Christenman se nee vir Pornografie want JY Kan

Vyf 

Wat sê jy vir jou vrou? 

Indien jy sou besluit om jou vrou se hulp in te roep met jou probleem, kan jy haar vra om hierdie hoofstuk te lees wat ek spesiaal vir haar skryf sodat sy jou probleem beter kan verstaan. Ek wil dit weereens beklemtoon dat sy die beste persoon is om jou te help. 

Mevrou, wat sou jy gedoen het as jou man by jou sou kom en vir jou vertel dat hy ‘n fout begaan het wat veroorsaak het dat hy nou in die mag van ‘n Mafia-bende beland het wat, nie net sy ondergang en dood soek nie, maar ook dié van jou, julle kinders en julle huwelik?  Hulle jaag hom dag na dag en hy weet nie meer wat om te doen nie.    

Jy sou heel waarskynlik onmiddellik saam met hom wou bid en hulp soek van iemand wat  julle kan beskerm. Jy sou saam met hom alles wou doen wat jy kan om hom uit hierdie bende se mag te kry. Dit is eintlik presies wat met hom gebeur het. Die verskil is net dat dit nie ‘n Mafia-bende is nie, maar ‘n demoniese bende. Hulle soek nie net julle fisiese dood nie, maar ook julle geestelike dood. 

Jy kan ‘n baie groot rol speel om jou man uit die kake van die ewige dood te red. Die feit dat hy aan pornografie verslaaf geraak het, beteken nie dat hy jou nie liefhet nie. Dit beteken nie dat hy jou nie aantreklik vind nie en dat hy nie baie sleg voel oor dit wat hy doen nie. Sy brein het eintlik siek geword, amper soos ‘n rekenaar met ‘n verwoestende virus op. Jy kan hom 
help om gesond te word. Die feit dat hy openlik met jou was, beteken dat hy werklik gehelp wil word. 

Dit is normaal indien jy geskok en kwaad is, maar vra die Here om jou te help om hom te vergewe en hom by te staan. Jy gaan waarskynlik sukkel om hom weer te vertrou in die toekoms, maar jy het ontsettend baie om te wen. Dink aan   jou huwelik, jou kinders se geluk en ewige toekoms, maar bowenal aan jou man se redding. Werk saam aan julle huweliksverhouding  en  kommunikasie,  sodat  hy  in  die  toekoms  die vrymoedigheid sal hê om vir jou te sê wanneer hy probleme het. As dit nodig is, gaan spreek ‘n goeie Christenberader. 

Sielkundiges is dit eens dat die diepgewortelde oorsaak van seksuele verslawing ‘n swak selfbeeld is. Dit lyk miskien dalk glad nie so nie,  maar ‘n man se ego is baie ingewikkeld en sensitief en kan maklik seerkry. 

‘n Baie interessante boek is in 1965 deur ‘n Christen Amerikaanse skryfster, Helen Andelen, geskryf. Hierdie boek is sedertdien ses keer herdruk en meer as twee miljoen kopieë daarvan is verkoop. Dit is nog steeds in die handel verkrygbaar. Die titel daarvan is Fascinating Womanhood en die impak wat hierdie boek deur die jare op letterlik duisende   huwelike gehad het, was fenomenaal. Die skryfster het in die 1960’s ondersteuningsgroepe vir vroue in Amerika gestig waar hulle kon leer hoe om teenoor hulle mans op te tree. Getuienisse   van hierdie vroue, van wie baie se huwelike reeds heeltemal verbrokkel was en wat wonderbaarlik herstel het, is ‘n bewys daarvan dat Helen Andelen werklik Goddelik insig ontvang het. 

Haar benadering is, in kort, daarop gebaseer dat ‘n man ‘n ontsettende behoefte daaraan het dat sy vrou hom moet aanvaar, waardeer en bewonder en dat hy nommer een in haar lewe wil wees. Hy wil graag die hoof, beskermer en voorsiener van die gesin wees. Sy vrou moet nooit sy manlike trots verwond nie en wanneer hy met wonde   terugkeer vanaf die lewe se 
slagveld, moet sy vrou sy goeie engel wees wat hom weer opbou. Helen sê dat ‘n man se vrou die twyfelagtige voorreg het dat sy dié een is wat sy selfbeeld kan opbou of vernietig, afhangend van hoe sy sy manlike ego hanteer.   

Vanaf sy kinderjare het ‘n klein seuntjie ‘n ontsettende behoefte daaraan om te voel dat hy ‘n held is. Hy het sy pa se bewondering en aandag baie nodig. ‘n Klein dogtertjie daarenteen wil graag voel dat sy mooi en bekoorlik is en dat haar pa baie lief is vir haar. Elke mens behou hierdie afsonderlike  behoeftes  dwarsdeur  sy  lewe.  Dit  is  egter  dan  net  die lewensmaat in plaas van die vader-figuur wat  hierdie behoeftes moet vervul. Twee baie goeie boeke wat oor hierdie onderwerp gelees kan word, is dié van John en Stacey Eldredge, Wild at heart en Captivating. 

As julle verhouding reeds so verswak het dat jy nie vrymoedigheid het om mooi dinge vir jou man te sê nie, skryf vir hom ‘n brief. Sê vir hom die mooi dinge wat in jou hart was toe jy met hom getrou het. Jy het hom mos liefgehad. Moenie sommer self besluit dat sy selfbeeld niks makeer nie. ‘n Man kan ‘n baie goeie front voorhou. Doen dit net. Die resultate is die 
moeite werd! Bid regtig baie vir julle huwelik. Ek dink dat as ons net die vaagste benul gehad het watter ontsettende krag daar in ons gebede is, dan sou ons baie meer van ons tydmors-bedrywighede vir gebedstyd verruil het. 

Indien jou man aan depressie ly, gaan saam met hom dokter toe sodat hy medikasie vir sy probleem kan kry.   Doen alles in julle vermoë om te oorwin. Die Ewigheid saam met God, is dit werd!! 


Iets oor die skryfster:
Die skryfster van hierdie boekie is ‘n eggenote, ma en ouma. Sy is lief vir die Here Jesus omdat sy Hom ken as haar Verlosser en ‘n pad vanaf  haar kinderjare met Hom stap. Sy ken die Bybel, omdat sy dit lees. Sy ken mense, omdat hulle vir haar interessant is. Sy dra kennis van baie verskillende onderwerpe, omdat sy graag wyd lees en het ‘n ontsettende passie vir verloregaande mense, en wil hulle graag waarsku.
Sy het as jongmeisie ‘n B.A. aan U.P. behaal met Afrikaans, Sielkunde en Bybelkunde as hoofvakke. Sy het later ‘n H.O.D. nagraads ook aan U.P. behaal en heelwat later in haar lewe het sy ‘n M.Phil. in Toegepaste Teologie met lof aan die Teologie Fakulteit van die Universiteit van Pretoria behaal.
Haar motivering vir die skryf van hierdie boekie kom vanuit Judas 22 en 23 “Oor die wat in twyfel verkeer, moet julle julle ontferm. Ander moet julle red deur hulle uit die vuur te ruk. Oor ander moet julle julle met versigtigheid ontferm; en verafsku selfs die klere wat deur hulle sondige luste besmet is.”
Print Friendly, PDF & Email
(Visited 82 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *