Koeksoda

 So ‘n rukkie gelede waag ek toe mos my hand aan iets wat ek gedink het wat baie moeilik was, net dames met jare se ervaring kan dit doen. Maar gelukkig is ek verkeerd bewys. ‘n Vriendin van ons gee aan ons ‘n Kersfees koek resep wat volgens haar maklik is. Daar begin ek en my eks toe ons eerste probeerslag met Kersfees koeke te bak. Gelukkig vir my was dit nie te moeilik gewees nie. Na 10 koeke wat ons gebak het voel ek ook nou soos ‘n professionele Kersfees koek bakker.
Een middag staan ek toe so en weer ‘n baksel aanmaak, en junior staan my so en kyk en vra aan my Pa waarom gooi jy koeksoda in die vrugte en hoekom “kook” dit dan so? Net daar het ek my kop in skaamte laat sak en sê aan hom dat ek nie weet nie. So dankie junior dat jy die vraag gevra het en my nuuskierigheid so geprikkel het dat ek moes gaan navorsing gaan doen het.
Wat is koeksoda nou eintelik ? Koeksoda is vir die Chemiekuste NaHCO3. Dit is ‘n alkaliese middel wat “kook” wanneer dit met sure in kontak kom. Dit dien dan as ‘n rysmiddel, net soos bakpoeier. Koeksoda word baie gebruik in Anti Suur middels juis vir sy “kook” doeleindes. So op die noot gee ek sommer my eie Eno’s resep hier wat baie goed werk vir sooibrand. Neem 1 teelepel koeksoda in ‘n glas, gooi ‘n bietjie asyn in die glas, roer en drink vinnig. Werk net so goed as Eno’s en is baie goedkoper.
In die laat 1700’s het die mense nog gis gebruik om gebak te laat rys. In daardie tyd het die huisvrouens begin om koeksoda te gebruik.  Koeksoda het die gebak gouer laat rys, maar dit was nie baie gewild gewees nie as gevolg van die gasse wat ontsnap het. Later is kremetart bygevoeg, maar daar het nog baie gasse ontsnap. In 1885 het hulle sodium aluminium sulfaat bygevoeg en bakpoeier is gebore.
Moet nooit meer koeksoda of bakpoeier in die gebak gebruik nie, want dit kan die gebak bitter laat smaak en die deeg kan ook te vinnig rys en lugborrels  kan dan bars wat sal veroorsaak dat die gebak platval. Te min koeksoda kan veroorsaak dat die gebak taai word.
Aangesien Bakpoeier en Koeksoda so naverwant aanmekaar is gaan hierdie wenke iets van beide insluit.

  • Hier is nog ‘n nuttige wenk vir baksters en bakkers. Om ‘n eier te vervang in gebak Gooi ‘n ekstra ½ teelepel bakpoeier en 2 eetlepels water in die gebak vir elke eier.
  • Om jou eie koeksoda te maak meng en sif twee dele Kremetart, 1 deel Koeksoda en 1 deel Mielieblom. Dit werk presies soos die groot naam bak poeiers en kos net ‘n fraksie van die prys. 
  • Hou koeksoda in die kombuis. Indien jou kos vlam vat gooi net koeksoda oor die vuur. Jy kan koeksoda met veiligheid oor enige vuur strooi om dit te blus.
  • Om jou vuilis dromme skoon te maak en van die reuke ontslae te raak, was die dromme met koeksoda. 
  • Om klere wat met olie en ghries besmet is skoon te kry gooi net koeksoda in jou waswater. Gebruik ‘n halwe koppie. 
  • Om daardie reuke wat partykeer in die yskas voorkom van ontslae te raak sit net ‘n houer koeksoda in jou yskas. Roer net die koeksoda so nou en dan om. Vervang die koeksoda elke 2 maande.
  • Om hardnekkige vlekke te verwyder van jou kaste af, maak ‘n pasta van Koeksoda en water. Skuur dan die kas met die mengsel.

Koeksoda is nie net goed vir bak nie maar ook goed vir vlekke en reuke verwyder. As u dalk een van die nie moderne Ma’s is nie, kan u gerus ook koeksoda gebruik om die kind se doeke water ingooi. Dit sal die vlekke en reuke uit die doeke verwyder.

Indien u ander gebruike het vir koeksoda laat my asb weet.
Print Friendly, PDF & Email
(Visited 137 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *