Rump Steak Flambé

Met vergunning www.funkymunky.co.za

As jy vir meer as twee persone moet kosmaak, gebruik meer as een pan en ‘n helper of twee want jy gaan bontstaan. 
Een Goed rypgemaakte Rump steak of T-Bone steak – hang ook af van hoeveel mense gaan saam eet dan maak jy maar meer – soveel sodat almal genoeg kan eet
Uie – in klein blokkies gesny
Knoffel – omtrent soveel soos jou vroutjie se hand vol
Extra Virgin Olyf-olie
Sout
Peper
Dijon Mostert
Appelkooskonfyt
Brandewyn of Rum
Mash potatoes oftewel Kapok-aartappels
Groente na jou keuse
·          Onthou om eers jou mash en groente gereed te kry want hierdie is ‘n vinnige dis. Jy kan liewers voor die tyd vir jou en jou gaste so ‘n koue enetjie ingooi as terwyl jy besig is met die dis, want dis kophou en vinnig gaarmaak. Ek sê net weer, pasop vir die mense wat ook ‘n Dikkes in hulle vriendekring het, want hy gaan inseil in daai brandewyn of rum. Sorg dus dat jy so ‘n botteltjie wegsteek om die steak mee te flambé.
·          Nou ja, kom ons begin. Neem ‘n lekker groot pan want jy gaan mos ‘n bul van ‘n steak gaarmaak. As jy dit op die kole wil maak moet jou vuur al aangesteek wees en die kole moet reg wees, lekker warm. Die pan moet op ‘n stander of rooster geplaas word so entjie bo die kole. Moet nou net nie ‘n pan gaan staan en gebruik wat ‘n plastiek handvatsel of iets dergelikes het nie, want dit gaan smelt. Gebruik ‘n pan wat vir die buitelug gemaak is. Op die oondplaat is dit maklik. Sit die plaat net op warm.
·          Gooi bietjie olyf-olie in die pan, gooi die knoffel en uie in en sautee dit.
·          Onthou dat die geheim is om nie die knoffel en uie toe te laat om te donker te kleur nie, want dit gaan bitter word. Dit moet so ‘n goue kleur kry, dan is dit reg.
·          Neem nou die steak en gooi dit ook in die pan. Gooi onmiddellik die rum of brandewyn by – nie te veel nie – dit moet omtrent so ‘n derde van die steak toemaak van onder af. Steek dit aan die brand. ‘n Maklike manier is om die pan so bietjie skuins te hou en dan die brandewyn of rum aan die brand te steek. Laat dit vir omtrent 30 sekondes brand, draai dan die steak om en brand weer vir omtrent 30 sekondes. Haal die pan af, neem die steak uit en smeer met ‘n bietjie Dijon mostert en appelkooskonfyt aan beide kante. Plaas dan die steak weer terug in die pan, sit die pan  weer op die warm plaat of warm kole en braai vir omtrent 3 minute aan beide kante vir medium rare – afhangende van hoe jy jou steak wil gaar hê, kan jy dit langer braai.
·          Haal die pan af en skep die steak op saam met jou mash en groente. As jy wil gooi bietjie sout en peper op die steak – dis jou keuse. Die knoffel, uie en brandewyn of rumsous wat in die pan oorbly, gooi jy op jou steak en mash.
·          Jy kan natuurlik die steak eet saam met wat jy wil, so as jy aartappleskyfies of gekookte aartappel wil maak, doen so, sorg net dat dit bykans reg is wanneer jy met die steak begin want dit gaan vinnig.
·          Die kombinasie van geure laat jou mond sommer water as dit so braai en as jy eet, kan jy al die lekker bestanddele proe.

 

Gerda de Swardt
Print Friendly, PDF & Email
(Visited 444 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *