ʼn Braai

So met ons omwentelinge in Angola het ons so ʼn bietjie weggeraak van die regiment af. Ons was so afgesny van almal om ons. Ons het nie geweet waar die res van die mense was nie. En hulle kon ons ook nie kry nie.

So het ons maar gedwaal na die algemene rigting waar ons gedink het hulle is. Die kos voorraad was baie laag gewees. Ons was saam met dit vuil en moeg gewees. Een spesifieke aand sit ons so en hulle roep ons om te kom eet. Ons vat nogal so vol verwagting ons dixies (Twee staal bakkies wat inmekaar pas, en waaruit ons geëet het) na die veldkombuis.

Maar dit was nie nodig gewees om die dixies te vat nie. Ons ete was twee meatballs en so ʼn halwe lepel spaghetti gewees. Ons het sommer so ons hande uitgehou en die kok het die kos sommer so in ons hande geskep. Almal het soos honger honde die kos uit hulle hande uitgeëet.

Dit was erg om honger, vuil en moeg te wees. Een sersant het by ons omgekom en ons gevra vir kleingeld. Ons het ons kleingeld vir hom in sy boshoed gesit. Hy is daar weg in die donkerte en ons het nie geweet waar heen hy is nie. Ons het gaan slaap. Die volgende
oggend kom die man en maak ons almal wakker. Ek bedoel vroeg soos 4 uur die oggend.

In die middel van ons kamp was daar een groot bleddie vuur aan die brand. Hy het uitgegaan en ʼn bees gaan koop met al die kleingeld by een van die PB’s (Plaaslike Bevolking). Hy het hom geslag en aan ʼn boom opgehang. Daardie oggend het hy by die
bees gestaan en elkeen ʼn groot stuk vleis afgesny.

Ons het vleis, ʼn vuur, en sout maar die tools om mee vleis te braai het ontbreek. Nou wat doen ons nou. Iemand kom toe vorendag met die blink gedagte. Sit jou bajonet op jou geweer, ryg die hengse stuk vleis om die bajonet en braai die vleis. Hier staan ons almal
om die vuur met ons gewere se lope in die vuur.

Jy het die loop met die vleis net so paar sekondes in die vuur gehou en dan weer uitgehaal om af te koel. Eindelik het ons die vleis gebraai nie maar so gaar geskroei. Dit was die lekkerste braaivleis wat ek ooit geëet het.

Na al die jare dink ek daaraan hoe stupid was ons gewees. Ons sit in ʼn oorlogsgebied, maak een helse vuur en dan staan almal om die vuur en braai vleis. Hulle kon ons seker vir kilometers vêr gesien het. As daar vyande naby aan ons was, was hulle seker te
bang om ons te kom aanval. Want het hulle seker gedink, iemand wat so stupid is om vleis te braai in die middel van ʼn stik donker nag is nie bang nie.

Die sersant het later by die Reccies (Verkenningskommando aangesluit) en is jare daarna dood op die grens.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 168 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *