Ops Moduler

My gedigte uit die Bos Oorlog

Wanneer jy besig is met oorlog, is dink en introspeksie n onbekostigbare luukse. Jy is te besig. Maar dan skielik in die nanag, word jy wakker uit jou onrustige slaap en dan dink jy. 

Ek het hierdie gedig geskryf tydens Ops Moduler een aand 20 km oos van die Vimpulo Rivier oorsprong – November 1987

NET DIT

Die skerwe van ʼn projektiel
Witwarm – woerend
Middelpunt vlietend – soekend
Wat vlees en been verniel

Dit het my vandag ontwyk
– Net dit
Iets om aan vas te gryp

Die knal van ʼn landmyn
Verborge – versonke
Kordiet reuk – warrelende klonte
Met groot venyn

Dit het my vandag ontwyk
– Net dit
Iets om aan vas te gryp

Die harde tungsten staal
Simetries – doelgerig
Sneller as ʼn sein berig
Met ʼn vernietigende taal

Dit het my vandag ontwyk
– Net dit
Iets om aan vas te gryp

Uit die lug – Die yster arend 
Ongenaakbaar – onvoorspelbaar
Wat onheil en verderf verklaar
Sy angel – onrusbarend

Dit het my vandag ontwyk
– Net dit
Iets om aan vas te gryp

Die hinderlaag langs die laan
Doodsakker – gebind
Te ontvang in eie munt
Ons – teikens soos op ʼn skietbaan

Dit het my vandag ontwyk
– Net dit
Iets om aan vas te gryp

Hoeveel kanse het ek nog
In hierdie aardse tog
Voordat die dit
Buite begrip
My sal meesleur 
Uitmekaaruit skeur

Dit het my vandag ontwyk
– Net dit
Iets om aan vas te gryp

Daaraan te klou
Net vir die nou

© Dawid Lotter 1987

Print Friendly, PDF & Email
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *