Meg Kompanie

My gedigte uit die Bosoorlog

In ʼn operasie het ʼn Meg Kompanie in Ratels die doelwit bestorm. Hulle het nie geweet wat wag nie. ʼn Tank het die Ratel 20 uitgeskiet terwyl die seksie nog binne was. ʼn Paar – twee of drie het die inferno ontsnap, Die res was onmiddelik dood.

Terwyl hulle inry om met die vyand slaags te raak, sit hulle gevegsgereed om uit te stap. Hulle het nooit uitgestap nie. Maar later tydens die skoonmaak van die Ratel was volgens bewering twee kameraadskaplike hande ineengesluit tussen die menslike oorblyfsels gevind. 

Was dit ʼn oomblik van vrees of gesamentlike gebed?. Ek weet nie. Maar die besondersheid van die geval laat my wens ek kon die gedig meer intens stel.

STAAL WANDE

Staalwande om my heen
Beskerm vlees en been
Waar die ek – alleen
Teen Ratel wande steun
ʼn Vrede aan my verleen
Kortstondig – net geleen

Om die benoudheid en vrees 
Op jou gesig te lees
Deel ek met jou my gees
ʼn Fraksie van my menswees
Sodat jy dit kan lees
My angs en my vrees

Reik ek my hand aan jou
In Ratelwande toegevou
Die dood is nou
Veels te gou
Toe die donker om ons vou
My hand as troos vir jou.

Twee hande saamgesweis 
Sonder liggaam as bewys
Net deel van die ongevalle lys
Onder die sitplek uitgewys
Verskrompelde bewys
Twee hande saamgesweis
© Dawid Lotter 2014

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 66 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *