Rissies

In Vietnam noem hulle dit ot. Maar hier by ons word dit sommer chilies of rissies genoem. Rissies is al sedert 7 500 VC deel van die mens se dieet. Daar is bewyse dat sedert 3 500 VC rissies op ‘n georganiseerde wyse gekweek is, Rissies word geklassifiseer as ‘n vrug, alhoewel mense dit ‘n spesery noem. 

Daar bestaan 27 verskillende variëteite rissies waarvan 22 wild groei en net 5 gekweek word. Rissies het baie goeie kwaliteite en een daarvan is dat ‘n sekere variëteit in Mexiko die minimum daaglikse vitamien C bevat, maar die rissie moet groen wees. Indien  daardie selfde rissie gelos word om ryp te word, rooi, dan bevat hy twee keer soveel vitamien A as wat ‘n wortel bevat. 

Die brand kom voor in die vlies waar die pitte is. Dit is ‘n olie wat capsaocin genoem word. Aangesien die “brand” ‘n olie basis het help dit nie om water te drink as jy so ‘n lekker hap rissie geneem het nie. Die water en olie meng glad nie. So ‘n ander oplossing moet gesoek word. Daar word genoem dat dit sal help om rys te eet om die brand weg te neem. Ongelukkig sê hulle nie of die rys gaar of rou moet wees nie. Nog ‘n moontlike oplossing is om ‘n lepel suiker te eet. Verder kan jy ook warm tee drink of ‘n komkommer eet. Sommige van die voorstelle maak nie vir my sin nie. 

Natuurlik moet mens kan sê hoe sterk die brand gevoel van die rissie is. ‘n Amerikaanse apteker genaamd Wilbur Schofield het ‘n metode opgetoor om dit te bepaal. Suiker word in ‘n glas water opgelos. Rissies word verpulp en dan word daar ‘n sekere hoeveelheid druppels rissie in die suikerwater gegooi. Elke druppel rissie verteenwoordig ‘n aantal punte. Hulle kry nou ‘n paneel mense om die konkoksie te drink, en met elke sluk wat hulle neem word daar ‘n mengsel aangemaak met minder rissie sap in. Die paneel hou aan proe totdat die mengsel hulle monde nie meer brand nie. Daar kan nou gesê word dat jalapeno rissies ‘n scoville telling van 2 500 tot 4 000 het. Habanera rissies het ‘n scoville telling van 100 000 tot 300 000. Dit moet seker die hel uit jou uit brand.

Die wêreld oor word rissies gebruik in die voorbereiding van kos, maar veral in die meer warmer streke van die wêreld. Rissies word gebruik om kerrie te maak in Thailand. In sekere dele van China gebruik hulle baie rissies in hulle kos. In Korea word rissies ingelê saam met gemmer en knoffel. In Tibet gaan hulle so ver as om rissies met kaas te meng. 

Ek het in Dullstroom ‘n ander gebruik van rissies gesien. Daar maak een entrepreneur toilet sitplekke van perspeks waarin hy rissies sit. Dit lyk nie te sleg om na te kyk nie maar ek weet darem nie of ek die moed sal hê om op een van daardie sitplekke te sit nie. Daar is ‘n spesialiteit winkel in Sandton waar hulle rissie roomys verkoop. So met die tyd het rissies hulle begin vestig in ons kultuur. So sien ek dat Mev. Balls nou ook ‘n rissie saam met haar blatjang meng. Daar is ook nou rissie tamatiesous. 

Ek myself is lief om rissies in te le en dan saam met my kos te eet. Die beste gebruik van rissies kom in die volgende resep voor. ‘n Chef van Kaapstad het hierdie voorgereg opgedis. Knoffel en rissies word gebraai in botter. Dan word prawns bygevoeg. Sodra die prawns gaar is word dit gevlamde met whiskey. Daarna word daar sjokoladesous oorgegooi en voorgesit. Dit klink miskien nie lekker nie maar ek kan my voorstel dat die brand van die rissie en die soet van die sjokolade ‘n groot smaak ontploffing in ‘n mens se mond kan veroorsaak.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 934 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *