Die Lewe is ‘n resep

So ‘n paar dae gelede het ek gesit en dink waaroor kan ek volgende skryf en toe kom die gedagte by my op dat resepte net soos die lewe is. As daar so ‘n vak soos Kos Filosofie was sou hierdie artikel mooi daarin gepas het.

By een van my vorige werke waar ek klaar gemaak het, het die afdeling ‘n paar rand ingesamel om vir my ‘n aandenking te koop en hulle het natuurlik geweet wat my passie is. Daar koop hulle toe onder andere vir my ‘n kookboek genaamd “Indian Delights”. Alles oor die Suid Afrikaanse Indiese kookkuns. 

Voor in die boek het Salma (‘n Indiër Dame) die volgende geskryf, en ek vertaal dit in my beste Sondagskool Afrikaans. Hierdie boek is die simbool van ons span. Jy is ‘n deel van ‘n resep. Sonder jou is die dis nie volledig nie. Wanneer jy vervang word daar ‘n hele nuwe dis gevorm. Ons weet dat wanneer jy in ‘n ander dis gebruik gaan word, dat jy die smaak van die dis gaan verander en ‘n hele nuwe betekenis gaan gee aan die woorde “Variety is the spice of life.”. Ons hoop dat die nuwe kok jou goed gaan gebruik sodat jy die voordele van die nuwe dis kan geniet.

Dit het my laat dink dat die lewe soos ‘n resep is. Daar is sout en suur, koud en warm, bietjie van dit en baie van dat in. Dan word alles nog saam gemeng en deurmekaar gemaak. Maar dit alles het net een voordeel en dit is dat wanneer die dis klaar gebak is, dit ‘n meesterstuk is.

So kry ons ook maar die sout, suur en bitter in die lewe, ons word ook maar baie rondgeskommel en ons gaan ook deur vuur (moeilike tye). Maar ons moet onsself nie daaraan vas staar nie, want die produk wat daarna uitkom ‘n meesterstuk van die Liewe Vader is.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 65 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *