Die Menasie

Omdat ons so in woonstelle in Voortrekkerhoogte gebly het, het ons nie ons eie menasie gehad nie en het so in ʼn gemeenskaplike menasie geëet. Dit was maar army kos gewees. Blou eiers en koue roosterbrood was aan die orde van die dag gewees.

Al wanneer die kos redelik was, was Saterdae aande. Dan het ons mixed grills gekry om te eet. Nie dat ons juis baie daar was op Saterdae nie. As ons nie pas gehad het nie, het ons ge-Awol.

Donderdae het ons omtrent altyd so ʼn deeg bal iets gekry. Die bal was so hard en taai en het ons nie geëet nie. Eendag het iemand ʼn blink idee gekry. Ons het die balle gevat en in ons baadjie sakke gesit. By die woonstelle het ons ʼn kassie daar gesit, ʼn bat gekry en dan het ons heerlik krieket gespeel met die meel balle.

Die balle was taai gewees en hard. Elke bal het ten minste een ‘over’ (6 keer se gooi vir die wat dalk nie krieket ken nie) gehou. As die een bal pap geslaan is het ons die ander bal uit ʼn sak uitgehaal en vêrder gespeel. Wat die balle veronderstel was om te wees weet
ek wragtig nie.

Een aand so met ons naderende uitklaar om die draai het ons voor die deur gestaan en toe die kokke nie die deure op die tyd oopgemaak het nie, het ons lekker rumoerig geraak. Die deur geskop en teen die deur geslaan.

Ons groep was die spesifieke aand eerste by die menasie gewees. Uiteindelik gaan die deure oop en hulle laat ons inkom. Een na die ander stap ons in en kry ons kos. Toe die laaste man van ons groep in is maak die kokke die deure toe. Net daar besef ons, dat hier is
nou moeilikheid.

Met die kamaradie werk almal saam in ʼn moeilike situasie. ʼn Paar manne gaan vorentoe en praat omtrent smekend met die kokke en dan aan die agterkant maak ons vensters oop en spring uit en hardloop ons na die woonstelle toe.

Net ʼn paar manne word uiteindelik gevang. Ons Stafsersant kom daar aan en praat met die kokke wat die manne toe laat gaan het. Maar die moeilikheid was nie verby gewees nie. Ons almal word sommer daar en dan aangetree en elkeen word dieselfde vraag gevra “Het jy gaan eet vanaand?” die antwoord was elke keer dieselfde gewees nee staf ons het nie gaan eet vanaand nie.

Die staf was nie onder ʼn kalkoen uitgebroei gewees nie en het natuurlik geweet dat ons almal daar was en dat ons so uit die menasie ontsnap het. Hy het ons almal gestraf. Hoe kan ek nie meer so mooi onthou nie.

Die manne wat gevang was, was natuurlik ons helde omdat hulle nie op ons gesplit het nie.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 362 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *