Nikodemis en die bosoorlog

Ek het in 1987 skool klaar gemaak, en is toe vir twee jaar weermag toe. 1988 was so aan die stert-kant van die bos oorlog in Namibie, toe nog SWA, Suid-Wes Afrika. Eintlik het ek nie geweet wat ek wou gaan swot het nie, en omdat ek kwaad was vir die lewe, army toe gegaan, toe die oproep instruksies by ons huis opdaag .

Ek het in ‘n huis groot geword, waar my pa liberaal gesind was, en ons groot gemaak het met die verstaan, dat swart mense, mense is! Hy het gemaklik met hulle omgegaan!
En daarom toe ek weermag toe is, was dit nie om teen die ANC of swart mense oorlog te maak nie. Dit was net om oorlog te maak! Ek wou skiet! Ek was kwaad vir die lewe! Ek het op skool, terwyl ek geen ambisie gehad het nie, gedroom om uiteidelik, of ‘n huur soldaat te word, of as ‘n monnik te gaan werk in ‘n klooster . Eintlik is ‘n monnik soos ‘n huur soldaat, en ‘n huur soldaat soos ‘n monnik. Die Franse Vreemde Legioen – huur soldate, het ‘n lied wat hulle sing: ons is die honde van die wereld, maar ons is vir mekaar daar!
Dikwels is ek ‘n k@#$&r; boetie genoem, omdat ek nie met die politiek saam gestem het nie. Ek het nie omgegee nie. Ek was fiks, groot en op my eie missie, en niemand het met my gesukkel nie!
In April 1989, net na Untag, SWA oorgeneem het, om die transissie, na ‘n vrye verkiesing te begelei, het daar ‘n groep van oor die 250 SWAPOS oor die Angola grens gekom, en amok gesaai. Ons was op daardie stadium met oefeninge in Upington besig, en vandaar is ons uitgevlieg om die situasie in SWA onder beheer te bring! Ek was deel van die valskerm bateljon. Daar het ‘n opwindende 3 maande voorgele^!
Daar is baie stories en staaltjies uit hierdie tyd, maar die een wat die meeste indruk op my gemaak het, was die een van Nikodemis!

Net voor ek sy storie vertel, net gou ‘n ander een: ons was op ‘n maal uitgestuur om patrollie te stap, vir ‘n week lank. Na drie dae het ons ‘n klein dorpie binne gegaan en hulle het ‘n “kuka shop” gehad, wat ‘homebrew’ bier verkoop het teen 20 sent per liter. Dit was goedkoop dronk word, en toe besluit ons om die volgende 4 dae, hier uit te hang, en elke aand die oornagplek, waar ons eintlik moes oorslaap, deur te radio, maar eintlik was ons nie daar nie. Op die laaste oggend van die week patrollie, radio die majoor ons daardie oggend, om te hoor of ons nog op dieselde plek is, as waar ons die vorige nag oorgeslaap het! As ons in ‘n groot sirkel oor die week gestap het, sou dit nie te ver gewees het, van waar ons die 4 dae spandeer het nie, want ons sou teen die aand daar opgelaai gewees het. En die seiner antwoord, dat ons nog op dieselde plek is, waarna die antwoord van die majoor oor die radio terugkom, waar hy se^, hy staan op die plek waar ons die ruit verwysing van opgegee het, en ons is nie daar nie! O, was ons in die moeilikheid!!! Hy radio toe en se^ ons kan self by die kamp kom, wat seker ‘n goeie 4 ure se ry van daar af was.
Ons het na die naaste groot dorp gestap. Ek onthou hoe ons kleinspan van 8, vuil, ongekeerd, met dieselde stel klere, wat ons vir ‘n week aangehad het, en met ons gewere, in die dorp in ‘n supermark ingestap het. Ek het een van daardie groot gewere gehad, met amunisie wat in bande om my lyf was. Dit het “scary” gelyk, die klomp vuil ouens in die Spar, met die groot gewere. Mense was geskok, en bang en het nie geweet hoe om te reageer nie.
Na ons inkopies, het  ons ‘n ou buite in die straat, wat ‘n groot bakkie ry, voorgekeer en hom gevra of hy ons, sou tergvat na ons kamp toe. Ek weet nie of hy beplan het om in daardie rigting te ry nie, maar hy het vinnig ingestem om ons ‘n “lift” te gee.
#                                              #                                              #
Heelwat van die vyand is gevange geneem,  in die verskeie skermutselinge. Ek was deel van ‘n span, waar hulle ons in die berge ingevlieg het, en waar ons spoor gesny het, en dan agter die vyand aangehardloop het. Rondom die berge was daar stopper groepe wat dan gewag het, om wanneer die ouens wat ons jaag, uit die berge uit hardloop, te skiet of te vang!
Een so ou wat gevang was, was ‘n groepsbevelvoerder. Nadat alle inligting uit hom gehaal was, is hy aan ons kleinspan toegewys, en ons moes saam met hom die berge ingaan, waar hy van hul wapen opslag plekke moes gaan uitwys. Op daardie stadium het ons al al die opslag plekke gekry, maar hy moes ons gaan wys, sodat ons kon seker maak ons het alles gekry.
Dit was winter in SWA en in die aande was dit bitter koud. Die gevange soldaat wat saam met ons gestap het, en die opslag plekke moes uitwys, het net ‘n broek en ‘n hemp aangehad. Geen trui en geen skoene, en sy hande was die hele tyd in boeie. Sy naam was Nikodemis!! Soos die BybelseNikodemis van Johannes 3!

Hy het in sy lewe voordat hy ‘n soldaat geword het, as myner by ‘n myn in Sishen gewerk. In sy vrye tyd en oor naweke het hy as pastoor gedien in ‘n kerk daar. SWAPO het een aand op die kampong toegeslaan en gese^ hy moet, of vir hulle as soldaat kom veg, of hulle maak sy familie dood. Nie veel van ‘n keuse nie!  

Nikodemis was ‘n skrander man, en het vinnig ‘n offisier geword, en is vir opleiding Rusland toe gestuur. Hy was ‘n jaar daar vir opleiding en het uiteindelik ‘n bevelvoerder geword. Die laaste 3 jaar voor hy gevang is, was vir hom baie moeilik. Hy het nie betaling gekry nie, en hy het vreeslik na sy familie verlang. En toe word hy gevang, en saam met ons kleinspan gesit, en hierdie k$#@@&r; boetie kry die voorreg om hom op te pas, en God gee my die voorreg om aande tot laat met Nikodemis te gesels, oor God en oor die lewe, wetend dat indien hy hier loskom, hy seker my keel sou afsny en vlug. 

Maar vir daardie paar aande wat ons saam was, was ons twee mense, manne van God, aan veskillende kante van ‘n geweer se loop. Nikodemis word in die Bybel, die nag dissipel genoem! En ek en Nikodemis het aande, tot laat oor God en oor onreg gepraat. In daardie situasie neem menswaardigheid oor. Daar het ons vir hom ‘n trui en kouse gegee om aan te trek, en ‘n slaapsak vir die aand!

God se wereld is klein, en interessant, en as jy jou oe oophou, is daar ‘n brandende bos om elke draai! So het God my daar, in die bosoorlog besoek, deur ‘n swart, vyandige, bevelvoerder met die naam Nikodemis!

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 189 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *