Die Eensame Doedelsak Speler

Ons was bang, maar soos dit met soldate gaan niemand dit erken nie. Jy wou mos nie vir jou buurman wys jy is bang nie. Daar bestaan mos nie so iets. 

Ons hoor toe dat ons Labito toe sou gaan om die hawe te gaan beskerm. Die valskerm troepe wat by ons was sou gegaan het om Luanda se lughawe in te neem. Daar was ook ʼn
skotse regiment gewees en ek kan nie onthou waarheen hulle sou gaan nie. Dan was daar ook Gunners gewees. Almal was kampers gewees.

Ons sou die oggend baie vroeg vertrek het. Die offisiere het vir ons gesê dat hulle verwag dat dit ʼn taai stryd gaan wees en dat hulle teenstand verwag en natuurlik ook verliese. Maar na ons die hawe ingeneem het, sal dit rustiger gaan. Met daardie nuus sit ons so en eet aandete. Almal is stil en die vraag op almal se lippe is wat gaan gebeur as dit ek is wat een van die ongevalle gaan wees.

Meeste van die mense het gesit en begin om ʼn laaste brief te skryf wat gestuur kan word as jy een van die ongevalle is. Daardie briewe word met soveel passie en liefde geskryf. Hier en daar sien mens ʼn traan. Wat skryf ʼn mens aan iemand wat jy miskien nooit weer in
hierdie wêreld gaan sien nie.

Êrens hoor ons ook die Gunners (Kanonniers) wat so paar skote afvuur met die kanonne. Net so voor slaaptyd, staan daar ʼn een van die skotse regiment se manne op en speel ʼn liedjie op sy doedelsak. Hier in hierdie donker nag, met die kanonne wat so paar skote afvuur kom hierdie mooi soet strelende klanke aan van die eensame doedelsakspeler. Dit het my geruk.

Paar weke daarna het ons gehoor die Skotse regiment se manne is aangeval en daar is ʼn paar van hulle dood. Maar dit is nie bevestig nie. Vandag nog as ek ʼn doedelsak speel kan ek nie help om aan daardie aand te dink nie. En dan loop die emosies baie hoog.

Na die doedelsakspeler klaar was roep hulle ons bymekaar. Ons gaan nie meer Labito toe nie. Die Amerikaanse magte het net buite Labito hawe gelê en wag vir ons. Daardie aand het die Amerikaners besluit om nie meer betrokke te raak by die konflik in Angola nie. Sonder hulle ondersteuning sou ons nie die taak alleen kon aanpak nie. Die Suid Afrikaanse vloot het ook daar gele met een of twee skepe.

Wat ʼn verligting was dit nie gewees nie. Baie briewe word daardie aand opgeskeur. Want ons kanse om dood te gaan is nie meer so groot nie. So trek ons die volgende dag in Angola in want ons is aangesê om die suide van Angola te gaan patrolleer en beveilig vir
die troepe wat uit die noorde gaan terugtrek.

In nog ʼn onbekende land met baie onbekende faktore en gevare wat vir ons le en wag. Ons is op pad en die kanse dat ons kan slaags raak met die vyand en dalk kans kan kry om mense te skiet en te dood, knaag maar so in ʼn mens se agterkop.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 192 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *