TANT VINA SE LIEFLIKE SKILFERKORS

 (Uit Kermiskos)
4 k koekmeel                                                                   
1 ml sout           
125 g koue botter                                                           
2 eiers, geskei
250 ml yskoue water                                                       
12,5 ml suurlemoensap
500 g gerasperde koue botter                                          
sonneblomolie
25 ml koekmeelblom                                                      
5 ml kremetart     
Sif die 4 k koekmeel en sout 6 keer saam.  Vryf die 125 g botter in die meelmengsel tot dit krummelrig is.  Klits die 2 eiergele baie goed en voeg die helfte van die water (125ml) by.  Voeg die suurlemoensap by die orige water.   Sny die twee watermengsels beurtelings in die meelmengsel met ‘n slaplemmes.  Meng tot ‘n hanteerbare deeg en knie liggies tot elasties.  Draai die deeg in botterpapier toe en sit dit 30 minute lank in die koelkas.  Verdeel die gerasperde botter in drie gelyke dele.
Smeer die werkvlak liggies met olie en rol die verkoelde deeg in ‘n vierkant van ongeveer 8 mm dik daarop uit.  L.W.  Rol die deeg liggies uit.  Moenie dit met die koekroller rek of te hard daarop druk nie.)
Strooi een derde van die gerasperde botter oor die deegvierkant.  Vou die vier hoeke van die vierkant na mekaar toe soos die agterkant van ‘n koevert.  Draai die deeg in botterpapier toe en sit dit 30 minute lank in die koelkas.  Rol die deeg weer in ‘n vierkant uit en strooi die tweede derde botter oor.  Vou weer toe en draai toe en verkoel 30 minute in koelkas.
Meng die 25 ml koekmeel met die kremetart.
Rol die deeg ‘n derde keer uit en strooi die laaste derde botter oor.  Strooi die meelmengsel oor die botter en druk dit liggies vas.  Vou die deeg weer soos ‘n koevert toe, draai die botterpapier om en laat goed koud word in die koelkas voor gebruik.
Print Friendly, PDF & Email
(Visited 219 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *