Bang Jan , Dooie Jan

Ons is oor die grens en betrek ʼn dorpie. Die dorpie is verlate en vol gate geskiet. Ons gaan na die skool en besluit om daar te gaan nesskop vir die aand. ʼn Paar van ons  
loop so rond in die skool en kyk wat daar aangaan. In een van die klaskamers is daar baie bloed teen die muur. En die mure is vrot geskiet. Nie juis iets wat jy op jou eerste dag in Angola wou sien nie.

 In een van die huise naby aan die skool sien ons die laaste mense wat daar in die huis was het sommer vuur gemaak in die bad. Dit het natuurlik gestrook met ons breinspoeling dat swart sleg is en barbaars is. In baie van die huise staan nog meubels rond. Die blanke Angolese het baie van hulle goed net so gelos en gevlug.

Die skool was ideaal gewees, want dit was omhein. Die drade was nogal lekker styf gespan. Die aand was ek een van die gelukkiges wat moes wagstaan. So elke paar honderd meter is ʼn wagpos gewees. Ons het sommer so in ons slaapsakke gesit of gelê. Dit is natuurlik ʼn resep vir moeilikheid. Want as jy so lekker warm snoesig sit dan raak die ooglede swaar.

Ek was net so op ʼn punt gewees dat my oë toegegaan het toe hoor ek hierdie knal. My hart het vir ʼn paar sekondes gaan staan. Ek het my behoorlik des moers geskrik. Ek kon nie beweeg nie ek was versteen. Ek het myself yskoud geskrik. Ek het na ʼn paar sekondes
weer bygekom. My geweer geryp en die nag ingetuur. Dit was bleddie swart voor my ek kon niks sien nie.

Die volgende oggend het ek gehoor wat gebeur het. Een troep het sy geweer op een van die drade neergesit en omdat die draad so styf gespan was het daar so knal geluid uitgekom. Natuurlik het ek nie aan die sondebok erken dat ek amper my broek natgemaak
het nie.

So is ons van die een plek na ʼn ander plek in die Suide van Angola. Op ʼn stadium kom ons by die helse plaas aan. Alles staan net so. So in die middel van die opstalle staan daar ʼn kerk. Mooi netjies, nog banke in en ʼn preekstoel. Die kerk het geen vensters gehad nie. Want ek vermoed dat dit daar warm is en warm bly. Dit was ʼn “open plan” kerk gewees.

Ons Kapelaan (predikant) besluit net daar en dan dat hy nie so ʼn geleentheid deur sy vingers kan laat glip nie, net daar en dan het ons ʼn erediens in die kerk. In hierdie stil plek kom die woorde so aangesweef na jou toe. Iets wat ek nie kon uitredeneer nie was hier
sit ons in die Kerk en luister na die woord van God. Maar tussen ons knieë is ons gewere vasgeknyp. Hoe bring mens oorlog en die geloof bymekaar.

As daar van die vyand verbygekom het sou ons hulle net daar uit die kerk geskiet het, so in die middel van die woord. Jy sit en luister maar in jou gedagtes beplan jy hoe en wat gaan jy doen as die vyand jou nou aanval. Paradoks op sy beste.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 162 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *