My Woordsketse uit die Bos Oorlog

Hierdie insident het gebeur in 1984 in Sektor 10. Net iemand wat verstaan van kleinwees wonde wat nooit gesond geword het nie. 

ʼn Klem om die Nek

Beste Pa

Dankie vir die pakkie. Die biltong is lekker droog en gelukkig het die ander nog nie daarvan uitgevind nie. Dit behoort ʼn rukkie te hou. Dit lyk darem uit pa se brief of alles goed gaan by die huis. Ek kan goed begryp dat die hartseer en alleenheid vir pa soms te veel raak. Ek self kan nou nog nie heeltemal vrede maak met die gedagte dat ma vir altyd weg is nie. Die dood in enige vorm is so finaal. Elke mens se eie seer is seker maar vir jou die seerste seer. Meer seer as die ander sin. Partykeer voel ek soveel woede binne my teenoor die army, en sommer alles, omdat ek nie daar kon wees toe julle my die nodigste gehad het nie. Maar dan gebeur daar iets soos hierdie week, en dan is mens dankbaar vir die klein dingetjies. Dankbaar vir die kapelaan wat vir my ʼn pas kon reël vir ma se begrafnis. 

Maar Johan wat saam met ons in ʼn tent is, was nie so gelukkig nie. Hy is maar ʼn eenkant mens en het nooit oor sy familie gepraat nie. Mens kan maar sê ek is sy enigste vriend. Hy kom nie met die ander oor die weg nie. So een maal ʼn maand ontvang hy ʼn brief, wat hy dan doer eenkant teen die basis se wal gaan sit en lees het. Vir dae daarna is hy dan stiller as gewoonlik. 

Hierdie week was dit weer so, behalwe hierdie keer het hy twee briewe ontvang. Een van sy oom af, wat dié blykbaar moet skryf oor een of ander boedel bepaling. Dit het ek ook maar Maandag eers uitgevind. Die tweede brief was van ʼn predikant af. Dit was so ongewoon dat hy nog seker vir tien minute net daar bly staan het, alleen met ʼn vreemde uitdrukking op sy gesig. Die tweede brief verskeie kere in sy hande omgedraai, asof hy wou seker maak dat dit regtig sy brief is. Anders as gewoonlik het hy teen die boom langs die paradegrond gaan staan en die oom se brief oopgeskeur. Waar ek hom vanaf ʼn afstand beskou het, kon ek ‘n rilling deur sy lyf sien trek. Sy oom het hom saaklik meegedeel dat sy ma drie weke vantevore oorlede is, en daardie selfde week nog begrawe is. Die dominie se brief het dieselfde boodskap gedra, net in sagter woorde. Hy het sy meegevoel uitgedruk, en sy spyt dat hy eers op die begrafnis uitgevind het dat niemand vir Johan laat weet het van sy moeder se dood nie. Hy het ‘n kort beskrywing gegee van die klein begrafnis. 

Daar het iets sigbaar in Johan gebreek. Mens kon dit byna hoor – die knak geluid. Hy het op die grond gaan sit en skor uitgeskree met ʼn baie baie diep droefheid. “Kon die bliksems my nie net laat weet het nie!” Dit was die rouste rou wat ek nog ooit in ʼn mens gesien het. Op daardie selfde oomblik het een van die ander kompanies se korporaals om die hoek gestap gekom. Sonder om te verneem waaroor dit gaan, het hy dadelik kwetsend geraak. “Wat de donner gil jy so, en dan sit jy nog en pis deur jou oë ook”. Dit wat daarna gebeur het was so vining, dat ek later nie mooi kon onthou wat die presiese verloop van die gebeure was nie. Toe ek deur die omstanders beur, wat vinnig nadergekom het, was dit nie ʼn mooi gesig om te aanskou nie. 

Johan het wydsbeen oor die korporaal se borskas gesit en blinde hou na blinde hou in dié se reeds stukkende gesig geplant, terwyl hy snikkend aanmekaar mompel ”bliksems bliksems!” Die gevolg sou seker erger gewees het as Johan se aandag nie verdeel was tussen sy aanslag op die korporaal, en so vyf ander wat hom probeer aftrek het nie. Hy het met bomenslike krag hulle van hom af weg geslinger. Ek het gehoop hy sou na my luister en het hom in ʼn stewige nekgreep beetgekry, en met my mond teen sy oor kalmerend vir hom gese” ” Los dit Johan, wat doen jy nou”. 

Hy het nie probeer om my af te weer of om na my te slaan nie. Met my arm nog steeds in ʼn ligte wurg greep om sy nek, het hy gewillig opgestaan. Ek het hom tent toe gevat. In die tent ingang het skielik het alle krag en weerstand uit sy liggaam verdwyn. Hy het op die vloer gaan sit en verwese voor hom uitgestaar. Gelukkig is ons luitenant ʼn wyse mens. Hy het die res van die omstanders verwilder, en nie verder aan Johan getorring nie. My net aangesê om Johan by die medics uit te kry. Johan se hande was dik geswel en het gebloei. Saam is ons twee medics toe, waar hulle hom ʼn kalmeer inspuiting gegee het en sy hande verbind het. Ek het die twee briewe wat hy na my toe uitgehou het, in my broeksak gedruk, maar hy wou hê ek dat ek dit moet lees. Ek is daarna na die majoor se kantoor waar ek verslag moes doen. Hy het stilweg die twee briewe gelees. Soos hy lees het ʼn spiertjie in sy linkerwang gespring. Hy het dit toe aangegee vir die kompanie samjoor.

Die samjoor het besluit dat ek en Johan in een van die leë tente moes intrek vir die aand. Daar was aandrang van die ander kompanie vir arrestasie en onmiddelike afvoer. Die gemoedere in die basis het maar hoog geloop. Maar pa, Maandagaand terwyl ek en Johan saam in die tent lê, toe begin hy praat . Eers half stotterend en toe begin sy verhaal ontvou. ʼn Lang verhaal van nêrens hoort nie, van afknou, van wonde op ʼn klein seuntjie se gemoed wat nooit letsels geword het nie. Soos die wonde in sy kleinwees gebloei het, so het dit gebloei Maandag aand. Ek glo dit was die eerste keer in sy lewe wat hy dit met iemand daaroor gepraat het. Later die aand het hy ingesluimer en toe sy asemhaling egalig oorsit in ʼn ligte snork, het ek opgestaan en die lig afgesit.

Maar voor ek die skakelaar druk, het ek hom beskou waar hy op sy heup gedraai het in ʼn fetus possisie met sy duim in sy mond. Net ʼn agtien jaar oue baba vir wie die seer diep binne in te veel geraak het. Ek het nog lank in die donker gelê en dink aan wonde op die gemoed. En ek was so dankbaar dat die Here my sulke ouers soos julle gegee het. En toe vir die eerste keer sedert ma se dood, kon ek myself uithuil – myself aan die slaap huil. 

Voor ek aan die slaap geraak het, kon ek net ʼn klein stukkie van die seer in ʼn ander mens verstaan. Toe onthou ek wat oupa altyd gesê het – loop in daardie man se mielieland en dra sy stewels. As jy dan deur sy oë sien, sal jy deur sy ore hoor en met sy hande voel en met sy neus ruik. Dan sal jy hom eers regtig verstaan. Johan is vanoggend weg Ondangwa toe. Miskien het die army ook ʼn rukkie in sy stewels geloop. Hy gaan huis toe. Weet pa wat my nogal diep geroer het? Toe hy kom groet in ons tent, gryp hy my skielik met n vernynige armklem om my nek. Ek kon nie roer nie. En toe sê hy die eenvoudige woord :”dankie”. Ek gaan vir pa sy verhaal vertel as ons mekaar weer sien. 

Groete

Seun

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 160 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *