Soos vertel deur, Skutter, Malcolm Craig Vorster.

Doen valskerm keuring gedurende Mei 1984, slaag die twee weke PT. Kursus en doen sy springkursus No. 8405. Malcolm doen ’n mortier kursus. Gaan gedurende Januarie 1985 vir ’n jaar grens toe. Doen diens by ondergenoemde bassise, Okonkolo, Ondangwa en Opuwa. In die tyd was hy by verskeie geleenthede deel van Fire Force bystand en Lunar opperasies. Werk by ’n geleentheid of twee saam met spanne van die Verkennings Kommando.

Sy storie;

Ons het heeldag vandag gestaan en sandsakke vol sand gemaak, die son was weer ongenaakbaar warm hier op die wit sand van Ondangwa Lughawe. Toe die son sak maak ons klaar en stap na die afdak langs die menasie. Aandete is geroosterde boelie beef met kaas wat ons vinnig afsluk met soet koffie. Ons kry die bevel dat ons vanaand gaan vlieg. Vinnig die nodige voorbeidings tref, Fire Force kit, ammo, handgranate, vars batterye vir die radio’s en kaarte van die gebied. Die seiner gaan vinnig die roepseine en radio frekwensies na. Toe alles gedoen is en weer en weer nagegaan is vat elkeen sy springdak, R4 geweer met kit en stap ons hanger toe. By die hanger trek ons chutes en nood valskerms.

Twee, twee help ons mekaar om die valskerms oor ons fire force kit te pas, die valskerms sit ongemaklik op jou rug maar sodra die afstuurder klaar is met jou is dit spanne beter. Die R4 word oor die regter skouer vasgemaak. ’n Entjie van ons af op die aanloopbaan kom die Dakota C47 se enjins stotterend aan die gang. Vlamme slaan by die uitlaat sisteem uit, wat die gebied agter die ou tweede wereld oorlog vliegtuig met kort tussen poses amper spookagtig rooi verlig. ’n Entjie vêrder op die aanloopbaan styg die spottervliegtuig op, sy taak is om vir ons ’n teiken te soek. Ons val in ’n string in en die afstuurders gaan alles na. Soos ek na die manne in die string kyk, weet ek hulle is oorgehaal en reg vir enige vyand wat ons moontlik vannag mag teenkom. 

Toe kom die bevel, Na die vliegtuig…. Voorwaarts mars! Soos die voorste man by die vliegtuig kom help die man agter hom, hom om met die ongemaklike drie trappies in die vliegtuig te klim, eerste man sit aan die bakboord kant, volgende man stuurboord kant en so maak ons die vliegtuig vol, twintig gedetermineerde valskerm-soldate.

Die Dakota begin stadig tot op die aanloopbaan beweeg, draai regs, stop en toe begin die vlieenier die rekke opwen, dan trek hy weg, tel vinnig spoed op oor die aanloopbaan, soos die vliegtuig spoed optel lig die agterwiel van die aanloopbaan, spontaan begin ons sing; one, two- one, two, three- one, two three, four- LET GO! En toe die vliegtuig sy bande van die teerblad lig skree almal saam, AIRBORNE!

Vir ’n paar uur sirkel ons iewers in die operasionele gebied in die buik van die waggelende ou Dakota, party van die manne sit met hulle arms oor hulle noodvalskerms, ken op die bors en slaap, ander staar deur die oop deur die nag in, waar hulle niks kan sien nie. Elkeen besig met sy eie gedagtes, party praat seker in stilte met GOD, ander dink aan die huis, party seker maar aan ’n meisie iewers in die states. (Die Republiek is die states genoem).

Dan skielik kom die bevel! MAAK GEREED VIR VIR AKSIE!! STAAN OP, HAK OP!
Twintig valskerm-soldate is binne ’n sekonde wakker en reg, anadralien spoel soos ’n golf deur jou liggaam. Jy hou op dink, alles wat nou gebeur is deur ure se intensiewe opleiding, in jou ingedril, jy tree instinktief op.

Volgende bevel, GAAN UITRUSTING NA! Helmet, noodvalskerm, jy maak seker jy is opgehak, vry beweging op die kabel, kyk na die man voor jou, maak seker hy is opgehak, inspekteur sy valskerm, 6 rekkies, buitepak knoop, klap hom op die skouer. Volgende bevel, VERKLAAR! So begin die agterste man, 20 reg, volgende man 19 reg, tot by die voorste man, met sy duim in die lug verklaar hy, EEN REG…. STRING REG!

So uit die hoek van my oog sien ek die rooi lig by die deur wat aan is.

Die Dakota daal vinnig tot op spring hoogte, die spotter het ’n teiken geidentifiseer, op daardie staduim maak dit nie saak wie, wat en hoeveel vyand daar is nie. 

Elke man breek die lumi stick agter op sy spring helmet.

Volgende bevel, SPRING….POS! Shuffle step tot die voorste man met sy linker arm teen die deurkosyn druk, ’n laaste vriendelike woord van die afstuurders, MOOI LOOP MANNE!
Volgende bevel, STAAN…INIE DEUR! Die voorste man laat sak sy arm, met ’n, EEN TWEE, staan hy binne-in die deur, die helfde van lyf beur by die deur van die vliegtuig uit, hy kyk reguit vorentoe na ’n horison wat lankal nie meer daar is nie. Agter hom staan die manne elkeen met die man voor hom se strop in sy linkerhand.

Almal hou die groen lig dop, Die Dakota verminder spoed, ons weet die groen lig gaan enige tyd nou aangaan, die volgende moment is die rooi lig af en die groen lig aan. Al wat jy hoor is, GO-GO-GO en so hardloop ons soos ’n rubyspan op die veld sal hardloop, deur die oop deur in ’n donker maanlose nag, die onbekende in…..

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 216 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *