Mangonaise en Eende

Wanneer ek mayonaise eet of dit sien dan dink ek aan Pieter Pieterse. Hy het mos jare gelede so ‘n kookprogram gehad wat hy aangebied het. In hierdie program het hy altyd as hy mayonaise gebruik gesê jy moet ‘n paar lepels mangonysie oorgooi. ‘n Man met vele talente en plat op die aarde was. 

Waar kom mayonaise vandaan ? Net soos met baie ander kosse het mayonaise ook maar ‘n duistere verlede wat nie presies vasgestel kan word nie. Daar word beweer dat ‘n tipe mayonaise alreeds in die antieke Romeinse tyd bestaan het. Maar daar kan geen geskrifte gevind word om dit te bevestig nie.

Daar word beweer dat in 1756 met die oorwinning van die eerste veldslag van die 7 jarige oorlog, die Franse die eerste mayonaise gemaak het om die die oorwinning te vier.  Daar word verder beweer dat die mayonaise die eertse keer gemaak is by ‘n banket ter ere van Generaal Richelieu. Hy was die brein agter die oorwinning van die veldslag. Ek het al ‘n paar manne gesien wat ‘n geveg met Genberaal Richelue in die kroeg aangeknoop het, en hulle het nie goed gelyk nie. 

Oor die oorsprong van die woord mayonaise word daar ook wyd en syd bespiegel. Dit is blykbaar van die Franse woord “manier” afgelei. Een van die betekenisse van die woord is moontlik “om te klits.” ‘n Ander betekenis kom ook van ‘n antieke Franse woord “moyen” af wat eiergeel beteken. Mayonaise se resep het van Frankryk na Engeland toe oorgewaai en van daar af na Amerika en die res van die wêreld toe.

Baie min mense maak deesdae hulle eie mayonaise. Die rede daarvoor is seker dat dit so moeilik is om te maak. Net ‘n bietjies te veel olie en die mayonaise skif, dan is al daardie bestanddele daarmee heen. Na ‘n paar mislukkings het ek dit ‘n paar keer reggekry om my eie mayonaise te maak, en vir my was dit die moeite werd gewees. Tuisgemaakte mayonaise is heerlik. 

Vir die mense wat nog nie hulle eie mayonaise gemaak het nie, dit is ‘n mengsel van olie, eiergeel en asyn of suurlemoensap. Hier geld die reël ook van hoe beter die bestanddele hoe beter gaan die mayonaise smaak. Die asyn en eiergeel word gemeng en dan word die olie drupsgewys bygevoeg. Soos ek voorheen gesê het, net een glip van die hand en jy sit met ‘n gemors.

 Maar die slim Amerikaners het natuurlik weer die resep geneem en so ‘n bietjie aangepas en die resultaat is Miracle Whip. ‘n Ene Charles Chapman het in 1933 ‘n masjien ontwerp wat kon klits teen een helse spoed. Wat die masjien so uniek gemaak het was dat al die bestanddele soos die olie, eiergeel, asyn en meer as 20 geheime speserye, kon voortdurend in die masjien ingaan om geklits en gemeng kon word. Vir ‘n manjefieke slaai, gebruik eerder Miracle Whip as wat jy gewone mayonaise sal gebruik.

Wat het eende en mangonysie met mekaar te doen ? Ek weet nie, ek het nog so ‘n paar reëls oopgehad en toe dit goedgedink om so ‘n ietsie oor Peking Duck te skryf. Dit is ook maar ‘n kort stukkie. Peking Duck (Eend) het sy oorsprong in die Ming Dynasty sowat 600 jaar gelede gehad. In daardie tyd het sjefs vanoor die hele land na Beijing toegegaan om vir die heerser van Sjina te kook. Dit was vir hulle ‘n baie groot eer om vir die heerser te kook. 

Indien ‘n sjef sy sout werd was en goeie kos voorberei het, het die heerser die sjef sommer ‘n minister in sy kabinet gemaak. Die resepte en disse wat vir die heerser gaargemaak is, het maar ‘n geheim gebly. Maar van die skelm sjefs het die resepte uitgesnokkel. Hulle het begin om restaurante in Beijing oop te maak en hierdie heerlikke hemelse kosse aan die gewone man in die straat voor te sit. 

So in 1911 het die Peking Duck ook sy vesrkyning in die strate van Beijing gemaak. Peking duck word voorberei so ongeveer 24 uur voor die tyd. Daar word lug tussen die vel en die een ingeblaas om die vel en die vleis van mekaar te skei. Die eend word dan in in plek gehang om winddroog te word. So ‘n ruk voor die gaste opdaag, word die eend in die oond geplaas en gebak. Die gevolg is ‘n vel wat heerlik bruin en crispy gebak is en vleis wat heerlik sag en sappig is.  

Dit is die einde niet. Wanneer gaar word die eend op ‘n trollie na die gaste toe gestoot deur die sjef. Die sjef is getooi met wit handskoene. Die eend word dan in 120 dun skyfies gesny en bedien met ‘n ligte pannekoek, komkommer skyfies en ‘n verskeidenheid van souse. Iets wat ek graag nog sal wil probeer.
Ek glo nie die sjefs sal in hulle skik wees as jy die Peking Duck in ‘n mangonysie doop en dan eet nie. Dit laat my sommer aan die grappie dink: As jy in ‘n kroeg inloop, hoe sal jy weet watter persoon is Mike Schutte ? Dit is die persoon wat sy Ouma beskuitjie in die Irish Koffie druk.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 107 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *