OUTYDSE SKAAPBOUD



1 groot skaapboud                                                           
250 g spek
1 t fyn koljander                                                               
 knippie rooipeper
2 e bruinsuiker                                                                   
growwe sout
swartpeper                                                                         
1 k asyn
1 k droë wyn                                                                       
halwe k meelblom
olie om in te braai                                                             
1 e botter
1 e meel                                                                               
 halwe k soet wyn
Vee boud met doek af.  Sny spek in dun repies en lardeer boud daarmee.  Meng koljander, rooipeper, bruinsuiker, growwe sout en swartpeper en vryf die speserymengsel goed in die vleis.  Sit die skaapboud in ‘n groot skottel en giet die asyn en droë wyn oor.  Marineer die boud drie dae lank in hierdie mengsel.  Draai dit elke oggend en elke aand om, of selfs meer dikwels.  Moenie vergeet nie.  Die kastrol moet op ‘n koel plek staan – in die somer in die yskas.     Die derde dag lig mens die skaapboud uit die marinade.  Vee dit goed droog met papierhanddoeke en strooi die meelblom oor.  Braai die boud stadig in ‘n groot kastrol op die stoof (gebruik kookolie). As dit lekker bruin is aan alle kante word die marinade-mengsel bygevoeg.  Sit die deksel op en laat die boud so stadig gaar word.  Draai af en toe om, maar wees versigtig om die vleis nie te veel te karnuffel nie, dan val alles uitmekaar.  En moenie met ‘n vurk in die vleis gaan staan en steek nie, jy wil tog nie hê al die lekker souse moet uitloop nie!
Wanneer die boud gaar is, skep dit op ‘n opdienskottel en hou warm.  Smelt die botter in ‘n pan en voeg een eetlepel meel daarby.  Roer tot dit begin verkleur, en voeg dan die soet wyn en die sous waarin die vleis gaar geword het, daarby.  Roer sodat dit nie klonte vorm nie.  Die sous sal ‘n pragtige dikkerige tekstuur he.  Sit die sous saam met die boud voor.
Print Friendly, PDF & Email
(Visited 3,115 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *