die kommunikasie middele soos koerante, boeke, tydskrifte en radio’s van een groep na ʼn ander groep oorgeplaas.

As ek so dink aan paar van die tydskrifte wat in omloop was, was dit geen wonder dat ons oggend koffie so ʼn blouerige skynsel ingehad het nie. So met ander woorde enige nuus was belangrik gewees.

Nog so iets oor kommunikasie is dat ons nie daardie tyd selfone en e-pos gehad het nie. Ons as troepe kon nie huis toe bel nie. Al ons briewe wat geskryf is, is deur offisiere gelees en enige negatiewe
kommentaar of gevoelens is doodgetrek met dik swart penne. Enige verwysings na waar ons is, is ook heeltemal doodgekrap.

As bewys dat die briewe gelees is, is daar so ʼn stempel agter op die briewe geplaas, nl. CENSORED. So in ʼn mate is ons kommunikasie en vryheid ingeperk.

Ons was besig met ons opleiding, net so noord van die Etosha wildtuin gewees. Ons kon op daardie stadium ook daar gestasioneer gewees het. Ek kan nie meer mooi onthou nie. Dit was posdag en almal was baie opgewonde gewees. As jy jou pos gekry het, het jy na ʼn stil plekkie gegaan, waar jy alleen met jou
briewe en so ook alleen met jou geliefdes kon wees. Die volgorde van die lees van die briewe was, liefie se brief, daarna Ma en Pa se brief en dan alle ander briewe.

Daar hang so stilte na die pos uitgedeel was. Elkeen in sy eie hoekie met sy eie gedagtes en verlange. Niemand sal dit erken nie, maar daar is meer as een traan van verlange gestort tydens so brief lees
sessie. Mens het ook partykeer gevoel en vat die pad terug huis toe, want die verlange is erg.

Die een man kry mos die dag ʼn Dear Johny. (Vir die mense wat nie weet wat ʼn Dear Johny is nie wil ek net noem, dit is ʼn brief waarin ʼn vrou haar geliefde afsê. Ons was maar almal half bang om ʼn Dear Johny te kry.) Sy vrou vertel hom dat sy wil skei. Ek kan my indink hoe moes daardie man gevoel het.

Hier sit hy, verlang na sy vrou en hier kry hy ʼn Dear Johny. Hy was baie down gewees, maar niemand het iets agtergekom nie, want na die briewe gelees is, was almal down gewees.

Met enige probleme wat ʼn soldaat gehad het, kon hy na die kapelaan gegaan het en dit met die kapelaan bespreek het, of hy kon met sy offisier gepraat het. Maar die man het verkies om stil te bly en nie daardie roete te volg nie. Die volgende oggend toe ons wakker word kom ons agter dat die man weg is. Ons soek orals in die kamp en kry niks. Naderhand kom ons agter dat daar van die mense wat saam met hom in die tent geslaap het, se waterbottels is weg.

Een offisier het agtergekom sy vêrkyker is weg en nog iemand het agtergekom sy kompas is weg. Ons sammajoor het toe twee en twee bymekaar gesit en agtergekom die man het die pad gevat en het weggeloop. ʼn Spoorsnyer is gekry en het die man se spoor gevat. ʼn Paar kilos van ons Basis af is die arme siel opgespoor.

Ons bevelvoerder het met die man gepraat en hy het uitgekom met die hele sak patats. Die bevelvoerder het toe besluit om die man op die volgende vliegtuig Pretoria toe te sit sodat hy sy probleme kan
gaan uitsorteer. Hulle het hom nie aangekla nie.