Het beestje moet een naam hebben

Het beestje moet een naam hebben

Hierdie Artikel is geneem uit die e-Hervormer van 7 Augustus 2014

Hierdie Nederlandse spreekwoord wil sê dat ’n mens beter kan
uitmaak waaroor iets gaan as jy daaraan ’n naam kan gee. Wie ook al
in die gryse verlede aan die stuk berg wat afkyk op Kaapstad die naam
Duiwelspiek gegee het, sou seker nooit kon dink dat dié naam in die jaar
2014 so ’n groot herrie sou ontketen nie.

’n Maand of twee gelede het ’n groep prominente Christenleiers in Kaapstad beswaar
aangeteken teen die naam Duiwelspiek. Hulle het aangevoer dat dit onvanpas is dat so
’n naam saam met Tafelberg, Seinheuwel en Leeukoppie oor die stad wag hou.

Hul standpunt het ’n hewige debat ontlok en gou was daar briewe in die pers wat gesê
het dat, as hierdie standpunt enigsins water hou, daar ook aandag gegee sal moet word
aan Duiwelskloof, Duiwel se Skoorsteen, Satansbos, Duiwelsberg, Duiwelsbosberg,
Duiwelsgatrivier, Duiwelskneukels, ’n hele paar Duiwelskoppe, Duiwelsnek, Duiwelsvlei, Devil’s Gorge, Devil’s Hoek, Devil’s Tooth, Devil’s Window, die Hel, Helbrandkloofspruit, Hell’s Gate, Hell’s Gate Kloof, Hell’s Gates, Helshoogte, Helspoortpas, Helsrivier, Hotazel, Satanskop, Satansnek, Satansplatz… En moenie die hekse en die hexe vergeet nie.

Iemand het ook gewys op idiome soos die duiwel is los; daar kan die duiwel niks uit wys word nie; hoe meer die duiwel het, hoe meer wil hy hê; gee die duiwel die eer wat hom toekom; hy is ’n duiwel om te werk; die duiwel het in hom ingevaar; die duiwel sit jou voete reg; by die duiwel gaan raad vra; op sy duiwel kry; te dom om vir die duiwel te dans. Christiaan de Wet het blykbaar in die Anglo-Boereoorlog gesê: Dit reën groot duiwels dood en kleintjies se bene af!

Maar nog is dit het einde niet. ’n Mens sal moet kyk na die name van die dae van die week. Sondag is ’n vertaling van die Latynse Dies solis – die dag wat gewy is aan Sol Invictus, die songod. Maandag is ’n vertaling van Dies Lunae, die dag van die maangod. Dinsdag het waarskynlik sy oorsprong by die Germaanse god Thingsus, die god van die volksvergadering. Woensdag is vernoem na Wodan, die Germaanse oppergod. Donderdag is vernoem na die Germaanse god Donar, die god van donderweer. Vrydag is vernoem na Freya, die Germaanse godin van vrugbaarheid, liefde en wellus. Saterdag is ’n vertaling van dies Saturni – die dag van Saturnus, die god van die landbou.Elke dag van die week verwys na die een of ander afgod!

Maar so ook die name van die maande van die jaar. Januarie kom van Janus, die god van by
die poorte in- en uitgaan, van die oorgang tussen oud en nuut. Februarie kom van die Latynse
februare wat reiniging beteken. In dié maand het die Romeine hul reinigingsoffers gebring.
Maart is vernoem na Mars, die god van die oorlog. April kom van aprilis, wat teruggaan na ’n
Etruskiese woord wat te make het met Aphrodite, godin van die liefde. Mei kom van Maia, in Romeinse mitologie die moeder van Mercurius, die godin van groei. Junie kom van Juno, die beskermgodin van die vrou, die huwelik en geboorte. Julie is vernoem na Gaius Julius Caesar, die groot Romeinse generaal wat na sy dood tot ’n godheid verhef is en Augustus na sy seun Augustus, eerste keiser van die Romeinse Ryk, wat homself tot ’n god verklaar het. September kom van septem (7), Oktober van octo (8), November van novem (9) en Desember van
decem (10). Maar dié is nou maande 9 tot 12 op ons kalender!

’n Mens kan egter so besig wees om die duiwel agter elke bos te soek (skuus, nog ene!), dat jy in die proses jou fokus van die goeie, die opbouende, wegneem. Hebreërs 12: 2 maan ons nie verniet nie om in die wedloop van die lewe die oog gevestig te hou op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.

Ds Etienne Fourie

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 90 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *