Dag Patrollie Van Sewe Dae

Eendag terwyl ons so swerf kry ons die opdrag om vir ʼn dag lank op ʼn voertuig patrollie te gaan. Dit is daardie tipe patrollies wat ons van gehou het. Jy sit agter op die trok se bak en maak asof jy kyk na die omgewing.

Op die patrollies kan jy rook terwyl jy ry, jy raak nie moeg nie en jy kan met jou makkers gesels. Al wat jy saamneem is jou geweer en webbing. In jou webbing is jou ammunisie, water bottel, dixies en jou twee man tent. Nou hoekom die tent ʼn twee man tent genoem
word sal net hulle weet, want as jy die tent opgeslaan het, is daar definitief net plek vir een man in die tent.

So ry ons die dag uit. Net toe ons besluit dat ons nou moet teruggaan, word ons per radio in kennis gestel dat ons na ʼn sekere posisie toe moet gaan. Hulle sal vir ons kos en water bring. Ons moet op die posisie bly tot die volgende oggend. Die kos as mens op patrollie uitgaan is ʼn RAT PACK (rantsoen pak) wat bestaan uit genoeg kos om jou vir 24 uur aan die gang te hou. Alles is in poeier vorm, of in blikkies.

Die aand slaan ons, ons tentjies op en sit om ʼn vuur en eet te heerlik. So op patrollie vat jy die vorige aand jou waterbottel se beker, sit die Dog Biscuits daarin en gooi baie water oor. As jy gelukkig is dan is die dog biscuits die volgende oggend lekker sag. Die dog biscuits is hard en ek bedoel hard. As jy iemand teen die kop gooi met dit sal hulle definitief harsingskudding opdoen.

Die volgende oggend gooi ons net kondensmelk oor en dan siedaar het jy ʼn heerlike ontbyt. So stuur hulle ons van die een plek na die ander plek toe. Elke aand slaap ons op ʼn ander plek. Maar dit is lekker en ons kla nie. Soos die tyd aanstap word die manne al hoe
bruiner.

Onthou ons het nie beplan om so lank weg te bly nie, so ons het nie skoon klere of onderklere saam met ons nie. Dit is warm en natuurlik sweet ons baie. Daar is ook nie riviere en of damme waarin ons kan swem of bad nie. So wanneer ons gaan slaap, slaap
ons net so met ons klere aan.

Omdat ons vêr van almal en nog wat was en daar geen mense om ons was nie, het ons as ons die oggende opgestaan het so ʼn paar tree van ons tente af weggeloop en water afgeslaan. Dit was ons roetine gewees. So bly ons sewe of agt dae in die veld.

Die laaste aand wat ons in die veld was het ons weer so met die klere aan geslaap. Die volgende oggend toe die son sy kop uitsteek word ons so lui, lui wakker. In een van die tentjies hoor ons net so ʼn gemompel. Die man staan uit sy tent uit op en staan daar rond.
Hy vra aan almal wat wil hoor of hulle nie iets ruik stink nie. 

Nee ons ruik nie juis iets snaaks of stink nie. Maar hy snuif hier en soek daar. Naderhand gaan staan die man so met sy arm en hou ʼn boom vas. Dit is al redelik warm en hy sweet na al sy ge soekery. Hy vee sommer toe sy voorkop se sweet teen sy mou af. 

Die arme man. Toe hy dit doen vang hy so reukie. Hy snuif en ruik en to kom hy agter dit is hy wat so reukie aan homself het. Hy het die heelaand homself geruik. Ons almal ruik aan onsself en kom toe agter ons het ook so klankie aan ons.

Ons kom terug in die basis en gooi ons kit in die tente. Reguit na die storte toe. Ons het ons klere net so daar neergooi. Was daardie stort nie lekker gewees nie. Ons het seker ʼn uur lank so gestaan en stort.

Nadat ons so in ʼn mate skoon was, het ons skoon klere aangetrek. Die ander klere het ons seker sewe maal sewe keer gewas om skoon te kry. Die sokkies en onderbroek het ek sommer net weggegooi want ek glo nie iemand sou dit ooit weer skoon kry nie.

Nadat almal weer skoon en netjies was, het ons aangesit vir ʼn lekker bord warm kos. Dit was hemels gewees. Daar aan die etenstafel het ons gesien dat almal se “tans” afgewas het. Die lekker bruin “tans” wat ons gehad het was nooit ʼn tan gewees nie maar vuiligheid.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 124 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *