Etale Basis

My gedigte uit die Bos Oorlog

Laat Julie 1986 het Bravo Komp 61 Meg vir die derde keer na Etale Basis ontplooi. Laataand in die koue het ek net n behoefte gehad om uit te staar oor die sand en na die mooiste volmaan wat alles silweragtig belig het. Oor die radio het Jim Reeves se Dark Moon gespeel. Ek het hierdie geskryf na aanleiding van my gevoel terwyl die laaste kole op die vuurtjie langs die Ratel verlaas in die koue windjie gloei. 

FASES

Vanaf Etale basis in Ovambo land
Sien ek die maan verander in stand
Die volmaan wat weer verskyn
En gelydelik weer verdwyn

Staar ek uit oor die silwer sand
Op die noordgrens van Ovamboland
My rug gestut teen die Ratel se wiel
Ervaar ek die maan se helder siel

En ek wonder oor siklus en stryd
En alles met ʼn bestemde tyd
Skadus wisselend in kontras
sonder om die maan se gesig aan te tas

ʼn Wiel binne ʼn wiel
ʼn Siel binne ʼn siel
ʼn Sirkel binne ʼn sirkel
ʼn Kinkel binne ʼn kinkel

Sy gelaat wat siklies verskyn
Verklein en verdwyn
Om weer te verskyn
Volgens die natuur se wette
Vry van poletieke gesprekke
Volmaan
Halfmaan
Kwartmaan
Donkermaan
Dieselfde vriendelike maan

Die aarde se gesig
Na al kante toe gerig
Onderworpe aan die natuur wette
Onderworpe aan poletieke gesprekke
Oorlog in geloof
Oorlog sonder geloof
Oorlog in ongeloof
Fases van vrede
Dan oorlog sonder rede
Dieselfde planeet
Wat gou vergeet

God se gesig strek van die verste sonnestel
Tot die mikroskopies kleinste sel
Sy wese omgeef alles in hierdie bestel
Die mens met ʼn vrye keuse saamgestel

Hier teen my Ratel wiel
Voel ek aan ʼn diepe leed
In die volmaan se siel
En ek weet
Sonder om te kyk
Dat die gesig nou anders lyk

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 98 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *