Groentepot

Hierdie groentegereg word berei as bykos by braaivleis, alhoewel dit saam met enige vleisgereg ’n treffer is. Bedien slegs rys, stampkoring of vars brood by vleis en die groentepot. Slaai is oorbodig, aangesien so ’n groot verskeidenheid groente gebruik word.

Enige groente wat beskikbaar is, kan gekombineer word vir interessante variasies. Dit is egter belangrik om daarop te let dat die kleure en teksture van die verskillende groentes afgewissel word. Dit verseker dat die gereg interessant is en die kleure van die groente goed vertoon op die bord. Die groente word geskil en gewas. Probeer om so min moontlik te sny aan die oorspronklike vorm, met ander woorde: gebruik verkieslik jong, vars groente vir die beste resultate. groente (skil, was, sny en dreineer) uie, aartappels, wortels, broccoli, murgpampoene, enige ander klein pampoentjies, blomkool, sampioene en koolblare

Bestanddele
200g botter
sout
varsgemaalde swartpeper
aromat (opsioneel)
125ml water

Metode
Gebruik ’n platboom ysterpot of enige swaarboom kastrol. Die groente wat harder is en langer neem om gaar te word, word onder in die pot gepak, terwyl die sagter groentes die boonste lae uitmaak. Gaan soos volg te werk: Pak die heel, klein uie op die bodem van die pot. Plaas die aartappels, in kwarte of helftes gesny (of klein heel aartappels) bo-op die uie. Strooi sout, varsgemaalde swartpeper en aromat bo-oor en ook oor die volgende lae soos hulle op mekaar volg. Vervolg met die klein heel wortels, pampoentjies, blomkool, brocolli en sampioene. Sny die botter in dun skyfies. Plaas die helfte van die botter bo-op die sampioene. Bedek nou die groente met heel koolblare en plaas die res van die botter bo-op. Voeg ongeveer 125ml water by en bedek dig met die kastroldeksel. As die groente nie goed dreineer het nie, moet die water, wat agterna bygevoeg word, verminder word. Anders is die gereg te waterig. Laat op matige hitte kook totdat die aartappels gaar is (50 – 60 min.) Dan is die ander groente gewoonlik gaar, maar nog heerlik bros en nie te pap gekook nie.

Wenk
As ’n mens suinig is met die botter, is jy gewoonlik spyt. Probeer gerus enige vars groente, bv. heel boontjies, ertjies in die peul, skywe Hubbard-pampoen met die skil, skywe botterskorsie, selderystokkies, preie, spinasieblare, stukkies soetrissie, brusselse spruitjies en enige ander vars groente.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 1,337 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *