Begrafnismaal

Iemand wat baie tyd op sy hande gehad het, het eendag uitgewerk dat ‘n mens in sy leeftyd sowat 20 000 ure spandeer aan eet. Dit is ongeveer 834 dae, net meer as 2 jaar van jou lewe eet jy. Dit is eintelik astronomies as mens daaraan dink. Dit is geen wonder dat die dag as ons die tydelike met die ewige verwissel mense ook eet nie.
In die ou Germaanse tye is daar offergawes op die grafte geplaas. Hierdie dode-offers is later vervang met lijkmaal. Die Germaanse lijkmaal is by die graf gehou. So is die gebruik ook oorgedra Nederlandtoe. Teen die 17de eeu is daar buitensporige en uitspattige begrafnis etes gehou. By vername boere is die maal sommer 2 dae lank gehou.
So het die tradisie ook oorgewaai na Suid Afrika toe. Adam Tas maak in sy dagboek melding van ‘n Stellenbosch begrafnis op ‘n buurplaas. Hy het die volgende na die buurplaas gestuur : 5 emmers wyn, 1 ham, 3 stukke skaapvleis en 3 brode. Hy het gemeen dat die oorledene in “goede fatsoen” begrawe is. Die verskeidenheid voedsel en veral die hoeveelheid het aangetoon hoe welaf die oorledene was.
Daar is verskeie begrafnis rekeninge in die Kaapse argief wat aantoon dat brood en koekies ook geëet is tydens begrafnisse. In die begin van die 18de eeu is die etes by die sterfhuis gehou met brood en wyn. Tydens die 18de eeu is daar ook begin om begrafnisrys, rys gekook met borrie en rosyne, saam met vleis voor te sit.
Daar is natuurlik ook nie net by eet gehou nie maar waar kos is, is drank ook. Gewoonlik is by die etes wyn en bier gedrink. Later het wyn begin om ‘n al hoe belangriker rol te speel, soveel so dat die mense beskonke (wat ‘n mooi woord) huis toe gegaan het
In die ou dae is daar aangevoer dat die mense van vêr gekom het en na die begrafnis en dan na die begrafnis is hulle dan vir ‘n ete genooi by die oorledene se huis. Die ete is ook gesien as eerbetoon aan die oorledene en dan is daar ook nog gevoel dat die oorledene dit so sou wou gehad het aangesien die mense sou dink hy is suinig as daar nie ‘n ete by sy huis was nie.
In latere tye het die begrafnis maal sommer in ‘n feesmaal ontwikkel. Met ‘n begrafnis is skape geslag en bure het eetgoed saamgebring. Die tafels het gekreun onder die frikkadelle, sousboontjies, rys en aartappels. Dit was ook tradisie dat ‘n goeie beleë wyn saam met die ete bedien moet word. So het mense dan ook vaatjies wyn bo op die solder saam met hulle kiste gebêre. In 1907 is daar gemeld dat ‘n Kotze van Redelinghuys se begrafnis wyn 53 jaar gestaan en verouder het.
Blykbaar in daardie jare het die predikante gesukkel om die mense te oorreed om nie wyn saam met die maal te bedien nie. Want blykbaar het dit te lekker gegaan op die etes.

Soos die tye verander het, het die begrafnis maal ook verander. Aangesien mense nie meer dae lank moet rys na ‘n begrafnis toe nie, word daar nog geëet maar op ‘n baie kleiner skaal. Maar eet moet ons eet op ‘n begrafnis al is dit net ‘n toebroodjie. 
Print Friendly, PDF & Email
(Visited 203 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *