FONDUE-ETES

Drank by fondue-ete:
Gaste kan vooraf drink waarvoor hulle lus het, maar aan tafel is die drank tot wit en rooiwyn beperk.  Bier is te vullend en hoort nie by ‘n fondue-ete nie.
MARINADE VIR TAAI VLEIS:
60 ml olie                                                       
125 ml rooiwyn
1 e gerasperde uie
Meng goed en marineer vleisblokkies oornag daarin.
MARINADE VIR HOENDERVLEIS
125 ml asyn                                                   
125 ml olie
10 ml Worcestersous                                
1 e gerasperde ui
1 knoffelhuisie, fyngedruk                     
1 t paprika
25 ml heuning                                              
25 ml tamatiesous
5 ml aangemaakte mosterd
Meng al die bestanddele en marineer hoendervleisblokkies ‘n paar uur daarin.
DOOPSOUSE VIR VLEIS
TAMATIE-KRUIESOUS
4 groot ryp tamaties, fyngerasper      
50 ml tamatiesous
10 ml worcestersous                                
1 e wynasyn
25 ml olie                                                       
5 ml aangemaakte mosterd
paar druppels rissiesous
Meng al die bestanddele.  Proe daaraan en voeg die nodige by.  Bêre in koelkas tot benodig.
MAYONNAISE-SOUS
250 ml mayonnaise                                   
250 ml suurroom               
2 e fyngekapte ontpitte soetrissies    
1 e fyngekapte grasuie                                
1 e fyngekapte pietersielie                    
5 ml suurlemoensap                                   
5 ml aangemaakte mosterd
Meng al die bestanddele en toets vir smaak.  Hou in koelkas tot benodig.                
KRUIE-SOUS
12,5 ml botter                                              
10 ml olie
25 ml fyngekapte uie                                
5 ml aangemaakte mosterd
12,5 ml worcestersous                             
12,5 ml tamatiesous
12,5 ml asyn                                                 
1 e bruinsuiker
knippie rissiepeper en neut
Smelt botter en olie.  Soteer uie tot glaserig.  Voeg res van bestanddele by.  Meng goed.  Laat opkook.  Proe daaraan en geur met sout en peper.  Sit koud of warm voor.  Dit is ook ‘n baie lekker sous om oor gebraaide biefstuk te skep net voordat dit geëet word.
MOSTERDSOUS
100 ml mayonnaise                                   
10 ml aangemaakte mosterd
150 ml suurroom                                        
12,5 ml suurlemoensap
25 ml kondensmelk                                   
sout en peper
Meng al die bestanddele en geur volgens smaak.
NAGEREGTE
By ‘n fondue moet die nageregte nie ryk wees nie, want die ete self – saam met al die doopsouse – is maar aan die ryk kant.  Daarom is vars vrugte, waatlemoen, spanspek, lietsjies, ensovoorts, baie gewild om die ete mee af te sluit.
As u egter van die nagereg ook ‘n fondue-ete wil maak, sorg u vir lekker, soet doopmengsels om smulgoedjies soos pruimedante, kersies, druiwekorrels, appel- en pynappelblokkies, nartjieskyfies, stukkies koek, oliebolle, piesangwiggies en malvalekkers in te doop.  Hierdie doopgoedjies word op ‘n bord gepak, ‘n peuselstokkie word in elkeen gesteeek en dan word dit gedoop en geëet.
VRUGTEROOMDOOPSOUS
250 ml room                                                 
200 ml vrugtemoes (aarbei, grenadella, pynappel, ens.)
125 ml versiersuiker                                  
12,5 ml mielieblom aangemaak met 10 ml water
knippie sout
Meng al die bestanddele en roer by lae temperatuur tot dit kook.  Dit kan in ‘n fles in die koelkas gebêre en weer verhit word.
LIKEURSOUS
125 ml room                                                 
2 blokke (175g elk) wit sjokolade
Smelt sjokolade in boonste deel van dubbelkastrol.  Roer room by.  Geur met likeur van u keuse.
KOFFIESOUS
1 blok (175g) melksjokolade                  
1 e kitskoffie
200 ml room                                                 
1 e koffielikeur
Rasper sjokolade en meng met kitskoffie.  Meng dan met room en giet in boonste deel van dubbelkastrol.  Roer totdat sjokolade gesmelt is.  Voeg likeur by en sit voor.
HEUNINGSOUS
1 blok (175g) melksjokolade                  
125 ml room
60 ml heuning                                              
125 ml fyngekapte amandels
Rasper sjokolade en meng met room en heuning.  Los op oor kookwater in boonste deel van dubbelkastrol.  Roer amandels by en sit voor.
WENKE
1.  Gebruik oorskietdoopsouse saam met beskuitjies, aartappelskyfies, ens.

2.  Gebruik oorskietnageregsouse oor roomys.
Print Friendly, PDF & Email
(Visited 1,884 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *