Italiaanse Minestrone

Met die eerste oogopslag kan die hoeveelheid verskillende bestanddele wat hierdie resep voorskryf, mens dalk afskrik. Die voorbereiding daarvan is egter heel maklik. Die resultaat is so lekker en wonderlik geurig dat dit oor en oor die moeite werd is. Die sop kan in ’n lugdigte houer tot 3 dae in die yskas bewaar word voor bediening. Verhit dit stadig en voeg water by indien dit baie dik is. Die geur van die sop ontwikkel indien dit ’n dag of wat in die yskas staan en dit word net al hoe lekkerder. Bedien die sop met “Knoffel Bruchetta” en vars gerasperde parmesaankaas. Dis ’n fees!

Bestanddele
250g swoerdlose streepspek (gekap)
80ml olyfolie
1 groot wortel (100 mm blokkies gesny)
1 groot ui (gekap)
2 selderystingels (in 100 mm-skyfies gesny)
3 knoffelhuisies (fyngemaak)
2-3 murgpampoentjies (100 mm dik skyfies gesny)
200g vars groenbone (150 mm lengtes gesny)
250g aartappels (blokkies gesny)
6 x 250ml (250g) vars spinasie (was, dreineer en kap)
1 blik heel geskilde tamaties (grof gekap) 4 x 250ml kopkool (fyngesny)
1 liter hoenderaftreksel (tuisgemaak of 2 blokkies + 1 liter water)
1 blik boontjies in tamatiesous
sout en varsgemaalde swartpeper

Metode
Braai die streepspek in die olie in ’n groot kastrol totdat dit bros en goudbruin is. Voeg die uie by en braai tot die uie deurskynend is. Voeg die wortels, seldery en knoffel by en roerbraai vir 4 minute. Voeg die murgpampoen, groenbone en aartappels by en roerbraai vir nog 4 minute. Voeg die gesnyde kool en spinasie by en roerbraai tot dit net begin sag word. Voeg die tamaties en die hoenderaftreksel by, bring tot kookpunt en laat prut by lae hitte vir 1 uur. Voeg die boontjies in tamatiesous by en laat vir 5 – 10 minute sonder ’n deksel prut. Geur met sout en swartpeper. Bedien dadelik of laat goed afkoel voordat dit in die yskas geplaas word.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 199 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *