Maak daardie foute reg

Dit gebeur baie dat ’n mens, terwyl jy met kos besig is, jou aandag afgetrek word en jy nie seker is wat jy laas gedoen het nie of jy gooi sout in die bredie en die soutpot se deksel kom af en daar daal ’n ton (dit proe so) sout na benede. Jy hoor jou gunsteling liedjie speel op die radio wat in die kamer staan, en wanneer jy terugkom in die kombuis dan het die rys wat 3 minute gelde nog reg was aangebrand. Sulke dinge gebeur mos net wanneer jy dit nie kan bekostig nie. Jy het die laaste groente en vleis gebruik om sop te maak of jy kry gaste vir ete.

Daar is ook natuurlik foute wat jy nie kan regmaak nie. Dit is foute soos om ’n appeltert te bak en as jy die tert sny dan is dit kluitjie en jy kom agter jy het vergeet om die eiers in te gooi. Vra my dit het my al oorgekom. Iemand anders in my huisgesin het eendag ’n piesangbrood gebak. Nadat die piesangbrood uit die oond gekom het sien sy die piesangs lê op die tafel. Vir sulke foute het ek nie raad nie maar vir die glipsies is daar wel raad.

Wanneer jy te veel sout in die sop of bredie gegooi het kan jy altyd nog water byvoeg om die sout te verdun. Dit kan dalk probleme veroorsaak aangesien jou bredie dan ’n waterige sous sal hê. Die ander en maklikker manier is om ’n aartappel te neem, af te skil en dan net so in die bredie of sop te gooi. Die aartappel sal die meeste van die sout intrek. Wanneer die meeste van die sout so ingetrek is in die aartappel kan jy dan net die aartappel  uithaal en weggooi. Dit is mos nou maklik genoeg.

As jy dalk eendag patats of wortels te sag kook is dit die einde niet. Gryp jou Kook en Geniet nader en soek dadelik ’n soufle resep. Die saggekookte patats en wortels maak ’n heerlikke soufle. Dit sal ook ’n heerlikke verandering maak van die daaglikse gewone groente. Miskien begin die kinders dan hulle groente eet.

Almal ken seker daardie reuk van gebrande kos. Dit gebeur as jy net gou iets anders wil doen. Terwyl jy nog so rustig is met die ander dinge dan tref daardie reuk jou. As jy eers die snuf in die neus gekry het is dit al te laat. Jy sal wat jy ook al gekook het moet van nuuts af weer kook, want die brand smaak kry jy nie uit die kos uit nie. Maar wat gemaak met die pot of pan ? Laat die pot of pan eers goed afkoel. Ek het al probeer om sout en asyn oplossing in die pan of pot te sit vir ’n lang ruk, maar dit werk nie altyd so goed nie. Maar gelukkig is hier ander raad. Nadat jy die meeste van die gebrande kos verwyder het moet jy water en materiaal sagmaak (Fabric Softner)middel in die pot of pan gooi. Laat dit oornag staan en maak dan die pan moeiteloos skoon.

As jy nou per ongeluk die brood nie geberê het nie en dit is effens hard kan jy darem nog iets daarmee maak. Sit dit in die mikrogolf vir ’n paar sekondes. Smeer die een kant met margarien en sit kaas daarop en rooster in die oond. Die huismense sal nie eers agterkom dit os drie dae gelede se vars brood wat hulle eet nie. Sny die brood in blokkies en rooster in die oond. Jy kry dan heerlikke croutons. Wat ek kan onthou is dat my Ma die snye brood redelik dik gesny het. Sy het dit dan elke snytjie brood in drie of vier repe gesny. Dit het dan oond toe gegaan om teen ’n lae hitte uit te droog. So het sy menigmaal vir ons regte “Ouma” beskuit gemaak.

Muf in kos kan jou redelik siek maak. As jy muf op kaas kry kan jy net die muf afsny en weggooi. Die res van die kaas is nog reg om te eet. As jy die maag daarvoor het kan jy gerus ’n stukkie van die muwwerige kaas eet. Dit gee die kaas nogal ’n heerlikke smaak. Muf op kaas is mos medisyne en kan jou nie skade aandoen nie. Met die ander kosse is daar net een raad en dit is asblik toe. 

Ek hoop die raad gaan julle eendag help.




  

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 263 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *