Kom Ons Maak ʼn Dampie

Toe ons in Angola in is, het ons so ʼn bietjie sigarette, koeldrank en bier gehad. Op daardie stadium as jy grens toe gegaan het, het die Dankie Tannies (Die vrouens van die Suiderkruis fonds) elke troep een pakkie sigarette en een bier of koeldrank gegee per dag.

Na so vier vyf dae se rondry het ons niks soos in niks gehad om te rook nie. Ai die rook lus was baie groot gewees. Die nie rokers het lekker vir ons gelag. Die nie rokers het hulle pakkies sigarette aan ons verkoop vir R 2. Nou wil ek net se sigarette se prys op die grens was omtrent 20 sent ʼn pakkie op daardie stadium.

Maar die bron van rook is ook uitgeput. Ons kamp een dag langs die rivier. Dit is so vroeg middag. Ons is besig om kos te maak en strooi te praat. Hier kom Pantsers en stop by ons. Hulle kom van die Noorde af en is moeg. Hulle vra of hulle sommer die aand daar by ons kan kom kamp opslaan. Ons dink dit is ʼn goeie idee daardie. As die ters (terroriste) ons aanval kan ons so paar bomme in hulle rigting moer met die pantser karre.

Nou het ons darem iemand om mee te praat en nuus uit te ruil en hoef nou nie meer heelaand na dieselfde ou stories te luister nie. Na so paar minute kom een van die pantsers daar aan met ʼn sigaret in sy mond. Ons bekke het behoorlik gewater. Hulle sien dit toe en die een pantser gaan na sy pantser kar toe en bring ʼn groot plastiek sak uit sy pantser kar. Die sak is groot en vol sigarette.

Ons is maar beskeie en neem net elkeen een sigaret. Ons steek die sigarette aan en neem die eerste heerlike salige trek. Hel maar daar slaan so ʼn sigaret my tussen die oë. Maar ek is duiselig en dronk en weet nie waar ek is nie. Lekker hoog gerook. Na die eerste sigaret
vertel die pantsers ons dat hulle die sigarette in ʼn verlate sigaret fabriek gekry het.

Hulle pantser karre was gelaai met die sigarette. Hulle hou een sak vir ons en se ons kan ons self maar help. Gretig en gierig vat elkeen van ons ʼn hande vol sigarette. Na die tweede sigaret vertel die pantsers ons vêrder dat die sigarette 40% dagga is en 60% twak. Dit is ook natuurlik nie bevestig nie en dit het ons ook nie afgesit nie. Ons het nie omgegee nie. Al wat saak gemaak het was dat ons kon rook.

Pantsers julle is glad nie so sleg as wat almal sê nie al het julle ons gevang met daardie dagga zolle van julle.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 102 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *