Die Pelle

Met die aanvang van elke kamp staan die manne in sulke groepe rond om weer nuus uit te ruil en waar ons sommer ook stories uitgeruil het, en weer op datum gekom het met mekaar se lewens.

Die verhouding tussen mans is ingewikkeld. Maar in die weermag is daar ʼn ander soort verhouding tussen die mans. Is baie moeilik om te beskryf. Dit is amper ʼn broederlike liefde wat tussen die mans ontstaan. Een van die redes dink ek is omdat almal iets in gemeen het, naamlik die uniform. So as een man seer gekry het, het almal seer gekry.

So hier kom die manne almal weer bymekaar en gesels ʼn hond uit die bos uit. Die een vertel net na ons, na ons eerste grens kamp by die huis aangekom het, het hy die een oggend lekker deur die slaap opgestaan. Hy het so ʼn tree van sy bed af beweeg en water afgeslaan daar in sy kamer op sy mat. Hy was al so gewoond dat daar in die bos jy net so tree van jou tent af gaan staan en water afslaan. Die man het vinnig tot sy sinne gekom toe sy vrou op hom skreeu en aan hom vra wat dink hy is hy besig om te doen. Ek lag elke keer lekker as ek aan die storie dink. Dit moes baie komies gewees het.

ʼn Ander storie wat ek ook so by een van die vergaderings van pelle
gehoor het, is die een man het vertel die eerste Sondag wat hy by
die huis was, het sy ouers ʼn groot ete vir hom gereël. Nou as ek reg
kan onthou was sy pa ʼn predikant. Almal sit aan die tafel en gesels.
Die man vra toe vir iemand “Gee my asb. die sout” niemand hoor hom nie en hy vra weer. Weer hoor niemand hom nie.

Die derde keer skreeu die man “Gee my die bleddie sout”. Hy sê die mense het so stil geword dat jy ʼn speld kon hoor val. Die taal wat ons in die weermag gebruik het is nou juis nie so mooi soos wat ek dit hierbo uiteengesit het nie. Die taal wat ons gebruik het was baie rof gewees.

Na so paar weke terug loop ek een etenstyd in die dorp. Daar ry ʼn kar in die straat af en backfire. ʼn Backfire in ʼn gebied waar geboue is weergalm en klink soos ʼn kanonskoot. So ʼn ent voor my het ʼn jong man geloop. Toe die kar so backfire, slaan hy plat op die sypaadjie neer en gooi sy hande om sy kop. Na ʼn paar sekondes het die man opgestaan, bloedrooi van verleentheid. Dit is maar wat almal gedoen het as hulle skote gehoor het. Op die grond geval en die kop beskerm. Dit het so instinktief gebeur.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 103 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *