Gekondenseerde Melk

Gekondenseerde of ingedampte melk het ‘n baie interessante geskiedenis. Toe ek die geskiedenis lees toe kom die prentjie van Walt Disney se Beauty and the Beast by my op. Die beauty se pa was mos hierdie vreeslikke deurmekaar uitvinder. Iemand wie se talente nie raakgesien is deur die gemeenskap waarin hy gewoon het nie.
Net so het dit met Borden gegaan. Hy is die uitvinder van die proses wat ingedampte melk vervolmaak het. Een van sy vroeë uitvindings was ‘n perdekar wat deur perde op die land getrek kan word en dan net so gemaklik in die water kan seil. Met sy eerste probeerslag het die mense hom gekeer voor die perdeboot (ek weet nie wat om die kontrepsie anders te noem nie) in die water ingegeaan het. Maar dit het Borden nie afgesit nie. ‘n Paar dae later het hy weer probeer en toe die perdeboot in die water kom het hy omgeslaan. Die mense was nie baie gelukkig nie.
Moed opgee was nie in Borden se woordeskat nie. Sy volgende probeerslag was vleis koekies gewees. Hy het 120 pond beesvleis afgekook tot so 10 pond toe. Hy het dit ontwater meel bygevoeg en geknie, dit in koekies gevorm en gebak. Hy het probeer om sy koekies aan die Amerikaanse vloot en weermag te verkoop, maar hulle het verskeie redes aangegee hoekom hulle nie daarin belangstel nie. Een arktiese ekspedisie het die wondere van die koekie beskryf en het daarop geleef. Die Vloot en Weermag se weiering om die koekies aan te koop het Borden tot bankrotskap gedryf.
Hy het aangehou om produkte te kondenseer. Van sy idees was byvoorbeeld om een pampoen te kondenseer in ‘n eetlepel in. Verder ht Borden het verskeie waarnemings oor melk neergeskryf. Hy het gesê dat sodra ‘n koei gemelk word dan begin die melk afgaan. Hy het ook gesê dat daar ‘n verhouding is tussen vuiligheid, varsheid en die kwaliteit van melk is. Dit het hy eerstehands ervaar toe hy in 1851 met ‘n boot oor is na Engeland. Op die reis het kinders gesterf as gevolg van ou melk.
Ander mense het begin om melk te kook. Maar wat die probleem was, was dat hulle dit op ‘n oop vuur buite gekook het. Die melk het omtrent altyd aangebrand of verkleur of sommer net nie lekker geproe nie. Borden het ‘n vakuum pan gebruik. Die vakuum pan was in gebruik gewees om gekondenseerde vrugtesappe te maak. Borden het die melk in die vakuum pan gesit, stadig verhit, sodat die water geleidelik kon verdamp. Melk bestaan uit 75% water. Met die verdamping van die water, al wat dan oorgebly het was die gekondenseerde melk.
In 1855 begin Borden sy gekondenseerde melk van deur tot deur verkoop. Borden dring ook daarop aan
dat die boere wat die melk aan hom verskaf uiters higiënies te werk moet gaan. In 1858 kry hy die erkenning wat hy seker al lankal voor gewag het. Die Komitee van die Akademie vir Medisyne verklaar sy melk van die hoogste gehalte.
Met die uitbreek van die siviele oorlog in Amerika is die melk as deel van die rantsoene vir die soldate gegee. Soos die soldate van die oorlog af teruggekom het, het hulle aan hulle families van hierdie wonderlike melk vertel. Sy melk het so gewild geraak dat hy nie die Weermag kon voorsien van al hulle behoeftes nie. Sy besigheid het van krag tot krag gegaan.
Wat Borden se storie so uniek maak is dat hy slegs sowat een jaar skoolgegaan het en dat hy geen opleiding as wetenskaplike gehad het nie. Ons moet sekerlik dankie aan die man sê vir sy uithou vermoë. As dit nie vir daardie kwaliteit van hom was nie, sou ons seker nooit ingedampte melk gehad het nie. Nog ‘n les wat ek hieruit geleer het is dat ‘n mens nie noodwendig geleerd hoef te wees om suksesvol in die lewe te wees nie.

As u ‘n goeie idee of droom het, klou aan jou droom want daar is ‘n lig aan die einde van die tonnel.
Print Friendly, PDF & Email
(Visited 323 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *