Einde van Ops Moduler

Hierdie gedig het ek geskryf na aanleiding van een van my troepe van Bravo Komp/ Tenkafweer 61 Meg Bn Gp se gesprek met my aan die einde van Ops Moduler terwyl ons in die deurgangskamp by Rundu gewag het om terug te gaan. 

OORLOGS DAGBOEK

ʼn Groot rivier 
ʼn Lyn van wes na oos
ʼn Skerp visier
ʼn Dagboek blaai geel en voos

ʼn Vloedvlakte
ʼn Smart klagte
ʼn Loopgraaf vol lyke
ʼn Dooie gesig sonder verwyte
ʼn Ratelband met bloed gevlek
ʼn Makker se laaste gesprek
ʼn Boskol baie ruig
ʼn Brandende Ratel wat getuig
ʼn Les oor oorlog
ʼn Drie maande lange tog
ʼn Donker nag met bloed
ʼn Lang dag se vure gloed
ʼn Bom wat ontplof
ʼn Masker van stof

ʼn Einde van die tog
ʼn Lyn van noord na suid
ʼn Gevoel van self bedrog
ʼn Traan wat nie wil uit

So sou ek van oorlog leer
Opvolg klasse vir nog ʼn keer of meer
Dit het ʼn droefheid in my siel gelaat
Wat aanmekaar ʼn uitspraak maak

Van myself
Vir myself
ʼn Vreemdeling gemaak
Kon ek maar my dagboek uitmekaar uit maak
En daardie deel vervang
Maar ek is ingebind en vasgevang
In Ratel wande van staal
In Vlees wande onbekwaam
In Dagboek blaaie geel en voos
Sonder terugkeer – my straf en troos

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 90 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *